Share

Hanlie Retief gesels met Elvis Blue

Dit klínk dalk Celine Dionnerig, maar you better believe it... Elvis Blue Leef Sy Droom.

Op ’n blou Idols-vloerplakker, skaars vier herfse gelede, het Elvis Blue met ’n ster op sy T-hemp, onsekerheid in sy oë en ’n Bob Dylan-liedjie (“you ain’t seen nothing like me yet...”) sy toekoms ingesing.

Oopgesing.

Hy’s gemaak om spore te los, sing hierdie muso. Hy’s die Idol met die ­Samas, die knaap wat laas naweek twee Ghoemas gewen het en, nogal reg onder Karlien van Jaarsveld se pikante neusie die grote – Beste Album – weggeraap het vir sy CD Afrikaans.

En nou staan hy in sy vellies op Chiavelli se vreeslike Italiaanse marmerteëls in Summer Place in Hyde Park, selfoon teen die oor, die gig – so ’n korporatiewe ­mirragding – pas verby, en o daar’s geld in sy beursie en volgende week gaan hy sy oë styf toeknyp, nee sê vir shows, in die vliegtuig spring saam met sy Vicbaai-surfer-pêlle en branders tem langs warm Indonesiese strande met die “son oor sy skouers”, natvoet op sy Firewire-branderplank, met die fyn tatoe-reëltjie “maak my treë o Heer, U reis”op sy een voetbrug bruisend saam.

Dit klínk dalk Celine Dionnerig, maar you better believe it... Elvis Blue Leef Sy Droom.

“Dáár,” lag hy, “dis corny, ek weet, maar ek’t dit nou gesê.” En ons kry lekker, want sy storie is aspoestertjie van vooraf, die 30-iets wannabe wat die smaak van has-been al in sy mond gehad het, en toe wragtie, toe vang hy sy brander.

Waar’t dit als begin? Was dit op ses, agter in sy klavierjuffrou-ma se kar, toe hy by haar wou weet hoe rym ’n mens?

En toe leer sy hom net daar hoe om ’n liedjie te skryf.

Was dit slaaptyd saans as hy onder sy He-Man-duvet op sy geel Walkman luister na Laurika se eerste Afrikaanse goeters (“sy het Afrikaans so mooi laat klink”), Kerkorrel, Michael Bolton, Kylie Minogue en sy maatjie se 2 Unlimited-tapey, “no no there’s no limit...” sing hy en ons bars uit van die lag en eet nog ’n Summer Place-koekie.

Hy’t sy Walkman-batterye so pap geluister, die vroue het naderhand soos mans begin klink.

“Jy weet daai doem-doem-doem wat mens hoor as ’n tape begin... dit was net die wonderlikste klank vir my.”

Was dit toe hy, laaitie by die Hoërskool Linden, vir R30 ’n kitaar by sy klasmaat Marie gekoop het?

In daai stadium was hy naweke Chicco die Nar by die Spur in Beyers Naudé-rylaan. En toe sê sy sussie vir hom, hoorie, word ’n straatmusikant by Rosebank Mall, jy gaan baie geld maak. “En ek leer vyf liedjies, gaan sit by die paystation, want dan’t jy ’n captive audience vir twee minute, en ek skryf op ’n bordjie ek kort sakgeld vir die vakansie, en ek’s legit, ek sing ‘House of the Rising Sun’...”

En toe byt die muso-ding die jonge heer Jan Hoogendyk (sy doopnaam) behoorlik. “Ek het altyd koor gesing, en toe’s daar sulke regte rowwe ouens in die skool, en hulle sê toe vir my ek’s nou in hul band. Hulle vra nie, hulle sê. Ons naam was Koma, want dit spel amok agterstevoor.”

Maar die arme Jan het só verhoogvrees gehad, só skaam hy kon nie eens staan nie, hy moes op ’n kroegstoel sit. “Toe sê die ouens hulle’t nou ’n anner girl gekry met verhoogpersoonlikheid én sy kan bekfluitjie speel. Toe fire hulle my.

“En jis hoorie, jare later, is Karen Zoid op George en sy vertel my van haar eerste band: Koma. Toe’s sý die girl. Hulle’t my ge-fire vir Karen Zoid.”

Ná matriek se Europa-rondflenter vat sy pa, sy “cool” pa, hom een oggend na ’n musiekwinkel en sê: Koop wat jy nodig het om musiek te gaan swot.

Pa Piet Venter, jare lank Linden se Dopper-dominee, die man vir wie hy sy Idols-treffer “Things My Father Said” sing.

“My ouers is geskei toe ek só klein was,” sê hy en op sy gesig, liggies, sien jy weer die seer. “Ek moes gr. 1 twee keer doen. Massiewe impak op my gehad. Ek het onseker gevoel. So, wat ek sê, my pa is Piet Venter, die ou wat my grootgemaak het, wat my pak slae gegee het en vir my ma gesorg het, wat kans gesien het om te trou met ’n vrou met vier kinders en hulle groot te maak sonder dat een van hulle ooit voel: Ek’s nie jou kind nie.”

So.

So, toe, met die een luidspreker, die een mikrofoon en paar kabels wat hulle daardie dag in die musiekwinkel gekoop het, stadigaan, en met “die wildernis groot en my beursie leeg”, tóé arriveer sy klippekou-dae.

“Jy weet, as jy 20 is en iemand sê vir jou jy’t potensiaal, dan dink jy jy gaan die wêreld verower, jy gaan op ­Oprah kom. As jy 30 is en jy hoor dit, wil jy in die kas gaan klim en huil.”

So, waar hét dit vir Jan Hoogendyk begin deurbreek? Was dit in Elvis Blaauw se hospies-kamertjie op George?

Nee, vroeër.

“Toe ek jonger was, so 20, het my ma altyd Hillbrow toe gegaan na ’n ­hospice. My ma is so ’n tipe tannie. Sy’t my altyd gevra om haar te vat, want sy wou nie alleen ry nie. Ek wou nooit ingaan nie, altyd gesê ek wag in die kar en luister radio.

“En toe eendag, toe gaan ek in. En dit het my net daar vir altyd verander. Dit het my terselfdertyd baie sleg én baie goed laat voel. Jy verstaan wat ek probeer sê? Baie sleg oor ek so verskriklik hartseer was oor wat ek gesien het, en goed, want ek het gevoel iets binne in my verander, raak beter. Dit het my laat voel ek wil iets great doen en ek weet nie wat nie.”

Chireze, sy vrou, het bemarking vir ’n kinderhuis gedoen. En toe kom klein Faith oor hul pad. Sy’s gelos in daardie wiegie teen die los-kind-lui-klokkie-voordeur van ’n Johannesburgse kinderhuis.

“Ons het mos gesukkel nè, rêrig lank gesukkel, vir kinders. Chireze het ’n paar miskrame gehad. Faith was net, ag man, ronde wange en bokstertjies. Ons raak toe naweekouers, wou haar aanneem. Maar ongelukkig was die maatskaplike werker – sy moet hoop ek kry haar nooit in die hande nie – verby pateties.

“Nou bly Faith by haar 20-jarige niggie êrens in die stad. Die ergste is, haar niggie wou óók die kind vir ons gee.”

Chireze het kort daarna swanger geword. Lila het gekom. En toe Jua. “En eendag wil ons graag nog een aanneem.”

Hulle’t op George gaan bly, en toe hy sy oë uitvee was hy 30, met ’n paar flop-albums en dreadlocks, naweek-surfer by Vic-baai, musiek-onnie wat township-kinders kitaardrukke leer.

Sy lewe was eenvoudig, tevrede. “Ek het gedink, hei, dit kon gebeur het, my groot break, maar dit het nie, en dis ook maar oukei.”

En toe kom Elvis Blaauw, die seuntjie met die groot oë, in sy lewe. “Hy was al kind in die hospice, siek aan vigs vandat hy klein was, alleen tussen ou mense wat doodgaan. En ek was baie daar, en eintlik het ek meer by hom gekry as hy by my.

“In ’n stadium het ons vir hom ’n PlayStation geborg gekry, ’n PSP waarmee hy op sy bed kon speel. Maar toe’s hy teleurgesteld daarmee, en ek was half vies – tot dit later uitkom hy wou graag ’n grote gehad het sodat die kinders van die kinderhuis by hom kan kom speel. Hy wou net maatjies gehad het. Is dit nie verskriklik hartseer nie?”

Elvis Blaauw wou musikant word. Keyboard speel om presies te wees. En dan droom Jan saam met hom, daar op die bed, hy, die kitaar en die kind. Kom ons sê jy’s Elvis Blue, dít klink cool, nè, jou naam in die sterre.

Maar klein Elvis het ál sieker geword.

Sy ouma en oupa bly naby Stormsrivierbrug, en toe die dokter sê sy einde kom nader wou Jan hulle gaan haal, maar hy’t het nie geld gehad vir petrol nie. ’n Pastoor leen toe vir hom sy kar en hy’t die ou mense gaan oplaai, verduidelik “dit gaan nie so goed met Elvissie nie”.

“Halfpad terug George toe bel Chireze en sê hy’s pas oorlede. En ek sit met sy oupa en ouma wat hom amper nooit gesien het nie, en toe draai ons om en ek vat hulle huis toe... Ai, hoe onthou ek dit nou,” trek sy stem mineur.

Toe Jan Hoogendyk ’n jaar later in die Kaap oor die straat stap na sy Idols-oudisie besluit hy dis sy naam. Elvis Blue.

“Dis insane wat met my gebeur het.”

Dan begin hy glimlag, en die glimlag raak so wyd en so wit soos hierdie somerpaleis se hele voorportaal, want vier jaar ná Idols voel Elvis Blue steeds of hy op beddens kan rondspring, oor mikrofone kan bulder: Ek het ’n loopbaan, ek sing en mense luister.

Die hemel kan wag.


Jan Hoogendyk is Elvis Blue. | Foto: Nicolene Olckers

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
66% - 673 votes
No! It's time to move on ...
34% - 347 votes
Vote
Rand - Dollar
19.07
-0.3%
Rand - Pound
23.85
-0.2%
Rand - Euro
20.47
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.48
-0.6%
Rand - Yen
0.12
+0.4%
Platinum
931.80
+0.7%
Palladium
993.00
+0.3%
Gold
2,344.71
+0.5%
Silver
27.69
+0.9%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,154
+1.1%
All Share
75,069
+1.0%
Resource 10
62,766
+1.0%
Industrial 25
103,925
+1.4%
Financial 15
15,882
+0.5%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE