Share

Hanlie gesels met Johan (Voetspore) Badenhorst

Afrika verander teen ’n geweldige spoed, sê Johan (Voetspore) Badenhorst. Hy was sewe jaar gelede in Kinshasa. “Nou skielik is dit ’n stad met boulevards en Franse modehuise en aftel-verkeersligte.”

Hulle was al oor Afrika se rofste paaie, deur sy woestyne, op Kilimandjaro en Rwenzori se yspieke. Maar dit het ’n kronkelende stuk geheimsinnigheid geneem om Johan Badenhorst en sy Voetspore-span ingrypend te verander.

Die Kongorivier.

Van vanaand af is dit óns beurt, op ons sitkamerbanke, om saam met Johan-hulle Voetspore op die ewenaar (SABC2, 18:00) mee te maak, van die Indiese tot Atlantiese Oseaan, Kenia tot die DRK.

Saam met hulle gaan ons ons lyf ­Joseph Conrad hou, gaan ons “the horror, the horror” prewel terwyl die boot se boeg die bruin water van Afrika se hart oopkloof.

Dié reis, hul agtste, was die een wat hulle almal verander het, sê Johan.

’n Klipgooi van waar ons koffie drink in Kaapstad se Kompanjiestuin, staan ­Cecil John Rhodes mistroostig in die reën, linkerarm na die noorde uitgestrek.

Onder, uitgebeitel in klip: Your hinterland is there...

“Hinterland. Wat ’n mooi woord. Vol belofte, avontuur, drome. Gaan.”

Sy stem is diep en rustig, iets van moerkoffie, iets van kleintydstories wat jou dromerig aan die slaap kry met ’n warmwatersak tussen jou voete.

Jy hoor van volgende paaie, nuwe hinterlande, en tussen hom en sy reismaat Gideon Swart oorkant die tafel, lê Afrika se langsame ongejaagdheid.

“Ek het nou weer Conrad se Heart of Darkness gelees, en niemand kon die Kongorivier so goed vasvat soos hy nie. Op daardie rivier het ons besef wat Conrad ervaar het in die paar jaar toe hy skeepskaptein was.

“Want dis wat die Kongo aan jou doen: Hy klim in jou kop, hy gee jou g’n alternatief nie.”

Daar’s Afrika en dan’s daar die Kongo?

Dis presies só, knik hy. “Alles in die Kongo is net ’n bietjie groter en anders as in enige ander Afrikaland waar ons al was.

“Eers het ons 18 dae in Kisangani gewag vir die boot om te vertrek. Drie dae later by Bumba weer, 12 lang, leë dae se wag vir vrag.”

Jy kan nêrens nie, daar’s g’n pad nie, jy’s vasgevang tussen jou kop, die oerwoud en die rivier.

“Gideon het vir my gesê hy’t dit een dag amper verloor. Maar jy weet ook nie hóékom jy dit gaan verloor nie. Uiteindelik terug op die boot was dit ’n verligting, want hoewel ons toe nog twee weke op die rivier was, beweeg jy darem.”

Francois, een van die ander spanlede, het vir Johan ’n armband van olifanthaar gevleg as simbool van dié tog.

As Johan haastig of ongeduldig raak, dan vat hy daaraan. “Ek is nou regtig wag se baas. Dit het die Kongo my geleer.”

Reis verander ’n mens. Diep persoonlike goed gebeur met jou, sê hy. “André (Bester) het op die ewenaar 50 geword. Net voor ons klaargemaak het, is my pa oorlede. Gideon se vrou, Lisa, is ernstig siek, sy het kanker. Ons het die fantastiesste werk, maar as jy ver is... sulke dinge is nie lekker nie.

“Ek en Alma is nou 24 jaar getroud, maar sy spot en sê dis eintlik net 17, want ek’s so baie weg. Sy sou ’n week ná my terugkoms vir ons middelkind, ­Heleen, in Amerika gaan kuier. Maar toe’s ons vertraag en toe ek uiteindelik in Pretoria kom, was Alma klaar in Amerika, en Nina en Streicher by verjaardagpartytjies.

“Ek en die hond sit toe maar en kyk hoe die Griekwas teen die Leeus speel, ’n wedstryd waarby ek géén belang het nie. Ek het nogal jammer gevoel vir myself, maar hulle sê toe vir my dis my verdiende loon!”

Johan se laerskooljare was in Nongoma, Zoeloeland, waar sy pa ’n onderwyser was. Hy’t reeds op hoërskool in Empangeni begin nuus stuur vir die SAUK. Ná Tukkies en die SAUK is hy in 1990 Scholtz Films toe waar hy die Pieter Pieterse-reekse gedoen het. Dié skrywer-swerwer was Johan se inspirasie vir jare later se Voetspore.

Deur die loop van 14 jaar het sy span Afrika-in-verandering gedokumenteer.

“Afrika verander teen ’n geweldige spoed. Die Chinese rol paaie en infrastruktuur uit. Oor vyf jaar is daar ’n snelweg deur die oerwoud. Ek was sewe jaar terug in Kinshasa. Nou skielik is dit ’n stad met boulevards en Franse modehuise en aftel-verkeersligte.

“In 2005 het Ethiopiese boere met houtploeë en osse geloop. Vyf jaar later het ’n landboubedryf ontplof, daar’s trekkers en kweekhuise en dorsmasjiene.

“Jy ry in die middel van die oerwoud, en skielik kom ’n SMS: Jou vrou het R327 by die Food Lover’s Market in Pretoria uitgegee,” lag hy.

Sy Kinders van die wêreld-prentjies oor pigmeë het ’n surreële werklikheid geword toe hy saam met hulle in Epuli, in die hart van die Kongo, gaan jag het.

“Of jy stap in Gaboen oor ’n brug van gevlegte boomwortels, so ’n Tarzan-oomblik...

“Om op dié kontinent te reis, laat jou voel jy’s ’n ontdekkingsreisiger, al is jy nie Stanley of Livingstone nie.”

Hul grootste vrees in Afrika is nie gewere, leeus of mambas nie, maar motorongelukke. “As jy saans in Afrika op die pad is, soek jy jou dood.”

Maar daar wás ’n situasie met ’n twee meter lange groenmamba, en in Moremi het ’n hiëna die nag ’n pot tjips-olie kom uitlek. “En toe gaan lê hy met sy rug teen ’n tent en breek winde op.”

Oral op die kontinent loop hulle Suid-Afrikaners raak.

“As ek ’n wit mens sien, sê ek ‘môre, hoe gaan dit’, want hy’s waarskynlik Afrikaans. In die Soedan kry ons ’n SMS: Waar’s julle ouens, wil julle braai?

“Dat ek ’n wit vel het en Afrikaans praat, het ek nog nooit as negatief ervaar nie. Ons dink ons is gestigmatiseer weens apartheid, maar vir hulle is ons hul brother.”

Hul vooropgestelde idees oor Afrika is een ná die ander omgekeer. ’n Tanzaniese doeane-amptenaar het Johan op ’n keer teruggeroep omdat hy nie verklaar het hy’t ook ’n sleepwa nie. “Hy sê dit kos $20 ekstra. Omkoopgeld, dag ek, en sit die geld op die tafel neer. Ons begin gesels, hy was geïnteresseerd in ons reis, en later sê hy vir die sleepwa-belasting kan hy ‘diskresie’ gebruik. Ek groet en stap uit. By die deur roep hy my terug: ‘Excuse me sir. You forgot your $20.’

“Ek het so skaam gevoel.”

En as ’n mens byna 200 000 km deur Afrika gery het (met so 40 pap bande), weet jy wat om nié in te pak nie. “Ons het aanvanklik ’n sleepwa gehad; jy sal nie gló wat was als daarin nie. Nou ry ons met twee jerry-kanne en ’n spaarwiel op die dak.”

En ’n paar bederwe, soos moerkoffie vir Johan.

Én, voeg Gideon by, goeie reisgenote is essensieel. “Drie maande is lank, veral die laaste een.”

Drie voertuie, ses ouens. En daar’s een baas, een gesamentlike doel: die kamera. Die kere wat daar ’n ernstige meningsverskil tussen die spanlede was, kan Johan op sy een hand tel.

Streicher, Johan se seun, reis al saam vandat hy nege is. Dis ’n voorreg vir Streicher, maar vir hom wat Johan is nog groter. “Ons verstaan mekaar op ’n vlak waar ons nie regtig baie hoef te praat nie. Hy studeer nou in Stellenbosch, en as hy weer saamgaan, sê Streicher, sit hy regs voor!”

Met Voetspore het hulle ook al terdeë geleer: As dinge verkeerd gaan, hou dit áán verkeerd gaan.

By die Ethiopiese grenspos is hulle onverwags teruggestuur Pretoria toe vir visums. Op pad terug Nairobi toe van waar Johan moes terugvlieg Pretoria toe, beland die waaierband in die enjinkop. Eindtelling: waaierband 1, enjin 0.

Boonop het die nasionale park waardeur hulle moes ry die vorige twee weke vyf seisoene se reën gekry – 600 km van modder.

Maar daar, op moedverloor se (modder)vlakte, leer hulle toe weer: In Afrika kom jy altyd reg.

Die parkhoof reël ’n tipper-lorrie, met Johan se voertuig agterop, en twee Turkana-krygers wat mekaar agter die stuur aflos.

“Met André tussen hulle, ry daai twee 32 uur lank sonder stilhou, oë wawydoop van die mirrablare wat hulle kou. Al probleem: Die mirrablare werk net vir 30 uur. Daai laaste twee uur moes André gereeld die stuurwiel ’n pluk gee, want toe’s die twee Turkanas voos.”

Johan se voertuig is reggemaak, die paspoorte saamgestuur Pretoria toe, en plotseling was alles weer gaaf, lag hulle.

As hulle hul oë toemaak, en hulle dink Afrika?

Gideon: “Die Suiderkruis. My baken. Ek was nogal skrikkerig dat ek hom in die Noordelike Halfrond gaan verloor, maar snaaks genoeg, hy hou tot ver in Egipte.”

Johan: “Ek dink nogal Afrika se bate is, en dis ’n verskriklike cliché, maar dis regtig sy mense.”

Soos hul vriend Toto op die Kongo­rivier, wat sonder ’n woord Engels agter op die dek saamkuier terwyl sy vrou vir hulle mzungu-kos bring.

“Dis Swahili vir wit man: iemand wat rondhardloop asof hy dronk is. Dis oor wit mense mos nooit pad vra nie, ons jaag soos dronkies heen en weer.”

Die Voetspore-span het al baie mzungu-oomblikke gehad.

Mzungu-kos? Dis nié aap, krokodil, ’n verskeidenheid van wurms of gerookte vlermuis nie. Vir “persoonlike behoud” eet hulle niks wildvreemds nie, maar hul reiskos is deesdae byna uitsluitlik uit Afrika se spens, en Whitey Basson se Shoprites wat jy oral begin kry.

September steek hulle weer die Amarokke se neuse noord, op met die Skeurvallei tot by Petra in Jordanië. “Dié keer, nog ’n eerste, buite Afrika.”

Johan is juis nou vir dié reis aan’t beplan in hul weggesteekte-huis-in-’n-bos in Mooikloof, Pretoria. Tussendeur doen hy ander projekte, soos die musiekblyspel Stuur groete aan Mannetjies Roux, waarvan hy vervaardiger was. Hy, Dana Snyman, Johan Bakkes en Valiant Swart is ook gereeld saam op die verhoog. Daar’s die Voetspore-winkel, ekspo’s, boeke wat geskryf word – Voetspore is teen dié tyd ’n handelsnaam.

Hy wys vir my foto’s op sy iPhone, en ons reis met vingerdrukke verby Egipte se piramides en die wit woestyn, waar ’n woestynvos ons vir ’n oomblik stil uit die selfoonprentjie aankyk.

Jy kom daar en jy voel of jy dit ontdek, sê hy.

En sy oë is vol versugting.


Johan Badenhorst by die gedenkplaat vir David Livingstone op die plek waar hy dood is in Zambië.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 425 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 901 votes
Vote
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent-ruolie
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE