’n Paar interessante woorde vandag. ’n Geliefkoosde een is hittete, wat hardop gesê moet word. Klink soos ’n ou skedonk wat in die donker voor ’n groot afgrond tot stilstand ruk, dan is dit mos so hittete of jy stort by daai dieptes af!
Dis hoeka ’n leser, Pierre de Vos, wat my aan dié woord herinner het. Hy sê hy sou dit so gebruik: “Dit was so hittete of Jacob Zuma het tereggestaan op meer as 700 aanklagte van korrupsie en bedrog.” Of: “Dit was so hittete of ek het my humeur op Twitter verloor en met iemand begin argumenteer, terwyl ek goed weet dit het nie sin om ’n argument op Twitter te voer nie.”
Die skrywer Linda Rode het van ’n neologisme laat hoor, naamlik mondklippie. Sy verduidelik: “Dis iets soos ’n lekker woordgeskenkie of sêdingetjie, lekker in die mond, kan jy maar sê. “Ek vermoed dis half my eie maaksel, half omdat ek by die Namakwalander Colla Swart, wat ek nooit ontmoet het nie maar eendag oor die telefoon mee gepraat het – baie lank gelede – gehoor het van mondlekker woorde.
“En dan speel daar seker iets saam van die ou veldgewoonte om ’n ronde klippie in die mond te sit (te suig, met ander woorde) as jy baie dors is en die water lê nog ver. (Mos op ’n plaas grootgeword.) Wonderlik hoe woorde sommerso uit jou onbewuste en uit jou woordgeheue voortkom, dikwels dan in ’n ander, ‘saamgestelde’ vorm.
“Hier is vir jou ’n mondklippie: Jare terug gesels ek met oom Steyn Steenkamp in Calvinia. Vra hom uit oor Noordweste-woorde en name van veldplante. ‘Maar weet ek wat temmerluitjies is’ vra hy. Oë vonkel van plesier. ‘Nee, nooit gehoor nie.’
“ ‘So Septembermaand se kant,’ sê hy, ‘hoor jy die kikkertjies (paddas) kliphard in die vleierige dele as ’n goeie reëntjie daardie jaar geval het. Nou dis wat die mense bedoel as hulle van die temmerluitjies praat. Septembergeluidjies!”
Esmarie Theron van Somerset-Wes laat ook van haar hoor: “Ek kan dit nie verduur as die woorde proe en smaak verkeerd gebruik word nie. Amper al die tydskrifte en koerante in hul resepte gebruik dit verkeerd.
“Voer ek ’n verlore stryd en word dit nou maar aanvaar as korrek? Ek sal so bly wees as jy lig op die saak kan werp,” sê sy.
Ek het in Dalene Müller en Sebastian Pistor se Skryf Afrikaans van A to Z gaan kyk: “Die Engelse werkwoord taste is in Afrikaans proe in die sin ‘ek proe iets’, en smaak in die sin ‘iets smaak lekker’, maar die kos proe heerlik is al so ingeburger dat proe maar soms as sinoniem vir smaak toegelaat kan word, solank dit nie smaak verdring nie.
“Proe is ietwat meer gemoedelik en informeel.”
Nou ja, smaaklike Sondagete, ek hoop dit proe lekker!