Die meeste is esteties heel aanvallend, party ruik ongelooflik lekker en sommige het ’n wonderlike tekstuur, veral wanneer dit in jou keel afgly, maar uiteindelik moet ek bieg, die goed staan my net nie aan nie.
Jy kry natuurlik met en sonder hare, maar ek glo nie dis wat my die meeste afsit nie. Dis meer die teleurstelling van iets wat groot belofte toon, klaarblyklik gesond is en heel maklik bekombaar, maar nooit regtig voldoen aan die verwagtinge nie.
Wat my ook irriteer, is dat almal daaraan vat. Party mense ruik daaraan, maar die meeste druk daaraan om te sien of dit al reg is. Al weet hulle die enigste manier om te bepaal of dit enigsins die moeite werd is, is om dit in jou mond te sit.
Nog ’n probleem is dat dit so gou sleg word. Darem nie almal nie, party bly eenvoudig kliphard en is heeltemal smaakloos. Ander weer moet jy presies op die regte oomblik kry, anders sit jy met maagkrampe of ’n skeelhoofpyn. En van ’n pap een bly jy ver weg.
Die goed is natuurlik baie bedrieglik. Dis lok jou uit, verlei jou en uiteindelik swig jy, want iewers eendag het jy een gehad wat jou eindelose plesier verskaf het. Dit herinner my, die beste wat ek nog oor my lippe gehad het, was in Griekeland. Daar kry jy feitlik nooit ’n slegte een nie.
Ek moet erken, in Griekeland kon ek nie genoeg van die goed kry nie. Eintlik het ek dit ’n bietjie oordoen, in so ’n mate dat my hele gesig soms taai was. Ek weet nie of die Grieke iets weet wat ons nie weet nie, maar hulle het baie om op trots te wees.
Ek was natuurlik nog altyd meer ontvanklik vir die meer eksotiese variëteite, maar dit gesê, in ’n plek soos Indië sou ek nie maklik my mond daaraan sit nie. Jy kan dit seker afspoel en oë toeknyp, maar dit bly ’n waagstuk. In Bangkok het ek soms in die laataand, wanneer ek op pad terug is huis toe ná ’n heerlike massering, voor een geswig.
Ag nee wat, dis nie asof ek iemand aanstoot gee as ek dit van die hand wys nie. Dis dalk nie ’n algemene verskynsel nie, maar ek is beslis nie die enigste mens wat nie van vrugte hou nie.