Ma en Pa se manier om vir jou te sê dat listige Lettie met die love bites en dowwe Daantjie wat al op tien begin Texan Plain rook het, darem nie is hoe hulle jóú grootgemaak het nie.
Maar deur die jare begin jy jou eie kop volg en voel meestal aangetrokke tot mense wat met dieselfde oë na die lewe kyk as jy. Jy sluit hegte vriendskappe wat die toets van tyd sal deurstaan, ander sneuwel om verskeie redes langs die pad. Want soos nóg ’n uitdrukking sê, mense kom in jou lewe vir ’n rede, ’n seisoen of ’n leeftyd.
Om te trek is ’n toets wat min vriendskappe deurstaan. Dis ook ’n manier om te bepaal wie regtig lojaal is en vir wie dit net te veel moeite is om kontak te hou.
En as die plek waarheen jy trek Kaapstad is, ’n stad bekend daarom dat sy inwoners nie besonder gasvry is en nuwe intrekkers met ope arms ontvang nie, kan jy nie te uitsoekerig wees nie. Jy sal noodgedwonge nou en dan ’n uitnodiging aanvaar wat jou later laat wonder of dit nie meer opwindend sou wees om tuis te bly en mussies vir jou wasgoedpennetjies te brei nie.
’n Vriend se nuwe meisie, ietwat eksentriek en deur die blare, hou ’n visbraai en jy is op die gastelys.
Jy het al saam met Muizenberg se bejaardes in ’n bus blomme gaan kyk en een yskoue Desemberaand die Kersliggies by ’n ouetehuis in Plumstead gaan besigtig, so jy is voorbereid op die onbekende.
Jy neem plaas in die enigste leë tuinstoel wat heeltyd voel of dit agteroor wil neuk. ’n Vurige Amerikaanse rooikop wat met ’n sendeling getroud is, maar later sê daar is niks mooier as twee vroue wat vry nie, maak verskoning dat sy so baie praat, maar bly nie vir ’n oomblik stil nie.
Dan is daar die jongman wat ’n sportsoort beoefen wat behels dat jy op kranse hardloop en verduidelik hy doen dit omdat daar net te veel ure in ’n dag is en sy hemp uittrek om sy littekens én sy sespak te wys.
’n Russiese narkotiseur gesels hartlik saam, maar niemand verstaan ’n woord wat hy sê nie.
En ’n werklose, kaalvoet man met lang, grys spookasem-hare sit dwarsdeur die partytjie en mediteer.
Onderweg huis toe kyk ek hoe die beeldskone volmaan se lig oor die see val.
Ten minste is daar vanaand net ’n geelstert geoffer.