Dié waarskuwing van die 19de-eeuse Franse ekonoom Frédéric Bastiat werp ’n onheilspellende lig op die onlangse sanksies tussen Rusland, Europa en die VSA.
Op 28 April het die VSA ’n verbod op handel met sekere Russe en Russiese maatskappye aangekondig. Die Europese Unie het gevolg. Dié handelsverbod is intussen uitgebrei. Verlede week het Wladimir Poetin en die Kremlin teruggeslaan. Die invoer van landbouprodukte uit lande met sanksies teen Rusland is vir ten minste ’n jaar verbied.
Dié heen-en-weer-sanksies word aan die hand van buitelandse beleid gemotiveer. Die idee is dat die teikenland dit as ’n strafmaatreël ervaar; dat dit tot politieke toegewings lei. Nie verniet nie, dus, word sanksies soms as ’n oorlogsdaad bestempel.
Sanksies het ’n lang en hartseer geskiedenis van min of geen verband met politieke verbetering nie. ’n Mens dink aan Kuba, Noord-Korea, Irak, Iran en ander waar ou regimes in plek bly of deur twyfelagtige nuwes vervang word.
Ook teenoor Suid-Afrika voor 1994 was sanksies teenproduktief.
As die ekonomies meer heldere staatshoofde soos Margaret Thatcher van Brittanje en Ronald Reagan van die VSA hulle nie teen sanksies verset het nie, sou die skade selfs erger gewees het. In China was dit byvoorbeeld juis die Amerikaanse president Richard Nixon se verslapping van handelsbeperkinge in 1972 wat die Chinese groei en politieke verligting sedertdien aangehelp het.
Seker die langslopende ekonomiese sanksie vandag is dié van die VSA teen Kuba, ingestel in 1960. Vir jare al word slegs uitsonderlike items soos kos deurgelaat, maar ook dit sukkel omdat vir alles kontant betaal moet word.
Ná meer as ’n halfeeu speel ’n Castro steeds eerste viool. Al wat die sanksies vermag het, is om Kuba ’n veel armer plek te maak en die sterkes in plek te hou. Sanksies het die opposisie die hardste geslaan. Hulle het meer afhanklik van die regering se voorsieningskanale geword en die vernietiging van handelsbande het terselfdertyd intellektuele afsondering en anti-Amerikaanse sentiment versterk.
Wat van die gevolge vir die VSA? Die impak op die aanvallende land word dikwels misgekyk.
Die eerste gevolg is dat Amerikaners ook armer is. Nie soveel soos die Kubane nie, maar beslis armer. Handel is immers ’n tweerigtingaktiwiteit – albei partye hoop om wins te maak. As jy die uitvoer van ’n Amerikaanse kar na Kuba verbied, verbied jy terselfdertyd die invoer van geld uit Kuba. Geld, wat weer meer rykdom en beter indiensneming in die VSA sou beteken.
Die tweede gevolg is maatskaplike ontwrigting. The Economist reken dat daar nou sowat 1,2 miljoen mense van Kubaanse oorsprong in Miami in Amerika woon waarvan 400 000 sedert 1980 aangekom het. Dit is 400 000 Kubane wat van die ellende op hul eiland gevlug het.
Sulke skielike bevolkingsmigrasies bring groot kulturele veranderinge in gasheerlande teweeg wat nie altyd welkom is of gemaklik geskied nie.
Gegee die geskiedenis van sanksiemislukkings is die toedrag van sake tussen Rusland, die EU en die VSA kommerwekkend. As die sanksies lank genoeg aanhou, sal dit later óf militêre weermagte óf weermagte van burgerlike vlugtelinge wees wat die grense oorsteek.