Die sneller het hy self getrek. In die kamer langsaan: Sy seun Luke (7) en sy vrou, Carin, wat heelnag by hom gewaak het. Verdi se Aïda het gespeel.
Mario Oriani-Ambrosini, die gerekende regsgeleerde en IVP-LP, het op die oggend van Saterdag 16 Augustus gewelddadig gesterf. Hy is deur pynlike kanker gefolter. Uithou kon hy net nie meer nie (“Vaarwel kon mooier wees”, Rapport, 21 September).
Had hy ander opsies?
Ambrosini kon ’n dokter gevra het om hom met waardigheid te help sterf. Maar ’n arts wat iemand aktief help sterf, kan skuldig bevind word aan strafbare manslag, poging tot moord of selfs moord.
Dit kan tog nie reg wees nie.
In 1998 het die Suid-Afrikaanse regskommissie die verslag “Projek 86” aan die destydse minister van justisie, Dullah Omar, oorhandig. In die verslag word die reg van sterwende pasiënte erken om lewensverlengende behandeling te weier, asook die reg van dokters om pyn te verlig met medikasie wat iemand se lewe kan verkort.
Die kommissie is oorval met bydraes. “Die lewe is heilig,” het sommige gesê. “Aktiewe genadedood sal die aansporing verwyder om medikasie te ontwikkel wat dodelike siektes kan genees,” is ook gehoor. Maar ook: “Pasiënte is outonoom en moet kan kies hoe hulle sterf.”
Weens vrese vir misbruik van die reg om iemand anders te help sterf – iets wat in al hoe meer Westerse lande wettig is – en erge konflik tussen Suid-Afrikaners oor wat reg en verkeerd is, het die kommissie eenparig besluit wat hulle moet doen aan die huidige regsposisie: Niks.
Dit is waarom Sean Davison, die professor wat sy terminaal siek ma gehelp het om haar lewe met waardigheid te beëindig, wéér aangekla kan word van ’n Oscar Pistorius-agtige misdaad ná sy terugkeer die afgelope week uit Amerika, want by ’n konferensie in Chicago het hy gesê hy het nóg iemand help sterf.
Dr. Anrich Burger (43), ’n gewilde dokter wie se advies ook op Health24 verskyn het, is op 2 November 2013 dood. Sy dood is nooit verklaar nie.
Ons het net geweet hy was ná ’n motorongeluk in Botswana in 2005 ’n kwadrupleeg.
Verlede week het Davison onthul hy was deel van Burger se “plan” om te sterf. Hy weet daar kan teen hom opgetree word deur mense wat nooit enige belang in Burger se lewe gehad het nie, wat nie vir hom help sorg het nie, en wat nie ’n benul het wat in Burger se kop aangegaan het nie.
Daar is dié wat sal sê daar kleef nooit enige waardigheid aan die dood nie, of dat ons klem eintlik op die verkeerde plek val.
In How We Die skryf Sherwin Nuland: “Die grootste waardigheid wat jy in die dood kan vind, is die waardigheid van die lewe wat dit voorafgaan... Vir sterwende pasiënte sal die hoop op genesing altyd uiteindelik vals blyk te wees, en selfs van die hoop op verligting kom daar soms niks.
“Wanneer my tyd kom, sal ek hoop probeer vind in die wete dat sover moontlik ek nie toegelaat sal word om onnodig te ly of onderwerp sal word aan onnodige pogings om my lewe te verleng nie; ek sal dit soek in die sekerheid dat ek nie gelos sal word om alleen te sterf nie; ek soek dit nou in hoe ek leef sodat hulle wat waardeer wat ek is, gelaat sal word met warm herinneringe aan wat ons vir mekaar beteken het.”
Ons kan nie bekostig om in ’n land met soveel lyding en kriminaliteit ’n misdadiger te maak van iemand soos Davison nie. Dis nie ander se lewe wat hy probeer verkort nie; eintlik maar net die sterwensproses.
As Ambrosini hom maar net geken het.Lees ons drie wyses se mening oor genadedood hier. Stuur dan 'n brief na briewe@rapport.co.za.