Honderdmiljoene rande is daarmee heen en die Reserwebank betree die kleinhandelbankwese – alles te danke aan African Bank, wat ’n week gelede sy alie gesien het.
Wat kan ons daaruit leer?
’n Bank se basiese werking is soos volg: Aandeelhouers verskaf die aanvanklike kapitaal, maar daarna leen hy die deposito’s wat hy kry aan sy leners. Die verskil in die rente wat hy deposante betaal en van leners ontvang, is sy wins.
Soos enige maatskappy het African Bank risiko’s geloop. Maar ongelukkig het hy te veel aan leners geleen wat hom nie kon terugbetaal nie.
Aanvanklik het die bank vet winste gemaak, want die koers waarteen hy uitgeleen het, was baie hoër as die koers waarteen hy geleen het. Onvermydelik beteken groot opbrengste ook groot risiko.
Onder sulke omstandighede is die normale verloop van sake eenvoudig. Eers verloor die aandeelhouers hul kapitaal, wat inderdaad gebeur het. Wat daarna veronderstel is om te gebeur, is dat deposante hul geld begin verloor, maar hiervoor was die Reserwebank nie te vinde nie, en verlede naweek het hy die belangrikste rolspelers op ’n knop gejaag om te red wat te redde was.
Eerstens is besluit dat die groothandeldeposante ’n verlies moet ly. ’n Groothandeldeposant is tipies ’n geldmarkfonds. Die ooreengekome verlies vir dié wat geld aan African Bank geleen het, is 10%. Mense wat geld in geldmarkfondse het, het die afgelope week gehoor dat ’n gedeelte van hul geldmarkbelegging se waarde verminder is.
Tweedens is besluit dat alle kleinhandeldeposante al hul geld sal terugkry. Hou in gedagte dat elke persoon of instelling veronderstel is om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy eie dade. Indien iemand ’n swak beleggingsbesluit neem – of dit nou ’n belegging in ’n goudmyn in die Kongo of ’n geldmarkbelegging is – moet hy pa staan daarvoor.
Deposante word nou deur die Reserwebank beskerm, want daar is altyd die gevaar dat dit andersins ’n stormloop na (veral kleiner) banke kan ontketen.
Maar daar is nou ’n ander gevaar. Met sy optrede het die Reserwebank gewys dat deposante in die toekoms teen hul eie swak oordeel beskerm sal word. Die gevolg daarvan is dat deposante in die toekoms groter risiko’s sal loop, want ons weet mos dat Groot Boetie ons sal kom red. Dit sal lei tot swak sakebesluite en die swak toekenning van skaars hulpbronne in die ekonomie.
Nog ’n probleem is dat die Reserwebank, wat toesig hou oor banke, nou skeidsregter en rolspeler is.
Wat was die alternatief? Indien die Reserwebank nie tot die treurmare toegetree het nie, sou baie meer mense geld verloor het en kon die bankstelsel ’n ernstige knou gekry het. Maar ten minste sou ons almal ’n belangrike les geleer het.
Intussen is deposante beskerm ten koste van die belastingbetaler en die les is steeds nie geleer nie.
Wat ’n nes!
Dawie Roodt is hoofekonoom van Efficient Group, dawieroodt@efgroup.co.za