Share

African Bank: Alles rafel eensklaps uit

Fondsbestuurders het in die afgelope week kopgekrap oor omdat dinge so vinnig by African Bank uitgerafel het.

In die paar dae nadat hy Woensdag ’n week en ’n half gelede aangekondig het dat hy in die jaar tot einde September ’n verlies van miljarde rande gaan ly, het sy aandeelprys in duie gestort, het die Reserwebank ’n noodreddingsplan opgestel en is hy onder kuratele geplaas.

Die reuse-fondsbestuurder Coronation, wat twee weke gelede nog die grootste aandeelhouer in African Bank was, het sy kliënte om verskoning gevra vir die verlies wat gely is weens die belegging.

Karl Leinberger, beleggingshoof, en Neville Chester, senior portefeuljebestuurder, het in ’n brief verduidelik hoekom hulle besluit het om hul belang in African Bank in 2013 soveel te vergroot: “Ons siening was dat African Bank ’n verantwoordelike kredietverskaffer is en dat hy een van min sal wees wat die huidige afswaai in die mark sal oorleef...”

Die fondsbestuurder van een van die grootste aandeelhouers sê prontuit: “Die bestuur het vir ons gelieg.”

African Bank se aandeelprys het gehalveer voor ’n regte-uitgifte in Desember 2013 om meer as R5 miljard van aandeelhouers in te samel.

“Die bestuur het ’n oortuigende argument gemaak dat die regte-uitgifte die geleentheid skep om ten volle voorsiening vir slegte kliënteskuld te maak en hul foute agter te laat...”

“Ons het tot die slotsom gekom dat die bestuurspan pynlike lesse geleer het en dat die onderneming nou reg is om die afswaai te oorleef.

“Coronation het die regte-uitgifte ondersteun en dit gebruik om ’n betekenisvolle belang in die bank te bou.”

Die fondsbestuurder sê die “geouditeerde rekeninge” is bekyk om wanvoorstellings te identifiseer. Daar is ook op die ervaring van African Bank se bestuurspan staatgemaak asook die ontledings van die bestuur oor die vertoning van die kliënteleningsboek.

“Ons is egter op die ou einde verkeerd bewys. As buitestanders weet ons nog nie hoekom die kliënteskuldboek soveel swakker gevaar het as in die voorstellings wat die bestuur gemaak het nie.”

Ander beleggers het in die afgelope week gesê hulle het nog onlangs in sy vaste deposito’s belê wat in September terugbetaalbaar is. Toe was dié skuldbriewe nog van beleggingsgraad.

“Abil het onlangs ’n kapitaalinsameling gehad wat sy balansstaat versterk het... die bestuur het aangedui dat die bank in die tweede helfte van vanjaar weer winsgewend sou wees.

“Soos die grootste deel van die mark was ons verbaas oor en teleurgesteld met die handelsoorsig van 6 Augustus waarin bekend gemaak is dat die slegte skuld baie erger as verwag was,” het Paul Hutchinson, hoof van Cadiz se kleinhandelsake, gesê.

Conrad Wood, hoof van vasterentebeleggings van Momentum, sê gebeure by African Bank het so verstommend vinnig uitgerafel dat dit baie beleggers onkant betrap het.

Wood sê by terugskouing was daar baie waarskuwingstekens, soos die belegging in Ellerine, hoe die bestuur fokus verloor het, hoe risiko bestuur is en hoe die skuldboek gegroei het.

Van 2010 tot 2012 het die hoeveelheid ongesekureerde krediet (krediet waarvoor mense nie bates nodig het nie) wat in Suid-Afrika per kwartaal toegestaan is, skerp gestyg.

Begin 2009 is net sowat R8 miljard se persoonlike lenings per kwartaal toegestaan. Einde 2012 was die syfer nader aan R30 miljard per kwartaal.

Waarnemers het al hoe meer gewaarsku oor ’n moontlike skuldborrel.

“Die onderliggende mark het egter nie soveel groter geword nie. Dit was nie asof daar 5 miljoen meer mense met vaste betrekkings was as begin 2009 nie,” het iemand in die bedryf verduidelik. “Dit was amper vier keer die hoeveelheid krediet wat ingestoot is in die mark, en dit was in ’n baie kort tyd, nie ’n tienjaar-tydperk nie.”

Mgcinisihlalo Jordan, die Deloitte-vennoot wat sedert 2010 Abil se ouditeursverslae afteken, sê hy mag vanweë “kliëntevertroulikheid” nie kommentaar lewer nie.

Bernard Agulhas van die onafhanklike reguleringsowerheid vir ouditeurs, sê “geen aanmeldbare onreëlmatighede is deur Abil-ouditeure aangemeld nie”.

Tom Winterboer, kurator, sê hy het wel die afgelope paar dae met die ouditeurs vergader.


Absa-fonds verduidelik hoekom geld afgetrek is


“Dis met skok dat ek verneem dat Absa my geldmarkfonds debiteer vir sy swak belegging in African Bank. Hy het geen mandaat van my om dit te doen nie.”

Só lui een van die briewe van woedende lesers wat die afgelope week ingestroom het oor hul beleggings in geldmarkfondse.

Absa se geldmarkfonds – die grootste in die land met bates van R52,3 miljard – is meestal aan die ontvangkant van die kritiek. Woensdagaand het Fitch hom afgegradeer weens die impak wat African Bank op hom het.

Die kapitaalverlies wat beleggers die afgelope week in geldmarkfondse gely het, het die persepsie verander dat so iets onmoontlik is. “Ons was altyd onder die indruk dat dit nie kan gebeur nie,” sê ’n leser.

Weens die reaksie van beleggers het Absa Vrydagmiddag laat aangekondig dat hy die skuldinstrumente by die geldmarkfonds gekoop het en dat die fonds nou geen blootstelling meer aan African Bank het nie.

Willie Lategan, uitvoerende hoof van welvaart, beleggingsbestuur en versekering van Barclays Africa, sê dit gee beleggers groter sekerheid.

Die kurator het diskresie met die betaling van rente en kapitaal (wat die vervaldatum bereik) gehad, en Donderdag het hy aangekondig dat rente en kapitaalbetalings opgeskort word.

Leon Campher, uitvoerende hoof van die vereniging vir spaar en beleggings (Asisa), sê kapitaal word nie gewaarborg in geldmarkfondse nie. Dit word in die inligting van fondse so gestel. “Dit is nie soos ’n bankdeposito nie.”

Dit is waarskynlik die eerste keer in die geskiedenis van geldmarkfondse in Suid-Afrika dat beleggers ’n kapitaalverlies ly, sê hy.

“Dit was ’n buitengewone gebeurtenis, die eerste in sy soort sedert die aanvang van geldmarkfondse,” het Armien Tyer, hoof van beleggings van Absa welvaart en beleggingsbestuur, gesê.

Dié fonds het verlede Vrydag blootstelling van 3% of R1,67 miljard aan African Bank gehad. Die geldmarkfonds se ander beleggings is in rentedraende-skuldinstrumente van die topvyf banke belê.

Tyer sê die Raad op Finansiële Dienste (RFD) het Maandag ’n omsendbrief aan die batebestuursbedryf gestuur om leiding te gee met die afskrywing van die belegging. Die impak was dieselfde vir gewone en institusionele beleggers in die fonds.

Die geldmarkfonds se waarde is met 0,31 persentasiepunt (of 31,6 basispunte) verminder. Die berekening is gegrond op die Reserwebank se aankondiging Sondag dat alle skuldbriefhouers se beleggings met 10% afgeskryf moet word.

Volgens die RFD-omsendbrief moes die afskrywing Maandag gedoen word. Weens die tydsbeperking is kliënte van die aftrekkings in kennis gestel op die dag waarop dit plaasgevind het.

Die afskrywings moes eerstens gedoen word teen een dag se rente wat die fonds verdien het.

By baie geldmarkfondse was die afskrywingsbedrag meer as ’n dag se rente en moes hulle ook eenhede kanselleer.

’n Fondsbestuurder van een van die grootste geldmarkfondse in die land sê daar is groot onsekerheid oor hoe die totale blootstelling aan African Bank binne die fondse gehanteer moet word.

Fondsbestuurders het ’n plig om bestaande en nuwe beleggers en dié wat die fonds verlaat, dieselfde te hanteer. Die probleem is as beleggers hul geld aan ’n geldmarkfonds begin onttrek – dan word dié wat agterbly in die fonds se blootstelling aan African Bank groter.

Een opsie is om ’n “kantsak-portefeulje’’ te skep vir die African Bank-instrumente. Elke eenheidshouer van die geldmarkfonds sal dan in dié portefeulje, en die bestaande een, eenhede hou.

 

Verloop van gebeure by die genoteerde African Bank (Abil) die afgelope twee weke:

 

Woensdag 6 Augustus:

* Abil skok die mark met ’n handelsoorsig wat toon hy verwag ’n verlies van miljarde rande in die jaar tot einde September. Dit is weens die afskrywings en voorsienings vir oninvorderbare kliënteskuld wat baie erger is as wat voorheen gesê is.

* Leon Kirkinis, uitvoerende hoof en ’n stigter van Abil, se bedanking met onmiddellike effek word aangekondig.

* Abil se aandeelprys val 60% van R6,88 tot R2,90.

* Die Reserwebank reik in ’n ongewone stap ’n persverklaring uit en sê die situasie word dopgehou en dat die res van die banksektor veilig is.

Donderdag 7 Augustus:

* Ellerines, wat Abil in 2008 vir amper R10 miljard bekom het, word in sakeredding geplaas omdat dié maatskappy nie langer vir sy verliese wil opdok nie. Duisende mense werk vir die meubelhandelaar.

* Abil se aandeelprys val 80% tot 57c.

Vrydag 8 Augustus:

* Abil se aandeelprys val met nog verder tot net bo 30c.

Sondag 10 Augustus:

* Die Reserwebank kondig vieruur die middag aan African Bank (die bank-afdeling) van Abil word in kuratele geplaas.

* ’n Noodreddingsplan word aangekondig wat behels dat die Reserwebank R7 miljard bydrae en die private sektor (die vyf groot banke, die Openbare Beleggingskorporasie en Capitec) R10 miljard bydrae. Dit sluit in dat skuldbrief-beleggers 10% van hul belegging in die bank moet afskryf.

Maandag 11 Augustus:

* Die verhandeling van African Bank se aandele en skuldinstrumente op die JSE word opgeskort.

* Die Raad op Finansiële Dienste (RFD) reik ’n omsendbrief aan die batebestuursbedryf uit om aan te dui hoe die afskrywing van 10% hanteer moet word. Die afskrywing moet 11 Augustus plaasvind.

Dinsdag 12 Augustus:

* Baie geldmarkfonds-beleggers word wakker met minder geld in hul geldmarkfonds-rekeninge. Coronation en Allan Gray reik kommunikasie aan hul beleggers uit om hulle in te lig hoeveel fondse in African Bank se aandele en skuldinstrumente belê was en wat die impak is.

Woensdag 13 Augustus:

* Die internasionale kredietgradeerder Fitch verlaag die kredietgradering op Absa se geldmarkfonds om die impak te toon wat die blootstelling van African Bank het. Ses ander fondse wat geldmarkfondse en vaste-rentefondse insluit word op ’n afgraderingswaglys geplaas.

Donderdag 14 Augustus:

* Moody’s gradeer African Bank se skuldbriewe af oor die verwagte verlies wat skuldbriefhouers gaan ly en plaas dit op die waglys vir verdere afgradering as die Reserwebank se plan skeefloop en meer verlies gely kan word.

* Die kurator van African Bank kondig meer detail op Sens aan oor hoe gewone depositohouers; handelskrediteure en seniorskuldbriefhouers hanteer gaan word. Rentebetalings op skuldbriewe word gestop vir die duur van die kuratele.

 

NKR ‘moes lankal ingegryp het’

 

Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) moes lánkal by African Bank ingegryp het, is in die afgelope week gesê.

Peter Attard Montalto, ’n ontleder van Nomura, sê die NKR moes reeds in 2011 en 2012 ingegryp het toe daar sprake daarvan was dat “roekelose” kredietverskaffing begin opbou het.

“Die Reserwebank moes waarskynlik ook die aankoop van Ellerine afgekeur het,” meen hy. “In die algemeen was daar ’n duidelike gebrek by alle beheerowerhede om hul man te staan teen die leierskap van Abil oor sy sakemodel.”

Die skuldberadingsgroep The Debt Counselling Industry Portal (DCI.co.za) meen die skuldborrel waaroor die afgelope jare gewaarsku is, het nou gebars.

Die NKR het in 2013 bevind een van African Bank se takke het roekeloos geld geleen aan kliënte. Die bank is uiteindelik met R20 miljoen beboet vir die oortreding van bepalinge in die Nasionale Kredietwet oor roekelose lenings.

Deborah Solomon, ’n skuldberader en stigter van die DCI.co.za, sê die NKR het ’n groot fout gemaak om nie toe reeds ’n volskaalse ondersoek na die kredietverskaffingspraktyke by die bank se 630 takke te begin nie. Sy meen die aanvanklike boete, wat van R300 miljoen tot R20 miljoen verminder is, was net ’n “raps op die vingers”.

Sy sê skuldberaders het die afgelope jare “duisende klagtes” oor kredietverskaffers, insluitend African Bank, by die NKR ingedien. Baie daarvan hou met roekelose kredietverskaffing verband.

“Ons doen ’n beroep op die regering om ’n hoëvlak-ondersoek te doen na hoekom die NKR nie sy werk behoorlik gedoen het nie.

“Roekelose lenings het ’n vernietigende uitwerking op miljoene verbruikers en daar is hartverskeurende gevalle van mense wat selfmoord gepleeg het en gesinne wat behoeftig gelaat is.”

Die NKR het in ’n verklaring gesê hy praat al geruime tyd met African Bank oor sy kredietverskaffingspraktyke en die impak daarvan op verbruikers. “Verbruikers se skuldlas word nie net deur roekelose lenings veroorsaak nie, maar ook deur mikro- en makro-ekonomiese faktore wat ’n direkte impak het op die terugbetalingsvermoë van verbruikers,” sê die NKR.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
31% - 475 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
69% - 1039 votes
Vote
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent Crude
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE