Só waarsku prof. Harald Winkler van die Universiteit van Kaapstad se energienavorsingsentrum oor die Australiese regering se besluit om hul koolstofheffing te skrap net twee jaar nadat dit ingestel is.
Winkler verwag dat Suid-Afrikaners wat gekant is teen ’n plaaslike koolstofbelasting, dit as ammunisie sal gebruik in hul argumente.
Prof. Philip Lloyd van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se energie-instituut sê byvoorbeeld enige koolstofbelasting is ’n slegte idee.
Maar Winkler sê die Australiese skema was goed opgestel. “Om dit op politieke gronde teen te staan, ignoreer jy die werklikheid van klimaatsverandering. ’n Koolstofbelasting is ’n kernmanier om kweekhuisgasse te verminder, en ons s’n moet goed opgestel wees.”
Lloyd sê die tesourie se plan om teen 2016 met ’n belasting van R120 per ton koolsuurgas te begin, is “absoluut gek”. Op die Europese Unie (EU) se koolstofmark verhandel ’n koolstofkrediet van 1 ton koolsuurgas of ekwivalente kweekhuisgas nou vir €4 (R57). Volgens Lloyd het die EU se koolstofmark hulle ook miljarde rande aan BTW-bedrog in koolstofverhandeling gekos.
Winkler sê R120 is steeds laag, maar die inkomste van so ’n belasting moet gebruik word om seker te maak armes kry ’n netto voordeel en dat bedrywe gesteun word wat werklik sukkel om die oorgang na ’n laekoolstof-ekonomie te maak.
’n Koolstofbelasting sal volgens Lloyd Suid-Afrika nie help om die teikens vir kweekhuisgasverminderings wat pres. Jacob Zuma in 2009 op die internasionale klimaatberaad in Kopenhagen gestel het, vinniger of goedkoper te haal nie. Die voorwaarde vir dié teikens was boonop dat Suid-Afrika geldhulp van oorsee kry om dit te haal, en daar het nog niks daarvan gekom nie.
Tony Abbott, premier, het volgens Bloomberg van Australië die eerste land gemaak wat ’n markbenadering in die stryd teen klimaatsverandering laat vaar. Australië is per capita die grootste besoedelaar van die ryk nywerheidslande. Hy is binnekort gasheer vir die G20-beraad, en Amerika en Europa wil klimaatbeleid op die agenda hê.
Terwyl drukgroepe en opposisiepolitici Abbott met kritiek peper oor wat hulle ’n terugwaartse stap noem, is Suid-Korea ook bekommerd oor sy eie planne. Volgens Reuters meen die minister van finansies die koolstofmark, wat in 2015 begin, het baie foute. Japan en Kanada het ook al húl teikens verwater.
Abbott het in 2009 klimaatwetenskap (wat aanvoer klimaatsverandering word grootliks deur die mens se vrystelling van kweekhuisgasse veroorsaak) as “absolute snert” beskryf.
In die plek van die koolstofbelasting stel Abbott voor dat maatskappye beloon word wat vrywillig kweekhuisgasvrystelling afskaal.
Winkler sê Australië het nie ’n “koolstofbelasting” beoog nie, maar ’n koolstofverhandelingskema wat in sy eerste fase vaste pryse gehad en in die eerste twee jaar die kweekhuisgasvrystelling van die nasionale elektrisiteitsmark met 29 miljoen ton of 8,2% laat daal het, volgens navorsing van die Australiese Nasionale Universiteit. Hy twyfel of Abbott se alternatiewe program doeltreffend sal wees.
Australië se stap is volgens Lloyd nog ’n spyker in die doodskis van ’n internasionale klimaatverdrag.
Winkler glo die druk op Australië sal weer oplaai.
Groot rolspelers soos Amerika, die EU, China en talle kleiner lande sal ambisieuse teikens stel en Australië se huidige ¬leiers sal deur toekomstige geslagte beskou word as kortsigtig, selfsugtig en kleinlik.