Boere is ongelukkig daaroor omdat almal gestraf sal word omdat net ’n paar skelms die stelsel misbruik.
Die bedrog kos die land jaarliks ’n belastinginkomste van meer as R2 miljard. Die boerderybedryf bestee jaarliks meer as R100 miljard aan insetprodukte.
As die stelsel wel verander, gaan boere BTW (belasting op toegevoegde waarde) van 14% op sekere insetprodukte moet betaal waarop hulle nou ’n nulkoers betaal. Hoewel die BTW teruggeëis kan word, kan dit druk op hul kontantvloei plaas en kan hulle bykomende finansiering nodig hê waarop hulle rente sal moet betaal. Die vergunning is jare gelede ingestel juis om boere kontantvloeiverligting te gee omdat dit tyd neem om die BTW terug te eis.
Kragtens die BTW-wet kan boere sekere produkte teen ’n nulkoers koop indien dit in hul boerdery gebruik word. ’n Boer registreer by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en kry ’n sertifikaat om vir die nulkoers te kwalifiseer.
Die voorstel is dat die nulkoers van 1 April 2015 nie meer geld nie. Die wysigings is verlede week amptelik vir openbare kommentaar uitgereik.
Adrian Lackay, woordvoerder van die SAID, sê daar is vasgestel dat ’n “beduidende” aantal BTW-geregistreerde ondernemers in die landboubedryf die stelsel misbruik. Hulle word reeds vervolg.
Volgens die SAID was die verlies aan belastinginkomste die afgelope boekjaar moontlik “etlike honderdmiljoene rande”.
Insae is egter in ’n dokument gekry waarvolgens die SAID die verlies aan inkomste op meer as R2 miljard raam.
Stiaan Klue, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut van Belastingpraktisyns (SAIT), sê die wysiging sal die meeste boere penaliseer, al is dit net ’n klein getal wat die stelsel misbruik. Hy verstaan nie hoekom die SAID “die hele appelkarretjie wil omgooi” nie.
Die BTW kan teruggeëis word deur ’n BTW-opgawe in te dien, maar baie boere dien dit klaarblyklik net twee keer per jaar in en baie kleiner boere is glad nie vir BTW geregistreer nie.
Volgens die SAIT is ’n oplossing dat boere tweemaandeliks opgawes indien – maar dit plaas weer ’n groter administratiewe las op hulle.
Boere koop jaarliks sowat R100 miljard se insetprodukte (BTW word reeds teen die standaardkoers gehef op van die produkte, soos draad en pale). Dit beteken dat hul van 1 April 2015 af ruweg sowat R114 miljard per jaar sal bestee.
Die probleem is dat boere nie noodwendig die ekstra kontant het nie, sê Dawie Maree, senior ekonoom van AgriSA.
“Hulle sal finansiering moet kry vir daardie twee maande voordat die BTW teruggeëis kan word en dis waar die probleme ontstaan – om die finansiering te kry en die rente daarop te betaal.”
Hy sê landbouskuld as persentasie van bates het van 23% in 2007 tot sowat 36% gestyg. Die totale landbouskuld in die land beloop sowat R102 miljard en dit is hoog gegewe die risiko’s van landbou.
“ ’n Ou kan maklik in die moeilikheid beland as daar ’n paar slegte jare is. Dit is beslis iets waaroor ons bekommerd is, veral noudat ons in ’n fase van stygende rentekoerse is.
“Uiteraard moet die stelsel en die fiskus beskerm word teen bedrog. Dit verstaan ons, maar hoekom moet die hele sektor ly omdat ’n paar bedrog gepleeg het?” AgriSA stel voor dat daar eerder gekyk word na die stelsel en hoe die SAID gehelp kan word om bedrog te voorkom.