Só sê Henry Laas, uitvoerende hoof van die konstruksie-en-ingenieursfirma Murray & Roberts.
Die meeste van Suid-Afrika se groot konstruksiemaatskappye sit en wag vir die regering se infrastruktuur-ontwikkelingsplanne – wat werk aan hulle kan verskaf – om aan die gang te kom.
Laas sê die land het ’n groot behoefte aan infrastruktuur, maar die regering en die openbare sektor bestee min daaraan.
Hy sê dis nie duidelik waarom dié gebrek bestaan nie. Een moontlikheid is dat die uitkoms van die Mededingingskommissie se ondersoek na samespanning in die konstruksiebedryf wantroue geskep het by die openbare sektor.
Die gevolg is dat Murray & Roberts se bestelboek tans hoofsaaklik uit privatesektor-projekte bestaan en dat hy diversifiseer in ander sektore, soos olie en gas in Australië, mynbou in Kanada en die watersektor. Hy is ook aktief in konstruksie en ingenieurswese in Afrika.
“Die maatskappy het nie ’n besluit geneem om die land te verlaat nie, maar ons kan nie op konstruksie- en siviele-ingenieurskontrakte staatmaak nie.
“Dis waarom ons nou internasionaal uitbrei. Omtrent 80% van ons verdienste voor rente en belasting kom uit die buiteland,” sê hy.
Die groep het ook sowat 18 maatskappye verkoop wat nie meer pas by sy strategiese doelwitte nie.
Mike Upton, uitvoerende hoof van Group Five, sê daar is wel staatswerk beskikbaar, en sowat ’n derde van sy bestelboek bestaan daaruit.
Daar is ook ’n bietjie konstruksie-bedrywighede in gesondheidsorg, justisie en paaie, maar die Suid-Afrikaanse mark is volgens hom ook maar stil, behalwe in die private sektor, waar daar ’n oorkapasiteit en klein marges is.
Hy beaam ook dat daar nog niks gekom het van die nasionale infrastruktuurplan en die 18 strategiese infrastruktuurprojekte wat die presidensiële infrastruktuur-koördineringskommissie uitgewys het nie.
Upton sê Group Five het ’n paar jaar gelede ook sy strategie hersien en, soos Murray & Roberts, fokus hy nou ook op die olie- en gasmark, asook water, krag, vervoer en mynbou.
“Ons het die tegniese vermoë ontwikkel om aan die voorpunt van hierdie tegnologieë te wees,” sê Upton, “en dit is wat ons bestelboek aandryf.”
Die groep is reeds aktief in Afrika en Oos-Europa.
Hy bevestig Laas se mening dat die kartel-ondersoek die regering vertroue laat verloor het in gewone tenderprosedures. Konstruksiemaatskappye werk daaraan om dié verhouding te herstel.
Louwtjie Nel, uitvoerende hoof en voorsitter van WBHO, is egter vol vertroue dat infrastruktuur-ontwikkeling wel in die nabye toekoms gaan plaasvind, en die maatskappy is nie van plan om na ander sektore te diversifiseer nie.
“Die laaste paar jaar het die hoeveelheid werk wat WBHO in die openbare sektor onderneem het, afgeneem, maar ons algehele omset het toegeneem. Ons hoop die persentasie openbaresektorwerk sal so gou moontlik tot historiese vlakke toeneem.”
Nel glo nie die samespanningskwessies het iets te doen met die lae vlakke van infrastruktuur-ontplooiing nie.
“Ons is besig om met die regering saam te werk om die beskadigde verhouding – wat veroorsaak is deur die samespanning en wat baie jare gelede tot ’n einde gekom het – te herstel,” sê Nel.
Volgens Laas is die regering se persepsie van wat die samespanning behels het, opgeblaas en baie daarvan het te doen gehad met vermoëbestuur binne die bedryf.
Terugskouend was die bedryf dalk naïef om nie by die kommissie om kwytskelding van bepaalde artikels van die Wet op Mededinging aansoek te gedoen voordat begin is met die projekte vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi van 2010 nie.
“Die regering se siening is dat hy met miljoene bedrieg is, terwyl ons dit nie in ons winsmarges sien nie,” sê Laas.