Baie Suid-Afrikaners het met ’n skok besef dat die land nie meer die grootste ekonomie in Afrika is nie; Nigerië het ons verbygesteek.
Nie dat dit veel saak maak nie – Nigerië se ekonomie was waarskynlik die laaste tien of 15 jaar groter as Suid-Afrika s’n. Dis net dat die Nigeriërs metodes om die omvang van hul ekonomie te meet, verbeter het. Per capita is die gemiddelde Suid-Afrikaner steeds baie beter daaraan toe as die gemiddelde Nigeriër.
Om sout in die wonde te vryf, het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) in die afgelope week sy vooruitsigte vir groei in Suid-Afrika tot 2,3% afgeskaal. Met die huidige bevolkingsgroei van 1,34% verbeter ons per capita-inkomste dus beswaarlik.
Hoekom is dit so en het die Zuma-regering iets daarmee te doen?
Jacob Zuma is in Mei 2009 as president ingehuldig, midde-in die wêreld- finansiële krisis. Ten spyte van die resessie het die ekonomie taamlik goed begin herstel, maar in onlangse jare het die wiele begin afval. Die gemiddelde ekonomiese groei van 1994 tot 2008 was 3,6% en in 2009-2013 – die Zuma-jare – 1,9%!
Die redes is waarskynlik te vinde in strukturele struikelblokke en nie soseer sikliese faktore nie. Heelwat van ons strukturele probleme is in die wanfunksionele arbeidsmark. Met Zuma se inhuldiging was die werkloosheidskoers 24,5%, presies waar dit vandag is. Ten spyte van Zuma se beloftes, is daar geen vordering met werkloosheid gemaak nie.
Die aantal persone wat onder die armoedelyn leef, het weliswaar gedaal, maar dit was hoofsaaklik weens die dramatiese toename in welsynstoelaes die afgelope paar jaar. Hierdie mense sal afhanklik van die staat bly eenvoudig omdat hulle weens onvoldoende vaardighede nie in diens geneem kan word nie.
Iemand met werkondervinding het ’n groter kans om werk te kry as dié daarsonder. Geleenthede om werkondervinding te kry, word egter ondermyn deur drakoniese arbeidswetgewing en goed georganiseerde vakbonde wat dit te onaantreklik maak om mense in diens te neem. Verder het die koste van arbeid sedert 2011 vinniger gestyg as produktiwiteit, wat dit onsinnig maak om mense in diens te neem.
Daar is ook ander groot swakhede wat die ekonomie knou. Ons spaarpoging en investering is swakker as toe ons agbare president ingehuldig is, en daarsonder is groei nie moontlik nie. Spaar moes dus “ingevoer” word, wat tot ’n reuse-tekort op die lopende rekening lei. Dié is ook een van die belangrikste redes vir die swakker rand, die gevolglike styging in inflasie en die onvermydelike verhoging van rentekoerse.
Staatskuld het gestyg van 27,8% van die BBP tot 46,1% vandag. Die staat leen sowat R150 miljard per jaar waarvan minder as R50 miljard aan kapitaal bestee word, wat beteken die staat se ontsparing is ongeveer R100 miljard.
Terloops, groot staatskuld sal dit vir die ANC baie moeilik maak om sy verkiesingsbeloftes na te kom – daar is nie meer geld nie.
* Dawie Roodt is hoofekonoom van Efficient Group. dawieroodt@efgroup.co.za