Share

Groot planne vir goedkoper staal – maar is dit volhoubaar?

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) sê hy kan teen 2017 ’n nuwe laekoste-yster- en staalwalsery van R50 miljard in bedryf hê.

Die NOK het ’n memorandum van verstandhouding met die Chinese staatsfirma Hebei Iron and Steel onderteken vir ’n uitvoerbaarheidstudie vir die aanleg wat hy hoop voor April 2015 voltooi sal wees.

Die staalaanleg sal uiteindelik 5 miljoen ton staal per jaar produseer, vergeleke met die totale kapasiteit van 7 miljoen ton by al Amsa se aanlegte in Suid-Afrika.

Dit sal hoofsaaklik die yslike magnetiet-ysterertsbron gebruik waaroor die NOK en Hebei beheer geneem het toe hulle die Palabora-mynmaatskappy van Anglo American en Rio Tinto vir R3,5 miljard gekoop het.

Die NOK het aanvanklik aangekondig dat hy die uitvoerbaarheidstudie in 2012 sou doen.

Die eerste fase van die nuwe staalaanleg word nou vir 2017 beplan, het Geoffrey Qhena, uitvoerende hoof van die NOK, aan City Press, susterskoerant van Rapport, gesê. Hy het die memorandum van verstandhouding met Hebei in Tianjin geteken waar die NOK deel is van ’n Suid-Afrikaanse afvaardiging na die beraad van die Wêreld- Ekonomiese Forum wat die afgelope week daar gehou is.

Soos met die Palabora-mynmaatskappy-transaksie is die meerderheidsparty Hebei Iron and Steel en die China-Afrika-Ontwikkelingsfonds (CAO).

Dit sluit nie die ander twee partye in die Palabora-transaksie, Tewoo en General Nice Development, in nie.

Die uiteindelike aandeelhouding in die projek is nog nie amptelik bekend nie, maar volgens Qhena sal die NOK se aandeel waarskynlik groter wees as die 20% wat hy in Palabora het.

Maar dit is ook “onwaarskynlik” dat die NOK meer as 50% daarvan sal besit.

Die rol wat die NOK gespeel het om die staalmeul en die finansiering te konseptualiseer, “sal in die aandeelhouding weerspieël word”, sê Qhena.

Dit sal die NOK se grootste staalbelegging wees sedert sy gesamentlike vennootskap met die ou Yskor in die Saldanha-staalwerke tussen 1996 en 1999. Hy het later sy 50%-belang verkoop.

Die NOK wil ook nie sê hoeveel van die geraamde kapitaalbesteding van tot R50?miljard hy sal finansier nie. Hy het wel aangedui dat hy sy deel met skuld en ekwiteit sal finansier.

Indien die NOK se belang tussen 20% en 50% is, sal sy deel van die finansiering waarskynlik tussen R10 miljard en R20 miljard bedra.

Volgens Qhena is dit veral belangrik dat die uitvoerbaarheidstudie moet aandui waar die aanleg opgerig moet word.

Een opsie is Phalaborwa in Limpopo, naby die bron van die erts.

’n Ander is naby die bron van die vraag na staal, die Witwatersrand.

Kusstreke word ook oorweeg, gegewe dat baie van die staal vir ander Afrika-lande bestem sal wees.

Die staat se planne om ’n nuwe staalmaatskappy te bou terwyl Amsa finansieel sukkel en minder as sy volle kapasiteit gebruik, is al in die verlede gekritiseer.

“Dis die aard van staalaanlegte om deur siklusse te beweeg,” het Qhena gesê.

Die verwagting dat Suider-Afrika sal voortgaan om teen ’n relatief hoë koers te groei, “behoort dit volhoubaar te maak”.

 

Die doel

Die doel van die nuwe staalaanleg is volgens die mediaverklaring wat die NOK in die afgelope week uitgereik het om “mededingende pryse” in die plaaslike staalmark moontlik te maak.

Maar daar sal volgens Qhena nie enige ontwikkelingsprysooreenkoms of prysbeheer wees nie.

Die nuwe staalaanleg sal ook nie afhanklik wees van ’n gesubsidieerde voorraad van Palabora of vertikaal daarby geïntegreer word nie.

“As ons inkom en die staalprys daal nie, het ons misluk,” volgens Qhena.

Die belofte van goedkoper staal berus hoofsaaklik op die feit dat magnetieterts goedkoper is as die hematieterts wat Amsa gebruik.

Die voordeel sal dalk nie vir ewig hou nie omdat magnetietpryse styg.

In 2013 het Palabora ’n styging in magnetietpryse van 23% tot R1 231 per ton ondervind vanweë die groeiende vraag daarna.

Palabora tree klaarblyklik reeds as Hebei se geïntegreerde ysterertsverskaffer op.

Sy magnetietverkope het van minder as 2 miljoen ton in 2008 tot 6,5 miljoen ton in 2013 toegeneem en die plan is om dit tot 10 miljoen ton te verhoog.

Palabora is tegnies ’n kopermynmaatskappy, maar magnetiet maak nou die grootste deel van sy inkomste uit met basies die volle R2 miljard van sy wins in 2013 wat van die mineraal afkomstig is.

’n Dekade gelede het die maatskappy minder as 300 000 ton magnetiet per jaar verkoop. Die grootste deel van die verkope gaan na ’n enkele, ongenoemde kliënt in Asië (waarskynlik Hebei) volgens Palabora se jongste jaarverslag as genoteerde maatskappy.

Volgens Qhena het die NOK juis in Palabora belê om te keer dat Hebei dit as magnetietvoorraad vir Chinese staalmeule gebruik.

“Ons sal seker maak die erts is hier. Ons sal die grootste voordeel daaruit trek.”

 

Staalketting

 

Die NOK het wesenlike bedrae in die staalwaardeketting geploeg wat meestal verband hou met meule wat skrootmetaal pleks van ystererts gebruik.

In 2012 het hy 74% van Scaw Metals by Anglo American vir R3,4 miljard gekoop. Scaw produseer staalprodukte uit skrootmetaal.

Die NOK het die Agni Steels-projek van R400 miljoen in Coega gefinansier wat vanjaar in bedryf gekom het. Hy besit 10% van die maatskappy saam met ’n Indiese meerderheidsaandeelhouer en ’n SEB-konsortium. Soos Scaw gebruik Agni skrootmetaal om staal te produseer.

Vroeër het die NOK ook R100 miljoen in Iron Mineral Beneficiation Services gestort, ’n maatskappy wat fynerts in brikette verwerk sodat dit in plek van skrootmetaal gebruik word. Dit besit 33% van die maatskappy.

Die ander groot dryfkrag van die staat se ondersteuning vir staal is om die insette te reguleer.

Sedert Januarie 2013 het die Suid-Afrikaanse kommissie vir internasionale handelsadministrasie ’n uitvoerbeheerstelsel vir skrootmetaal ingestel wat plaaslike produsente bevoordeel, insluitend dié wat die NOK gekoop of help ontwikkel het.

Daar is ook aanduidings dat ystererts tot ’n strategiese mineraal verklaar kan word om uitvoer te bekamp.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 946 votes
No! It's time to move on ...
33% - 464 votes
Vote
Rand - Dollar
18.80
+1.1%
Rand - Pound
23.49
+1.3%
Rand - Euro
20.10
+1.5%
Rand - Aus dollar
12.28
+1.0%
Rand - Yen
0.12
+2.8%
Platinum
923.40
-0.2%
Palladium
957.50
-3.3%
Gold
2,336.75
+0.2%
Silver
27.20
-0.9%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,358
+1.3%
All Share
75,371
+1.4%
Resource 10
62,363
+0.4%
Industrial 25
103,903
+1.3%
Financial 15
16,161
+2.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE