Share

Landbank staan blakend gesond uit sterfbed op

Teen einde 2007 was die Landbank om al die verkeerde redes in die nuus: Hy het die vorige sewe jaar vier uitvoerende hoofde gehad en hul jaarvergoeding het van R465 000 in 1998 tot R3 miljoen in 2005-’06 gestyg. Die regering moes ’n reddingsboei van R2,2 miljard na hom uitgooi.

Later is ’n batebeslagleggingsbevel teen nóg ’n voormalige uitvoerende hoof van die Landbank, Philemon Mohlahlane, en ’n Gautengse sakeman, Dan Mofokeng, toegestaan nadat hulle daarvan aangekla is dat hulle R28,5 miljoen wat bestem was vir ontluikende boere, in hul eie sak gesteek het. 

In Mei 2008 is die regering genoodsaak om in te gryp en ’n nuwe direksie aan te stel vir dié staatsonderneming. 

Dit het destyds nie gelyk asof die Landbank ooit weer ’n betekenisvolle rol in die finansiering en ontwikkeling van landbou in Suid-Afrika sou speel nie. 

Maar die afgelope week het Lindiwe Mdladlose, waarnemende uitvoerende hoof, met groot trots jaarresultate aangekondig wat enige private onderneming groen van jaloesie sou maak.

Die netto wins het met 29,4% tot R394,3 miljoen gestyg. Die leningsboek het met 24% tot R33 miljard gegroei en nie-presterende skuld het met 21% afgeneem tot net meer as R1 miljard en vorm nou net 3,2% van die totale leningsboek. In Januarie is die Landbank boonop deur die graderingsagentskap Fitch tot AA+ opgegradeer.

Die suksesvolle regrukstrategie kan as ’n bloudruk dien vir ander semistaatsinstellings wat steeds miljarde rande van die belastingbetaler benodig om hul sake te bedryf.

Die knoop is vir die Landbank deurgehak deur ’n nuwe direksie wat sy vinger presies op die probleem kon sit en ’n toegewyde bestuurspan wat die regrukproses onder toesig van die direksie met groot ywer aangepak het, sê Theo Potgieter, voormalige nie-uitvoerende direkteur van die Landbank wat by die reddingsproses betrokke was. 

Hy is ’n landbou-ekonoom met meer as 25 jaar ondervinding in kommersiële bankdienste, projekbestuur en raadgewing oor swart ekonomiese bemagtiging. 

Hy vertel dat die situasie by die Landbank destyds desperaat was.

“Daar was waarnemende mense in alle senior bestuursposte en die gevolg was ’n stagnerende organisasie waar niemand enige besluite kon of wou neem nie.”

Die direksie, destyds onder leiding van prof. Herman van Schalkwyk, deesdae rektor van die Potchefstroom-kampus van die NWU, moes noodgedwonge betrokke raak by die bedryf van die bank.

In hierdie tyd het die nasionale departement van finansies ’n senior amptenaar van die tesourie, Phakamani Hadebe, na die Landbank gesekondeer. 

Hadebe, wat in Desember 2013 uitgetree het, het volgens Potgieter ’n deurslaggewende rol in die sukses van die Landbank gespeel.

“Hy was ’n doelgerigte, gefokusde uitvoerende hoof wat bitter hard gewerk het.”
Potgieter vertel dat Hadebe die Landbank se personeel in klein werkgroepe verdeel het om die probleme te identifiseer en oplossings te vind.

“Dit het almal laat fokus en die houding in die bank het drasties verander.”

Dié stap was ook ongewoon omdat die standaardoplossing was om teen groot koste konsultante in te kry.

“Om konsultante in te roep, kan ’n verlammende uitwerking op die denke en inisiatief van werkers hê,” waarsku Potgieter. 

Intussen het die direksie gefokus op die probleme wat in ouditverslae uitgelig is.

“Ons het die doelwit gestel dat ons geen verdere gekwalifiseerde ouditverslae meer wou kry nie – as die ouditeure vir jou ’n ding uitwys, moet jy weet dís waar jy moet begin regmaak.”

Potgieter het net lof vir die kundige direksielede wat deur die jare gehelp het om die skip van koers te laat verander – mense soos Nomavuso Mnxasana, deesdae onder meer in die direksie van Nedbank,

Patrick Mathidi, nou by Rand Merchant Bank, prof. Mohammad Karaan asook, meer onlangs, dr. John Purchase van Agbiz.

“Indien ’n direksie saamgestel word uit die bevoegde en die gepaste mense wat wel ’n bydrae kan lewer, sal hulle die uitdagings van die organisasie kan oorkom.”

Die regrukstrategie het uit drie stappe bestaan: skoon maak, stabiliseer en volhoubaar maak. 
Ses jaar nadat die reddingsplan begin is, lyk dit asof die Landbank sy mandaat as volhoubare ontwikkelingsbank ten volle uitvoer. 

Volgens sy jongste jaarverslag wil die bank teen Maart 2015 R4,5 miljard se effekte verkoop sodat hy sy leningsboek kan uitbrei. 

Dit kom op die regte tyd gegewe die noodsaak om die pad na ’n bemagtigde landbou-omgewing teen 2030 oop te maak en meer kleinboere by die kommersiële sektor betrokke te kry. 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 946 votes
No! It's time to move on ...
33% - 465 votes
Vote
Rand - Dollar
18.80
+1.1%
Rand - Pound
23.49
+1.3%
Rand - Euro
20.10
+1.5%
Rand - Aus dollar
12.28
+1.0%
Rand - Yen
0.12
+2.8%
Platinum
923.40
-0.2%
Palladium
957.50
-3.3%
Gold
2,336.75
+0.2%
Silver
27.20
-0.9%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,358
+1.3%
All Share
75,371
+1.4%
Resource 10
62,363
+0.4%
Industrial 25
103,903
+1.3%
Financial 15
16,161
+2.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE