Die laaste transaksie van Reserwebank-aandele was op 17 Januarie 2014, toe 10 000 aandele teen R10,50 elk verhandel het.
Die Reserwebank is een van die min sentrale banke in die wêreld wat private aandeelhouers het. Aandele word oor sy oor-die-toonbank-gerief verkoop.
Die rede waarom private aandeelhouers toegelaat word, is sodat die publiek tot sy bestuur kan bydra. Hy het meer as 660 aandeelhouers en was sedert sy ontstaan in 1921 in private besit.
Aandeelhouers mag stem vir 7 nie-uitvoerende direkteure in sy direksie van 15. Die res, insluitende die president (tans Gill Marcus) en die drie adjunk-presidente, word deur die regering aangestel.
Die aandeelhouers het egter geen rol, regstreeks of onregstreeks, in die formulering van monetêre beleid nie.
“Aandele in die Reserwebank word van tyd tot tyd beskikbaar,” sê Hlengani Mathebula, kommunikasiehoof van die Reserwebank. Hy het egter geen verdere besonderhede gegee nie.
Die Reserwebank-aandele het sekere beperkinge.
Afhangende van sy beskikbare netto wins, word ’n jaarlikse vaste dividend van 10c per aandeel uitbetaal.
Die oorskotwins word aan die regering betaal, want die Reserwebank is nie ’n winsgedrewe organisasie nie.
’n Aandeelhouers en enige nabye familielid mag nie meer as 10 000 aandele (van die 2 miljoen uitgereikte aandele) hou nie.
Die bank is op 2 Mei 2002 van die JSE gedenoteer. Omdat sy aandele oor die toonbank verkoop word, word transaksies slegs per pos, faks of e-pos gedoen.
Aandeelhouers kan ook by wyse van ’n direkte private transaksie hul aandele verkoop.
“Private transaksies moet amptelik by die Reserwebank geregistreer word om wettig te wees,” sê Mathebula.