Share

Rustenburg beur stadig maar seker op

Rustenburg is stadig – baie stadig – besig om op te staan uit die as van die platinummynstakings.

Dit is egter moontlik te laat vir Shaft Sinkers, een van die land se kundigste spesialiskontrakteurs.

Boonop wys navorsing deur kredietburo’s dat mynwerkers se reeds hoë vlakke van agterstallige skuld negevoudig toegeneem het in die vyf maande dat hulle die wêreld se drie grootste platinumprodusente op hul knieë gedwing het.

Die koopkrag van verbruikers het darem effens begin herstel, maar dit gaan maklik nog ’n jaar duur voordat verbruikersbesteding op dieselfde vlakke is as voor die staking, het rolspelers in die kleinhandel in die afgelope week gesê.

Daar is nou ’n sterk oplewing in die vraag na wooneiendom.

“Dis ’n belangrike ontwikkeling – dit lyk asof talle voornemende kopers in die loop van die staking transaksies uitgestel het en asof hulle nou aan die gang kom,” sê Pieter Malan, voorsitter van die Rustenburgse Sakekamer en self ’n eiendomsontwikkelaar.

“Daar word besef dat huisvesting een van die kernprobleme in die arbeidsonrus is. Ons kry navrae van groot maatskappye wat betrokke wil wees by die verskaffing van huisvesting wat dié probleem kan oplos.

“Dit skep sakegeleenthede vir klein ondernemings en stimuleer die plaaslike ekonomie,” sê Malan.

In die opstel van ’n ontwikkelingsplan vir die omgewing het die stadsraad bereken dat daar ’n tekort van sowat 150 000 wooneenhede vir die hele spektrum van inkomstegroepe is, maar veral vir laekoste-huisvesting.

Malan is egter bekommerd omdat dit lyk asof Shaft Sinkers besig is om uit Rustenburg pad te gee ná die staking.

“’n Woonkompleks in Waterval-Oos, waar nét werknemers van Shaft Sinkers gewoon het, staan nou heeltemal leeg omdat almal afgedank of verplaas is na projekte elders in Afrika,” sê Malan.

Shaft Sinkers is ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat wêreldbekend is vir kundigheid in die ontwikkeling van diep mynskagte.

Hy is in Londen genoteer, maar het verlede maand sy aandeelhouers gewaarsku dat hy kontantvloeiprobleme ondervind en dringend nuwe finansieringsbronne probeer kry.

Shaft Sinkers is die hoofkontrakteur in sewe van die nuutste en grootste skagte wat in Rustenburg ontwikkel word – Impala Platinum (Implats) se no. 16-skag, wat feitlik klaar is, sy no. 17-skag, sy Leeuwkop-myn in Brits, Royal Bafokeng Platinum (RB Plat) se Styldrift-myn, en Lonmin se Saffy-, Hossey- en Kareeskag.

Arbeidsonrus voor die staking het reeds ’n groot tol geëis sodat sy arbeidsmag in Suid-Afrika van 7 200 tot 3 900 verminder het.

Alon Davidov, die groep se uitvoerende hoof, het Vrydag aan Sake gesê Implats het pas twee kontrakte ter waarde van R770 miljoen toegestaan. “Dit help baie met ons likiditeitsprobleem, maar ons is steeds in dringende gesprekke met verskeie partye vir finansiering om ons korttermyn-likiditeitsprobleem te verlig,” het hy gesê.

Implats het onlangs al Shaft Sinkers se toerusting gekoop wat in sy skagte gebruik word om Shaft Sinkers te help. “Ons is sowat twee jaar lank al bekommerd oor Shaft Sinkers. As dié maatskappy ondergaan, sal dit ’n groot verlies aan kundigheid vir die land se mynbedryf wees,” sê Johan Theron, woordvoerder van Implats.

RB Plat het soortgelyke uitlatings gemaak oor sy Styldrift-projek en het ook voorsorg getref dat die ontwikkeling van Styldrift kan voortgaan indien daar ’n likwidasie is.

Ben Botha, uitvoerende hoof en stigter van die Benhaus-groep, wat uitgebreide belange in kleinhandel-eiendomme en mynbou het, sê dit gaan tussen sewe maande en twee jaar duur voordat Rustenburg heeltemal herstel het.

Benhaus is die ontwikkelaar van die Boitekong Mall, ’n moderne winkelsentrum wat gemik is op die informele nedersettings naby Implats en noordoos van Rustenburg se sakekern.

“Voor die staking het ons 127 000 voete (klante) per dag ontvang. In die loop van die staking het dit met 23 000 voete per dag gedaal.

“By sommige van die groter winkels in die sentrum, soos Shoprite, het die omset met tussen R3 miljoen en R4 miljoen per maand afgeneem,” sê Botha.

Die gemiddelde omset by al die winkels het met tussen 30% en 35% gedaal. Twee van die winkels kon nie meer die huurgeld in die sentrum bekostig nie.

“Sedert die staking opgehou het, het ons 15 000 tot 16 000 van die voete teruggekry. Die groeitempo laat dit lyk asof dit nog sowat nege maande gaan duur voordat ons by die punt is waar ons voor die staking was,” sê Botha.

Benhaus Mining is betrokke by drie projekte rondom Rustenburg, maar al drie projekte is óf teruggesnoei óf tot stilstand gebring weens die staking.

“Geoordeel aan die trajek van herstel ná die staking, gaan dit sewe tot agt maande, dalk ’n jaar, duur voordat ons weer is waar ons voor die staking was,” sê Botha.

Die meeste van Benhaus Mining se werkers is ook lede van Amcu en dis duidelik dat toekomstige loononderhandelinge daarop gemik sal wees om die loonverhogings wat by die drie groot maatskappye bereik is, na kleiner mynkontrakteurs uit te brei.

Laura Parker, direkteur van Laudrie Engineering, een van die groter plaaslike staal-ingenieursmaatskappye, sê die maatskappy se mynboukontrakte het in die loop van die staking almal tot stilstand gekom, maar hy het ander kontrakte en projekte in naburige dorpe soos Brits en Thabazimbi gekry.

“Maar sedert die staking verby is, het ons nog geen werk van mynmaatskappye gekry nie,” sê sy.
 

Honderde verloor huise en motors


Honderde mense in Rustenburg het hul huis of motor tydens die vyf maande lange staking in die platinumsektor verloor – en nie almal was stakende mynwerkers nie.

Daarby het mynwerkers se skuldvlakke, wat al voor die staking erg was, dramaties gestyg.

Die gemiddelde mynwerker se skuldvlakke het negevoudig toegeneem, sê Jacobus Eksteen, senior data-ontleder van Compuscan. Die kredietburo het omvattende navorsing hieroor gedoen.

Selfs nie-stakende werkers is hard getref omdat hul inkomste tog gedaal het, sê Eksteen. Minder skofte is byvoorbeeld gewerk en sekere kontrakteurs kon nie dienste lewer nie.

Hulle weet van taxibestuurders wat hul voertuie verloor het omdat hulle weens ’n gebrek aan inkomste nie paaiemente kon betaal nie.

In die laaste paar maande van die staking het tussen 50 en 100 mense per maand hul huis verloor. Sommige het toe in hul motor gewoon. “Dit lyk egter nou asof van die banke hulle laat terugtrek, onder streng voorwaardes,” sê Eksteen.

Sommige stakers het na hul familie in die Oos-Kaap, Lesotho of elders gegaan, en kleinhandelaars en diensverskaffers is dus ook swaar getref.

Volgens Compuscan het die gemiddelde mynwerker voor die staking R100 000 geskuld en R5 000 per maand daaraan betaal, die helfte van sy salaris van R10 000. Agterstallige skuld het tydens die staking tot gemiddeld R9 000 toegeneem.

73% van die mynwerkers was al in die drie maande voor die staking agterstallig met een of meer rekeninge. Dit het nou tot 88% gestyg. 56% se rekeninge was voor die staking drie of meer maande agterstallig – nou is dit 62%.

Eksteen sê mikroleners was baie geduldig met mense wat uitstel of laer terugbetalings gevra het. Die staking het ook nie roekelose lenings vererger nie, toon Compuscan se navorsing. Die meeste kredietverskaffers was uiters versigtig met nuwe lenings, tog het slegte skuld drasties gestyg.

Daar is ongeveer 100 mikroleners of takke van groter mikroleners in die Rustenburg-omgewing en dié bedryf trek swaar in die nadraai van die staking, sê Eksteen. Soos ander ondernemings moes hulle personeellede aflê. Tot 30% het hul werk verloor.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 892 votes
No! It's time to move on ...
33% - 435 votes
Vote
Rand - Dollar
18.82
+1.0%
Rand - Pound
23.53
+1.1%
Rand - Euro
20.17
+1.2%
Rand - Aus dollar
12.31
+0.7%
Rand - Yen
0.12
+1.8%
Platinum
924.30
-0.1%
Palladium
967.00
-2.4%
Gold
2,350.06
+0.8%
Silver
27.61
+0.7%
Brent-ruolie
89.01
+1.1%
Top 40
69,335
+1.3%
All Share
75,294
+1.3%
Resource 10
63,168
+1.7%
Industrial 25
103,575
+1.0%
Financial 15
16,029
+1.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE