Die bedryf vir die bou van nanosatelliete groei, en Suid-Afrikaners is voluit deel van die baanbrekerswerk.
Danksy die vordering met nanotegnologie en die ál meer kompakte integrering van elektronika kan al kleiner satelliete gebou word wat dieselfde werkverrigting het as die groter, ouer satelliete, verduidelik prof. Herman Steyn, groephoof van rekenaar- en beheerstelsels van die Universiteit Stellenbosch se departement van elektriese en elektroniese ingenieurswese.
Nanosatelliete is boonop heelwat goedkoper om te lanseer, want lanseerkoste word gegrond op die massa van die satelliet, sê Steyn.
Die departement se Laboratorium vir Elektroniese Stelsels (ESL) gaan R1,5 miljoen kry vir die verkoop van 15 beheereenhede vir nanosatelliete vir die sogenaamde QB50-projek saam met die Surrey Space Centre in Brittanje.
Die QB50-projek is ’n internasionale netwerk van 50 nanosatelliete of “CubeSats” van net 10 cm by 10 cm by 20 cm (omtrent so groot soos ’n tweeliter-koeldrankbottel) wat in Januarie 2016 gelanseer sal word.
Hulle sal gebruik word om atmosferiese metings in die laer termosfeer – tussen 200 km en 350 km bo die aarde – te doen. Die Europese Ruimteagentskap wil die inligting gebruik om beter te voorspel wat met ruimtevoorwerpe gebeur wanneer dit die aarde se atmosfeer binnedring.
Die ESL se rol is om 15 beheereenhede vir die satelliete in die QB50-projek te bou en dit word saam met sagteware van die Surrey Space Centre aan die Von Karman-instituut vir vloeidinamika in België gelewer wat dit weer aan ander projekdeelnemers versprei. Die eerste drie beheereenhede is reeds gelewer aan die Nederlandse satellietmaatskappy ISIS wat in Mei twee voorloper-satelliete gaan lanseer.
Steyn verduidelik dit is ’n baie groot uitdaging om ’n satelliet deurgaans binne 10 grade van die wentelbaanrigting te hou. Die beheereenhede wat die ESL ontwerp, help om die satelliete in hul posisie te hou.
Die ESL verkoop ook satellietkomponente aanlyn via ’n internasionale webwerf en deur Maties se intellektuelekapitaal-maatskappy, Innovus, se aanlyn winkel. Die inkomste gaan gebruik word om Suid-Afrika se eie nanosatelliet – die ZA-Aerosat – te bou wat sowat R3,8 miljoen sal kos.
Steyn sê die ESL het al sowat R2 miljoen gemaak en nog R1,8 miljoen kom van vorige satellietprojekte waarby die universiteit betrokke was.
Die ZA-Aerosat sal net 2 kg weeg en sal die enigste satelliet uit Afrika in die QB50-projek wees.
Wat is ’n nanosatelliet?
’n Nanosatelliet is ’n satelliet wat tussen 1 kg en 10 kg weeg. Van 2000 tot 2005 is minder as 15 satelliete per jaar gelanseer wat 50 kg of minder geweeg het.
In 2013 is 92 sulke satelliete wêreldwyd gelanseer.
Nanosatelliete doen toenemend die werk wat voorheen deur mikrosatelliete van tot 100 kg gedoen is.