Selfs Suid-Afrika spring nie die gevolge van Rusland se verbod op die invoer van voedsel van die Europese Unie (EU) en die VSA vry nie.
Die handelsafwykings wat die verbod veroorsaak, raak reeds voedselpryse wêreldwyd, sê dr. John Purchase en Tinashe Kapuya van die sakekamer Agbiz.
Suid-Afrika voer nou vars en verwerkte aartappels teen die helfte of selfs ’n derde van die prys van voor die verbod uit. Die prys van ’n 100 kg-sak aartappels het van €25 tot onder €10 gedaal en daar is ’n skerp toename in aartappels op die plaaslike mark.
Daarby het die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf skielik met groter invoermededinging te kampe.
Met die Russiese mark wat nou gesluit is vir die VSA, van waar hy 13% van sy hoendervleis ingevoer het, en met die Amerikaners wat hulle beywer vir groter toegang tot die Suid-Afrikaanse hoendermark, voorspel dit probleme plaaslik, veral in die lig van berigte dat die regering reeds oor hoendervleisprodukte onderhandel vir behoud in die bepalinge van Amerika se wet oor groeigeleenthede in Afrika (Agoa).
Indien Suid-Afrika sy teenstortingsmaatreëls verslap, kan dit die invoer van donker hoendervleis (onder meer boudjies) met ’n verdere 55 000 ton verhoog, wat die invoer van hoenderkwarte met been in tot 180 000 ton per jaar kan opstoot.
Volgens Agbiz is Rusland een van die grootste invoerders van landbouprodukte. Voor die sanksies het hy $14 miljard se produkte per jaar van die EU af ingevoer en $1,2 miljard van die VSA af. Rusland is ook ’n groot verbruiker van pluimvee, veral hoenderkwarte, sê Agbiz.
Agbiz sê die sanksiestryd kan wel ook geleenthede vir Suid-Afrika skep as Rusland uit ander bronne wil invoer. Volgens hom is Rusland een van die grootste invoerders van landbouprodukte. Voor die sanksies het hy $14 miljard se produkte per jaar van die EU af ingevoer en $1,2 miljard van die VSA af.
Daar is reeds aanduidings van ’n groter vraag na nis-vleisprodukte soos wild en sekere vrugte uit Suid-Afrika.
Mariette Kotze, ’n ekonoom van die tuinboukunde-inligtingsgroep Hortgro, sê die afgelope drie weke is daar ’n toename in die uitvoer van appels en pere na Rusland. Die Russe voer gewoonlik 1,3 miljoen ton appels per jaar van die EU af in.
’n Probleem kan wel ontstaan vir uitvoerders wat gewoonlik hul produkte via die EU na Rusland uitvoer, want die EU-doeane beskou dit as EU-produkte.
“Ons ondersoek opsies om die identiteit van Suid-Afrikaanse produkte te behou,” sê Kotze. Sy meen egter dit is in dié stadium veiliger om direk na Rusland uit te voer.
Maar intussen verwag die EU ’n 9% groter appeloes, wat na ander markte kan oorspoel as Rusland niks daarvan invoer nie.
Met dié groot volumes waarvan niks na Rusland uitgevoer kan word nie, word ’n moeilike seisoen verwag omdat die volumes ongetwyfeld sal oorspoel na ander markte.
Hortgro meen die EU sal subsidies aan boere oorweeg sodat hulle hul appels goedkoop kan verkoop, wat groter mededinging tussen vrugtesoorte kan beteken. “Ons is bekommerd dat die EU uiteindelik die mark in Noord-Afrika sal oorstroom, want Suid-Afrika voer die meeste van sy uitvoerappels na Afrika uit.”
Nie alle Suid-Afrikaanse produkte wat gewoonlik na die EU uitgevoer word, kan na Rusland uitgevoer word nie – net groter grootte vrugte. Kotze sê produsente en uitvoerders moet kennis neem dat die bemarkingsituasie moeilik sal wees.
Henk van de Graaf, woordvoerder van die TLU SA, sê sodra die konflik in die Oekraïne opgelos is en sanksies laat vaar word, kan die belangstelling in Suid-Afrikaanse produkte afneem of selfs verdwyn.
* Die EU het Vrydag sy sanksies teen Rusland uitgebrei. Hy het aanvanklik in Maart sanksies ingestel weens Rusland se anneksasie van die Krim. Rusland het daarop teensanksies ingestel teen die EU, die VSA, Kanada, Australië en Noorweë.