Almal weet nou al dat die ekonomie ernstig ly onder die tekort aan elektrisiteit. Maar hoeveel kos dit die ekonomie werklik en wat kan ons doen om die skade soveel moontlik te beperk?
Eers die koste: Die eerste groot elektrisiteitskrisis het Suid-Afrika in 2007 getref. Die gevolg was ’n resessie en ’n geskarrel om die krisis te hanteer. Hou in gedagte dat die skade aan die ekonomie aangerig word voordat die ligte werklik afgaan.
Teen die tyd dat die ligte afgaan, het Eskom reeds sy groot kliënte opdrag gegee om minder elektrisiteit te gebruik en het hy begin krag “terugkoop” van sy groot verbruikers. Eers teen die tyd dat beurtkrag toegepas word, raak die meeste van ons bewus van die krisis.
My eie berekeninge toon dat die ekonomie in 2013 meer as R350 miljard groter sou gewees het as ons voldoende elektrisiteit gehad het. Dit is ’n reusebedrag.
Die ekonomie sou dus meer as 10% groter gewees het, baie meer mense sou werk gehad het, die staat se belastinginkomste sou baie groter gewees het, hy sou meer geld vir onderwys, welsyn en verskeie ander dinge gehad het en alles sou baie beter gewees het.
R350 miljard is gelykstaande aan 350 000 miljoenêrs!
Aanvanklik is baie planne gemaak om die krisis te hanteer. ’n Klomp hiervan was belaglik, soos om ’n geiser-polisiemag aan te stel wat sou verseker dat almal ’n kombers om hul geiser draai. Kan jy jou dit voorstel?
’n Ander plan was om Eskom onder beter bestuur te plaas, wat darem so ’n bietjie gehelp het. Maar vandag nog is daar ’n spul planne wat meer skade aan die ekonomie doen as goed.
Die eerste plan is om nie die elektrisiteitsprys op kort termyn te verhoog nie. Die bedoeling is natuurlik om die land te “help” met pryse wat nie te veel styg nie. Maar eintlik word meer skade aangerig.
Deur pryse te verhoog, neem die vraag af en aanvaar dié wat elektrisiteit werklik goed kan gebruik, dat hulle duurder daarvoor sal moet betaal, terwyl ander hul verbruik afskaal. Maar die besluit lê by die verbruiker.
Eskom hanteer die gemors verkeerd deur eerstens van sy groot verbruikers te verwag om minder elektrisiteit te gebruik, terwyl huishoudings waar moontlik die pyn gespaar word.
Dis verkeerd! Die groot verbruikers, die fabrieke, myne en nywerhede is die skeppers van rykdom, terwyl huishoudings se verbruik meestal op persoonlike gerief – soos warm water – ingestel is. Dus stel ons persoonlike verbruik voorop, terwyl die ekonomie in die slag bly. Dis “beter” dat die publiek kerse gebruik as wat dit is om fabrieke toe te maak.
’n Verdere fout van Eskom is om te besluit wie wanneer sonder krag gaan wees. In die proses is dele van die land op ’n rollende grondslag in die donker. Maar hoe weet Eskom watter deel van die land behoort wanneer sonder krag te wees? Miskien is daar ’n fabriek wat skielik sonder krag sit, terwyl vakansiehuise wel krag het.
Die grootste fout wat ons egter maak, is om steeds toe te laat dat ’n monster soos Eskom hoegenaamd bestaan.
Hy moet verdeel en geprivatiseer word en markkragte moet die korrekte prys en die hoeveelheid elektrisiteit bepaal wat hy produseer. Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) weet eenvoudig nie wat die korrekte prys is nie. Maar dit is natuurlik nie deel van ons politieke agenda nie.
Miskien is dit tyd dat ons die politici dwing om die regte besluite te neem. In dié opsig stem ek saam met Leon Louw van die Vryemarkstigting: Ons moet almal soveel elektrisiteit moontlik gebruik. So sal ons uiteindelik sorg dat die regime in duie stort en sal politici gedwing word om die regte ding te doen.
Gaan sit al die ligte aan, speel die klanktroustel teen volle volume en tap ’n lekker warm bad. Doen dit saans om sewe-uur.
* Dawie Roodt is hoofekonoom van die Efficient Group. E-pos dawieroodt@efgroup.co.za.