Share

Staking hou ramp in vir hele Suid-Afrika

’n Ontsaglike menslike en ekonomiese tragedie ontvou uit die platinumstaking, wat Donderdag al ’n ongekende 12 weke geduur het.

Kleinhandelaars en voedselverspreiders sê daar is ’n dramatiese insinking in die koopkrag in plattelandse gebiede in die armoedige Oos-Kaap, tuiste van verreweg die meeste van die bykans 80 000 mynwerkers wat op 23 Januarie begin staak het.

Roelf Venter, kommersiële direkteur van Spar, sê die insinking is op ’n vergadering van Spar se uitvoerende span bespreek.

“Dis moeilik om in dié stadium spesifieke syfers te gee omdat dit baie wissel van plek tot plek en omdat dit in afgeleë gebiede is. Daar is egter ’n duidelike en skerp afswaai in die koopkrag van mense in die landelike gebiede in die Oos-Kaap. Dis feitlik net so erg in KwaZulu-Natal, en dis ook opmerklik in Limpopo.

“In die Rustenburg-omgewing van Noordwes is dit nie so erg nie, behalwe aan die buitewyke van plekke soos Mooinooi en Marikana,” sê Venter.

Meer as 60% van die stakende platinumwerkers is trekarbeiders uit die armste dele van die Oos-Kaap, Lesotho en in mindere mate KwaZulu-Natal.

Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral Foods, een van die land se grootste verspreiders van braaihoender, sê verkope in die Rustenburg-omgewing, waar hy die markleier is, het met tussen 30% en 40% gedaal.

Dis nie soseer by die groot afsetpunte soos Shoprite nie, maar in die informele nedersettings, waar Astral ’n taamlik groot verspreidingstelsel het. “By sommige van die afsetpunte in die gebiede om Rustenburg is dit tot 50% minder,” sê Schutte.

In die Oos-Kaap het Astral sowat 11% van sy omset verloor weens die staking, maar die werklike uitwerking is aansienlik groter. “Ons het onlangs die bedrywighede van ’n mededinger in die Oos-Kaap oorgeneem. Die verkope van die mededinger is bygereken – nogtans is ons verkope 11% minder as voor die staking,” sê Schutte.

Naas die gewone verskaffing aan kleinhandelgroepe soos Shoprite, Checkers en Pick n Pay, lewer Astral ’n groot hoeveelheid pluimvee aan “agente” in landelike gebiede wat dit weer aan informele ondernemings soos spazawinkels lewer.

“Dis veral dié onafhanklike agente wat die afgelope tyd begin swaarkry het. Verbruikers daar het duidelik oorgeslaan van proteïene in hul dieet na byvoorbeeld stysel,” sê Theo Delport, besturende direkteur van Astral Pluimvee.

“Die afgelope week was hul swakste verkopeweek sedert die jaar begin het. Dis baie vreemd, want die week voor Paasnaweek is in die kleinhandel baie soos ’n Kersfees in die kleine,” sê hy.

Nie-regeringsorganisasies het al bereken dat sowat 60% van die proteïeninname in dié streek hoendervleis is en sowat 20% geblikte vis.

Dit lyk na ’n uitgemaakte saak dat die staking blywende skade aan die wêreldvraag na platinum gaan meebring. Op kort termyn kan die platinumprys styg, maar op lang termyn gaan platinum vervang word deur ander metale vir motoronderdele en juweliersware, die vernaamste gebruike van platinum.

Dit gaan die derde opeenvolgende jaar wees waarin die motor- en juweliersbedryf meer platinum gebruik. Die Switserse bankgroep Credit Suisse sê die verskil gaan vanjaar met 25% tot 836 000 onse groei, hoewel die verlies aan produksie weens die staking nou reeds op sowat 1 miljoen onse staan.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do airplane mishaps have any effect on which airline you book your flights with?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, these things happen. I pick based on price
67% - 16 votes
Yes, my safety matters. I don't take any chances
33% - 8 votes
Vote
Rand - Dollar
19.26
-0.3%
Rand - Pound
23.80
-0.4%
Rand - Euro
20.53
-0.4%
Rand - Aus dollar
12.41
-0.2%
Rand - Yen
0.12
-0.3%
Platinum
920.90
-1.1%
Palladium
1,000.50
-1.5%
Gold
2,296.45
-1.3%
Silver
26.76
-1.5%
Brent-ruolie
87.00
-0.3%
Top 40
67,650
+0.2%
All Share
73,598
+0.1%
Resource 10
58,698
-3.7%
Industrial 25
102,583
+1.5%
Financial 15
15,831
+1.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE