Die jongste verslag oor billike indiensneming wys Suid-Afrika is stadig maar seker besig om ’n swart middelklas te skep en dis ’n baie goeie ding, sê dr. Dirk Hermann, adjunkhoof van Solidariteit.
Regeringswoordvoerders en politici is baie ongeduldig daaroor, want op top- en senior bestuursvlakke word poste nog steeds heeltemal oorheers deur wit mans.
Die jongste verslag wat verlede week in Sandton deur Mildred Oliphant, minister van arbeid, bekend gestel is, wys dat net 19,8% van die land se topbestuursposte deur swart mense beklee word, terwyl 62,7% van dié poste deur wit mense beklee word.
Dis myle van die voorskrif van die Wet op Billike Indiensneming dat 75,2% swart moet wees omdat 75,2% van die land se ekonomies aktiewe mense swart is.
Volgens die verslag is net 23% van die senior bestuursposte in groot maatskappye swart teenoor 57% wat deur wit mense beklee word. In professionele poste is 38,4% van die posbekleërs wit teen 40,6% wat swart is en in poste vir mense met vaardighede is 59,2% van die posbekleërs swart, teenoor 22% wittes.
Die verslag bevat vanjaar net inligting oor groot maatskappye met meer as 150 werknemers. Sowat 5 000 maatskappye met 4,85 miljoen werknemers het verslae oor vordering met regstellende aksie ingedien waaruit dié verslag opgestel is.
Tot dusver het kleiner maatskappye met minder as 150 werknemers net elke tweede jaar verslae by die departement van arbeid ingedien oor hul vordering, maar van vanjaar af moet alle maatskappye elke jaar verslae daaroor indien weens wysigings aan die wet wat in Januarie deur pres. Jacob Zuma onderteken is.
Oliphant het by die bekendstelling kwaai te velde getrek omdat die vordering op top- en senior bestuursvlakke so stadig is. Sy het dit toegeskryf aan “naakte rassisme” wat agter verskonings soos vaardigheidstekorte versteek word.
Dis egter duidelik dat die georganiseerde sakesektor skerp van haar verskil. “Rolspelers ontleed doodeenvoudig nie die werklike redes daarvoor nie. Daar moet behoorlike gesprekke hieroor gevoer word,” het Cas Coovadia, uitvoerende hoof van Busa, in reaksie gesê.
Hy wou nie oor die werklike redes daarvoor uitwei nie, maar het gesê Busa glo die Nasionale Ontwikkelingsplan lê die grondslag vir sulke gesprekke.
Die NOP lê swaar klem op onderwys en opleiding.
Hermann meen daar moet “meer genuanseerd” oor regstellende aksie gepraat word. Hy het daarop gewys dat 40% van die land se gegradueerdes wit is. “Dis redelik om te aanvaar dat topbestuurders en senior bestuurders van groot maatskappye ’n graad sal hê. In die beskikbare poel waaruit topbestuurders en senior bestuurders gewerf kan word, is 40% van die kandidate dus wit.
“As jy ervaring en ouderdom in ag neem, wat ook ’n voorvereiste is vir sulke poste, is dit redelik om te aanvaar dat 45% van die beskikbare kandidate vir sulke poste wit is,” sê Hermann.
Tog het die getal swart kandidate wat die afgelope twee jaar aangestel is, met 27,3% gegroei.
“’n Goeie transformasieprogram sal effens vinniger as die beskikbare poel kandidate beweeg. Dis presies wat besig is om te gebeur,” sê Herman.
“Dis soos ’n rek wat die beskikbare poel effens vinniger vorentoe trek. As jy te hard trek, breek die rek en ontstaan vaardigheidsgapings,” sê hy.
Die vinnigste vordering word op professionele posvlakke gemaak, waar 38,4% van die posbekleërs swart is, 9,6% bruin, 9,5% Indiërs en 40,6% wit.
Die afgelope jaar was 47,4% van alle nuwe aanstellings in professionele poste swart en net 31,9% wit.
Hermann sê op dié posvlak word ’n groot klomp vaardighede geskep.
“Dis poste waarin die risiko’s van mislukkings heelwat minder is as in top- en senior bestuursposte. In die professionele poste is dit is moontlik om kandidate met internskappe of mentorskappe in te bring.”