Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

En nou jag Oscar goue driekuns

Deur: Marizanne Kok 2012-08-12 00:01
Londen

Nou vir die Paralimpiese Spele!

Oscar Pistorius het Vrydagaand hier gesê hy kan nie wag om sy terugkeer na Londen se Olimpiese stadion aanstaande maand te maak, noudat hy die wonderlike gevoel van aantree voor 80 000 jillende toeskouers op dié stuk aarde ondervind het nie.

Pistorius se Olimpiese debuut het Vrydag geëindig, toe hy en sy aflos-spanmaats agtste in die 4x400-aflos was, maar ondanks dié uitslag kon die Blade Runner nie ophou glimlag nie.

“Die hele ondervinding was ’n sprokie vir ons,” het Pistorius gesê. “Om uit te stap vir ’n Olimpiese eindronde – dís die goed waarvan jy droom.”

Pistorius, LJ van Zyl, Shaun de Jager en Willie de Beer het in baan 1 weggespring ondanks die feit dat hulle nie hul uitdun voltooi het nie, omdat Ofentse Mogawane deur ’n Keniaanse deelnemer gepootjie is.

Ná ’n appèl is die Keniane gediskwalifiseer en Suid-Afrika as negende span in die eindronde ingesluit, omdat hulle verlede jaar silwer in die wêreldbyeenkoms gewen het.

Van Zyl, wat in die eerste ronde van die 400-hekkies uitgeskakel is nadat hy ’n patetiese tyd gehardloop het, is toe Vrydag in die mank Mogawane se plek in die afslosspan ingesluit.

Dié wedloop is toe indrukwekkend en verrassend deur die Bahamas gewen, wat die groot gunsteling, die VSA, in die pylvak wenpaal toe in ’n blitsige 2:56.72 geklop het.

Oscar was verlede jaar op die wêreldkampioenskappe net in die 4x100-uitdun in aksie, toe die SA span die SA rekord tot onder 3 minute gevoer het.

In die eindronde is Oscar deur Van Zyl vervang.

Vrydagaand het die wêreld verenig in blydskap vir Pistorius, wat sonder twyfel een van die ikoniese figure op die Londen-Spele was.

Elke keer dat hy op die baan gestap het, het dit ’n golf van entoesiasme deur die stadion gestuur – en min atlete is so warm toegejuig soos Pistorius, die eerste man met ’n dubbel-amputasie wat tot nog toe aan die Spele deelgeneem het.

Pistorius het Vrydag die laaste van die vier aflosdele gehardloop – en hoewel hy die stokkie in die laaste plek ontvang het en nie daarop kon verbeter nie, sê hy dit was wonderlik genoeg om te kon deelneem.

“Dit was ’n droom wat waar geword het. Dit was die ongelooflikste ervaring van my lewe en sal my inspireer vir die volgende vier jaar.

“Vir nou draai my aandag egter eers na die Paralimpiese Spele (waar hy hoop om goue medaljes in die 100, 200 en 400 vir atlete in die T44-klas te voeg by die vier goues wat hy in Athene en Beijing gewen het).

“Ek dink dit sal die beste (Paralimpiese Spele) tot dusver wees. Ek is verskriklik opgewonde om weer in dié stadion deel te neem.”
«Terug