En as hulle aanhou om die soort rugby te speel waarmee die Aussies in Auckland heeltemal oordonder is, is dit beslis nie hul laaste beker van die jaar nie.
Wie gaan dié superspan van die Rugbykampioenskapstitel weghou? Al wat ná gister oorbly, is die Springbokke en die Poemas, maar ’n mens sal nie sommer jou geld op hulle verwed nie.
Met hul wegholsege van 51-20 het die All Blacks vergoed vir verlede week se teleurstellende gelykopstryd teen die Aussies.
Én het hulle gewys hoe rugby veronderstel is om gespeel te word – in toestande wat hulle veel beter gepas het as die papnat ANZ-stadion in Sydney, waar spel gereeld deur Jaco Peyper se fluitjie onderbreek is.
Hulle het die een aanval ná die ander geloods waarin voorspelers soos agterspelers gehanteer het.
Die Kiwi’s het boonop nie geskroom om van diep in hul eie gebied bewegings op tou te sit nie – een keer selfs vanuit die doelgebied.
Hulle het die voet ook met oordeel ingelê, met mening in die los ingeklim en op die verdediging nie ’n enkele tree vir die Australiërs teruggestaan nie. Dit was totale rugby.
Die Wallabies was in die tweede minuut met 3-0 voor toe Kurtley Beale met ’n strafskop geslaag het nadat die tuisspan oortree het.
Maar dít was die einde van hul aanslag.
Hulle moes daarna bontstaan om die All Blacks van hul doellyn af weg te hou.
Romain Poite, die skeidsregter wat Suid-Afrikaners so lief is om te haat, het die spel deurentyd laat vloei.
Die All Blacks se spoed is nie eens gebreek toe hul kaptein, Richie McCaw, in die 13de minuut met ’n geelkaart afgestuur is nie. Hulle het drie punte aangeteken in die tien minute dat McCaw langs die kantlyn moes deurbring.
Daarenteen kon die Wallabies nie met ’n enkele punt antwoord nie.
Die All Blacks het ook gewys hoe genadeloos hulle kan wees toe die Wallaby-slot Rob Simmons – kort voor McCaw se terugkeer – met ’n gele gestraf is.
Die Wallaby-skrum is in die 25ste minuut opgefrommel – en skaars twee minute later het ’n soortgelyke kragvertoning van die All Blacks tot ’n strafdrie gelei.
Julian Savea het ook gaan druk (sy 24ste drie in sy 24ste toets), terwyl Simmons in die koelkas was.
Selfs toe die Wallabies weer voltallig was, was daar net één span op die veld...
Die Aussies het laat in die tweede helfte weer lewe getoon met troosdrieë deur Israel Folau en Michael Hooper, hul beste spelers van die wedstryd.
Maar steeds was dit het einde niet.
Steven Luatua het onder die pale oorgeduik nadat die sirene al geloei het om die einde van die wedstryd aan te kondig.
Die All Blacks het teen dié tyd weer net 14 spelers op die veld gehad ná Ben Franks se geelkaart. Tog kon dit die vyftigtal nie verhinder nie – die All Blacks se eerste teen die Wallabies sedert 2003 en die eerste in Nieu-Seeland.
Steve Hansen, die All Black-afrigter, se span is nou onoorwonne in 19 agtereenvolgende toetseen het 20 jaar laas op Eden Park verloor.
Australië het in 2002 laas ’n hand op die Bledisloe-beker gehad – en ná gister lyk dit of dié trofee permanent in Nieu-Seeland gaan bly.
SLAGTING IN SYFERS
Die hoeveelheid meter wat die Aussie-heelagter, Israel Folau (regs), met die bal afgelê het. Hy het twee keer die lyn gebreek.
Die All Blacks se binnesenter, Ryan Crotty, en heelagter, Ben Smith, het gister albei vier besoekende verdedigers geklop. Die beste van die Aussie-aanvallers was Folau, met drie.
Niemand het meer suksesvolle duikslae uitgevoer as die All Black-slot Sam Whitelock se 12 nie. Die besoekers se flank Michael Hooper het altesaam drie duikslae verbrou.
Die All Black-kaptein, Richie McCaw (links), was oudergewoonte ’n doring in Wallaby-vlees by die afbreekpunte. Hy het drie keer omgekeerde besit gewen.