Share

Bokkie Gerber: SA rugby is dinosourus in Jurassic Park

Dis goor.

Ons is maar weer net ’n soort strooijonker in Superrugby.

Vandag sal daar baie ou koeie uit baie ou slote gehaal word om te verklaar waarom Suid-Afrika se vertoningslys in Superrugby so ’n vrot refleksie is van ’n land wat as ’n wêreldrugbykrag beskou word.

My stuiwer in die armbeurs is dat ons verleer en vergeet het dat rugby bal-in-die-hand en met vaart en vernuf suksesvol gespeel kan word. Superior-kwaliteit, soos die Crusaders gister gewys het.

Ons is egter die laaste dinosourus in Jurassic Park.

Ons obsessie met makrospelers, wat met die minimum risiko speel, hou ons daar vasgevang.

Die profete hier wat vas geglo het dat die Crusaders geklop kan word omdat hulle benadering van bal-in-die-hand hulle kwesbaar maak teen ’n konserwatiewe en eendimensionele benadering soos die Sharks s’n, het hopelik nou ook die lig gesien. Ons wyse van speel en kies, is uitgedien – finish en klaar.

Jake White se wedstrydplan het geflop. Ware voetballers het die gladiators verslaan. Die punt wat die Crusaders gister gemaak het, is dat ’n megapak soos die Sharks s’n, wat van fase tot fase drukrugby speel, geklop kan word deur skeppende spel van teenstanders. Boelierugby het sy beperking.

Van die 19 Superrugbytitels waarvoor daar sedert 1996 gespeel is, het Suid-Afrikaanse spanne (lees Blou Bulle) nou drie gewen. Australiese spanne het van die vorige 18 ook drie gewen. Nieu-Seelandse spanne het 12 van die vorige 18 titels verower. Nou is dit weer ’n Aussie- en Kiwi-span in die eindstryd, wat Suid-Afrika die groot Super-vrotkol maak.

Die rapport lees: SA 15%, Australie 16% en Nieu-Seeland 69%.

Ewe goor is dat die orige vier Suid-Afrikaanse spanne in posisies 8, 10, 12 en 14 op die finale puntelys geëindig het. Dit rond een van die swakker van ’n hele klompie swak Super-seisoene vir Suid-Afrikaanse rugby af.

Vergeet van die reis en die lang tydperke weg van die huis af en daai holruggeryde verskonings.

SA rugby beskou dié reeks as ’n geldmaker en tot voordeel van ons rugby. Daarom staan en lei hulle (weliswaar verdeeld) die ­Super-konkoksie.

Vir ’n slag moet SA rugby sy  koördinate vind vanwaar hy op die wêreldkaart van die spel is en dan bepaal waar hy volgende jaar wil wees. En natuurlik hoe hy daar gaan kom.

Dit geld die volle spektrum van SA rugby se breintrust.

Die probleem is egter dat die breintrust besoedel is met die wanbegrip dat als goed en reg is. Dat ’n vergrote Superreeks Suid-Afrika tot voordeel strek, al verwater dit die reeds tam reeks.

En dat ons goed oor die weg kom deur die hekke oop te hou vir spelers van oorsee om vir die Bokke te speel, ongeag die toffie wat die tuisblyers van Bok-rugby kry.

Ook dat ons hierdie besonderse en unieke krag is.

Bols!

Ons uniekheid strek niks verder as ’n astrantheid om die gebreke diep te begrawe en nie daaroor te praat nie. Om eerder knus met mekaar te wees vir die heil van harmonie en lojaliteit.

Bols!

’n Kokkedoor van Saru sê by die afgelope Cravenweek in Middelburg dat Suid-Afrika nie ’n aks sal afwyk van sy tradisionele spel om toetsspanne soos die All Blacks, die Wallabies en Engeland na te boots nie.

Die Springbokke gaan volgens Jurie Roux nie om verskoning vra omdat hulle tradisionele Springbokrugby speel, pleks van om die spel van die All Blacks, Wallabies of Engeland na te boots nie.

Bols!

Ons astrantheid om ons gebreke nie raak te sien of te wil erken nie, is ons ondergang.

Of kan ons nie verander nie?

Jake het die Wêreldbeker in 2007 met die soort spel gewen wat hy vandag nog toepas en predik. Kan hy en sy volgelinge van afrigters hul denke oor spelers en die spel verander?

Ek betwyfel dit.

Die afwesigheid of gebrekkige vernuf by die Cravenweek staaf dat ons rugby gestagneer het rondom krag en grootte. Ons is besig om teen ’n spoed agter te raak.

Vindingrykheid en briljante vernuftigheid het geen plaasvervanger nie.

Dit was darem die een troos van die Cravenweek dat die een span wat hope skills gewys het, die Oostelike Provinsie, ook die week as kampioen afgesluit het.

Suid-Afrika hoef niemand na te boots nie. Hy ís ’n rugbyreus.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 756 votes
No! It's time to move on ...
33% - 377 votes
Vote
Rand - Dollar
18.98
+0.2%
Rand - Pound
23.75
+0.2%
Rand - Euro
20.39
+0.1%
Rand - Aus dollar
12.43
-0.2%
Rand - Yen
0.12
+0.8%
Platinum
924.80
-0.1%
Palladium
983.00
-0.8%
Gold
2,348.51
+0.7%
Silver
27.65
+0.8%
Brent Crude
89.01
+1.1%
Top 40
69,163
+1.1%
All Share
75,089
+1.0%
Resource 10
63,011
+1.4%
Industrial 25
103,779
+1.2%
Financial 15
15,868
+0.4%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE