Min dinge in rugby kan my vandag nog ontgogel, maar die mate van inskiklikheid met die Springbokke se vertoning in die verloor-toets teen die All Blacks het my tog gemesmeraais.
Suid-Afrika het verloor, het hy nie?
Toegegee, dit was veel beter. En nie die Springbokke óf Heyneke Meyer hoef daaroor te bloos nie.
Maar om selfvoldaan te wees, is om muf en sag te raak van al die loesings teen die All Blacks. Dít in teenstelling met die oud-All Black-breier, Graham Henry, wat sê dit sal dié span dalk goed doen om ’n slag te verloor! Wêrelde uitmekaar.
Wat is die werklikheid?
In die eerste helfte het die All Blacks goed vyf keer besit grond toe laat val met lomp aangeë na agter. Goed vyf keer het hulle met steek- en lugskoppies die Bokke se doellyn aangeval, eerder as om met die bal te hardloop. En goed 70% van besit wat agterlangs toe gegaan het, is eerste deur ’n voorspeler ontvang met die doel om die ondersteunende speler deur die Bok-verdediging te kry.
Vir die All Blacks is al drie aspekte ongehoord en vreemd. Dit is nie hoe hulle speel nie. Nie as jy 70% van die tyd in die Bokke se gebied speel nie en nog minder as jy 60% van die besit het.
Hul andersheid teen die Bokke was vreemd. Maar dit was die strategie om die Bokke te klop. En as ’n span van sy gebruiklike doeltreffendheid afwyk en aanpas om ’n spesifieke teenstander te klop, is daar ’n sweem van agting en ’n mate van vrees. Dit is ten minste ’n kompliment vir die Bokke.
Wat minder vleiend is, is dat die statistiek die All Blacks se oorheersing in alle fasette beklemtoon en ’n vraagteken plaas oor hoe goed Suid-Afrika nou eintlik op die dag was. Waar was die oorheersing van die Bokke se mega-agttal, met besit en gebiedsvoordeel so in die All Blacks se guns?
Die All Blacks was in alle opsigte bo-oor die Bokke. En dít op ’n afdag-toets vir hulle.
Tog was dit die Bokke se beste toets vanjaar. Baie beter as toe Wallis hulle so byna in Nelspruit geklop het. Veel beter as teen die Skotte. En strate beter as teen Argentinië en Australië.
Waarom?
Heyneke verdien punte dat hy die “dapper’’ keuse met Handré Pollard gemaak het. Of het Morné Steyn dit vír hom gedoen?
Soos Bakkies Botha, Juan Smith en Gurthrö Steenkamp, is Steyn nou ook een van die oorsese veterane wat uitgeskud is.
Pollard het die temperament. Hy was nie onder veel druk nie. Sy een lynskop uit sy doelgebied met All Black-asems in sy gesig was wel goor. Maar hy’s propvol voetbal.
Met Pollard aan Jan Serfontein se binnekant, het die Bokke nou twee van die Internasionale Rugbyraad se junior spelers van die jaar langs mekaar. Twintig jaar en 21 jaar oud. Bravo!
Dis ook merkbaar dat die span en spelers ’n groter mate van vryheid het om volgens die situasie te speel. Om die bal wyd te dra en met plofkrag en instink aan te val en drieë deel van hul struktuur en wedstrydplan te maak.
Dít is ’n helse groot kopskuif.
Wat net so belangrik is, is dat die Bokke gewys het hulle kán aanval. Dis een ding om dit te wíl doen. ’n Heel ander om dit te kán doen.
Wat kwel? Jean de Villiers se konstruktiewe bydrae as speler is te beperk. Hy is ’n fantastiese kêrel. ’n Goeie kaptein. Maar heg ons nie te veel waarde aan die kapteinskap nie?
John Smit moes op blote spelpeil nooit in meer as 50 toetse gespeel het nie. Die kapteinskap het hom in meer as 100 laat uitdraf.
Is ons nie by dieselfde kruispad met Jean nie?
En wie gaan nou Francois Louw vervang? ’n Speler van buite die Bokgroep soos die veteraan Schalk Burger? Of gaan Warren Whiteley tot die beginspan bevorder word? Of is dit Oupa Mohoje se kans? Meyer is nou by ’n keerpunt, wat meer gaan vereis as om on a wing and a prayer te kies en te vlieg.