Share

Buksie wil SA Bavuma gee

Een van Temba Bavuma se eerste krieketherinneringe is die “genadelose” wedstryde as tjokker in die stofstrate van ’n township in Kaapstad.

Dis daar waar hy sy eerste “groot honderdtal” met ’n geleende kolf gemoker het en sodoende die Sachin van Langa gedoop is.

“Ek is kort soos Tendulkar en die kinders in Langa het gesê ek kolf soos hy,” het Bavuma die afgelope week by die Wanderers aan Rapport gesê.
Dis enkele weke ná sy reuse-kolfbeurt van 162 lopies teen die Australiese A-span in Townsville, Queensland, wat Suid-Afrika se naasbestes gehelp het om ’n skittersege teen die tuisspan te behaal.

Én wat hom glo voorop in die planne van Andrew Hudson en die res van die Protea-keurders geplaas het.

Daar word reeds in die wandelgange gefluister dat die 24-jarige Bavuma, wat gewoonlik op nommer drie uitstap, dié seisoen as aanvangskolwer deur die Lions ingespan sal word.

Dis om hom voor te berei om eersdaags in die plek van die sukkelende Alviro Petersen in die Suid-Afrikaanse toetsspan te speel.

“Ek weet niks van enige sulke praatjies nie, maar as dít is wat ek moet doen om my land te verteenwoordig, sal ek natuurlik alles gee,” sê Bavuma.

“Soos enige speler is dit my droom om vir Suid-Afrika toetskrieket te speel.”

Tog was dit nie altyd die geval nie.

“Ek het baie meer van sokker gehou toe ek jonger was en toe my ouers van die Kaap af na Johannesburg vir werk verplaas is, was die eerste ding wat ek wou doen, om my by ’n sokkerklub aan te sluit.”

’n Krieketbeurs het hom na die erkende Goudstadse krieketskool St. David’s gelok.

“Skielik was ek deel van ’n gevestigde krieketkultuur en omring deur mense wat vir dié sport gelewe het.

“Ek het ál liewer vir die spel geword en mettertyd begin droom om dit my loopbaan te maak.”

Die Lions het Bavuma opgeraap en danksy ’n rits stewige vertonings vir dié franchise, is hy vir die naasbestes se toer na Doer Onder gekies.

Sy beurt – die beste van sy eersterangse loopbaan en ’n rekordvennootskap van 343 lopies om die vyfde paaltjie met Rilee Rossouw – het gewys hy is dalk vir hoër louere bestem.

Die gemak waarmee hy in moeilike omstandighede en teen ’n gedugte boulaanval met erkende name soos Moisés Henriques en Chadd Sayers staande gebly het, was ’n hoogtepunt in my loopbaan, vertel Bavuma.

“Ek het vroeër in die wedstryd ’n beentjie in my een vinger gekraak en dit was die eerste ruk van my beurt al waaraan ek kon dink,” sê hy.

“Gelukkig kon ek deur die ongemak kolf en dit het baie gehelp om Rilee saam met my te hê. Hy is een van my beste vriende en ons kon mekaar moed inpraat toe die lopies in ’n stadium begin opdroog het.”

* Bavuma het pas ’n finansiële graad deur Unisa voltooi en sy eiendomsmaatskappy “begin nou mooi aan die gang kom”.

Hy is ook met die onderkapteinskap van die Lions beloon en is vasbeslote om dié span tot groter welslae as verlede jaar te lei.
Die Johannesburgers was laas jaar in ’n oorgangsfase onder die afrigter Geoffrey Toyana.

“Een van die redes waarom Geoffrey so gewild by die spelers is, is omdat hy die ouens vryheid gee,” sê Bavuma.

“Hy hanteer elke speler soos ’n volwassene, maar dan verwag hy ook ’n seker mate van verantwoordelikheid op en van die veld af.

“Ons het verlede seisoen ’n klomp nuwe spelers bygekry en daardie volwassenheid het soms ontbreek. Dié seisoen is my doelwit dat ons weer in al die weergawes meeding en trofeë wen.”

En hy wil sy kolfgemiddeld, tans ’n raps onder 37, tot 40 opstoot.

“Elke internasionale kolwer se gemiddeld is minstens 40 en dis waarna ek moet mik,” sê hy.

“En natuurlik om nog groot honderdtalle te moker. Dis nie meer goed genoeg om net ’n honderdtal te kry nie. Jy moet aanhou en by 150 of 200 uitkom.”

Net soos in sy dae as kannetjie in Langa.

“Ek gaan gereeld terug soontoe en elke keer is ek meer verbaas oor die talentvolle jong swart spelers.

“Daar is kinders met baie meer talent as ek, maar min van hulle het die geleentheid om in ’n goeie krieketskool te beland. Ek was een van die gelukkiges.”

10 nie uit nie

Die Lions het verlede seisoen ’n bekerdroogte beleef, maar dié span maak binnekort geskiedenis op ’n ander front.

Die ooreenkoms met die tegnologiereus Konica ­Minolta as hoofborg vier dié seisoen ’n tiende jaar – meer as enige ander plaaslike franchise in die geskiedenis.

Dié maatskappy en die Lions is reeds sedert die begin van die 2004-’05-seisoen vennote.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
65% - 150 votes
No! It's time to move on ...
35% - 81 votes
Vote
Rand - Dollar
18.98
+1.2%
Rand - Pound
23.76
+0.8%
Rand - Euro
20.36
+1.0%
Rand - Aus dollar
12.39
+0.8%
Rand - Yen
0.12
+1.4%
Platinum
915.50
+0.4%
Palladium
1,008.50
+0.4%
Gold
2,324.57
+0.4%
Silver
27.36
+0.7%
Brent Crude
88.02
-0.5%
Top 40
68,529
-0.1%
All Share
74,489
-0.0%
Resource 10
61,532
+1.8%
Industrial 25
103,048
-0.9%
Financial 15
15,871
+0.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE