Share

Chad pure goud

Nou ja toe, laat die Chad le Clos-konsert begin!

Ná twee aande van keel skoonmaak het Suid-Afrika se goue swemseun Saterdagaand sy eerste groot noot van die Statebondspele in Glasgow geuiter, toe hy sy kroon in die 200 m-vlinderslag suksesvol verdedig het.

Die 22-jarige Durbaniet het sy eie Spele-rekord verbeter tot 1:55.07 – om met meer as ’n sekonde oor die Australiër Grant Irvine te seë­vier.

Boonop het Sebastien Rousseau sy tweede bronsmedalje van die byeenkoms opgeraap deur met ’n nuwe persoonlike beste tyd van 1:56.43 derde te eindig.

Rousseau was Vrydagaand ook derde in die 400-individuele wisselslag.

Le Clos het uitbundig feesgevier oor sy triomf, waarvoor Irvine en Rousseau hom baie hard laat werk het. Hy was net derde ná die eerste 100 meter en steeds agter Irvine ná 150, maar het daarna een van sy kenmerkende sterk eindpogings geloods om die Aussie vér agter te laat.

Dat hy verlig was, was duidelik – die jong wêreldster se voorbereiding het verlede maand skipbreuk gely toe hy deur ’n griepvirus platgetrek is en hy het Glasgow toe gegaan sonder sekerheid oor wat hy kan verwag.

Daar is nou geen meer onsekerheid nie. Dat hy gesond was, was reeds duidelik toe hy Vrydagaand brons in die 50-vlinderslag (’n nommer waarin hy net 18 maande gelede ernstig begin swem het) losgeswem het, en ’n nuwe persoonlike beste tyd in sy been van die 4x100-vryslagaflos opgestel het.

Saam met Roland Schoeman, Leith Shankland en Caydon Muller het hy silwer in die aflos gewen, sodat Le Clos Sondagoggend wakker geword het met ’n voltal van goud, silwer én brons langs sy bed.

Le Clos het nou medaljes in al drie sy items tot dusver gewen en het nog vier oor. Hy sal die oorweldigende gunsteling wees in die 100-vlinderslag en ook fyn dopgehou moet word in die 200-individuele wisselslag.

In die 4x100-wisselslag- en 4x200-vryslagaflos teiken hy en sy spanmaats ook medaljes . . . 

En sou dít gebeur sal Le Clos meer medaljes huis toe bring as enige Suid-Afrikaner in die geskiedenis.

* Suid-Afrika se ander Olimpiese kampioen, Cameron van der Burgh, het silwer in die 100-borsslag verower nadat hy in die laaste paar meter van die eindronde deur die Engelse tiener Adam Peaty ingehaal is.

Van der Burgh, die wêreldrekordhouer, het ’n yslike voorsprong gehad ná ’n blitsige eerste 50 meter, maar het in die pylvak begin uit­sak en die 19-jarige Brit by hom sien verbyskiet.

Peaty het gewen in ’n nuwe Spele-rekord van 58.94, met Van der Burgh tweede in 59.28.

Die Skot Ross Murdoch was derde in 59.47.

Van der Burgh se fokus verskuif nou na die 50-borsslag, waarin hy steeds die groot gunsteling sal wees. Hy is die afgelope drie jaar onstuitbaar in dié nommer.

* Shankland se uitmuntende Spele duur Sondag voort, wanneer hy in die eindronde van die 100-vryslag swem.

Die 22-jarige Durbaniet het in Saterdagaand se halfeindronde ’n nuwe persoonlike beste tyd van 49.35 opgestel.

Dit was die vierde vinnigste tyd.

Shankland was tot dusver ’n onderpresteerder op groot internasionale byeenkomste, maar het in Glasgow gewys van watter stoffasie hy werklik gemaak is.

Sy opgang is een van die redes waarom Schoeman Vrydagaand die aanbreek van ’n nuwe goue era in SA vryslag voorspel het.

“Daar was vir ’n paar jaar ’n dooie tydperk in ons vryslag, maar soos (Shankland-hulle op 12 en 9 jaar oud) destyds deur ons Athene-welslae geïnspireer is, sal daar oor agt jaar jong Suid-Afrikaners op die toneel wees wat deur ons vertoning gemotiveer is,” het Schoeman aan SuperSport gesê. “Kyk mooi, hierdie is net die begin.”

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Should the Proteas pick Faf du Plessis for the T20 World Cup in West Indies and the United States in June?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes! Faf still has a lot to give ...
67% - 908 votes
No! It's time to move on ...
33% - 440 votes
Vote
Rand - Dollar
18.79
+1.2%
Rand - Pound
23.45
+1.5%
Rand - Euro
20.10
+1.5%
Rand - Aus dollar
12.29
+0.9%
Rand - Yen
0.12
+2.0%
Platinum
921.50
-0.4%
Palladium
963.00
-2.8%
Gold
2,336.64
+0.2%
Silver
27.34
-0.4%
Brent-ruolie
89.01
+1.1%
Top 40
69,556
+1.6%
All Share
75,552
+1.6%
Resource 10
62,555
+0.7%
Industrial 25
104,333
+1.8%
Financial 15
16,164
+2.3%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE