Frans Steyn, die stiefseun van Springbokrugby, het vrede gemaak daarmee dat hy nie weer die Groen-en-Goud sal dra nie.
Dié 27-jarige veelsydige agterspeler het vandeesweek die stilte verbreek oor sy smerige uitval met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru).
Steyn het in Junie, kort voor die Bokke se eerste toets vanjaar teen Wallis, hom aan afrigter Heyneke Meyer se groep onttrek “om oor sy internasionale toekoms te besin”.
Dit volg nadat ’n soveelste krisisvergadering oor ’n kontrakgeskil tussen hom en Saru skipbreuk gely het.
“Die laaste ses maande was ’n baie moeilike tyd en ek wil dit nooit weer oorhê nie,” het Steyn aan EWN gesê.
“Die geskil kom al ’n lang pad en hoewel ek probeer het om daarvan te vergeet, was dit altyd in my agterkop.
“My hart en siel was nie meer daar nie en ek wou nie iemand anders uit die span hou wat regtig wou speel nie.”
Steyn, wat tans klubrugby in Japan vir Toshiba Brave Lupus speel, het gevolglik ’n Bok-kontrak tot ná aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi van die hand gewys.
“In dié stadium ondersteun ek die Bokke nes elke ander Suid-Afrikaner,” sê hy.
“Dit sal lekker wees om eendag weer vir hulle te speel, maar terselfdertyd het ek vrede gemaak daarmee dat dit nie gaan gebeur nie.” – Sportredaksie