Só pleit die voormalige Bok-generaal Gaffie du Toit nadat Pollard gister in Wellington sy grootste toets nóg geslaag het in die naelbyt-nederlaag van 10-14.
Dié toets was Pollard se vierde verskyning in die nommer 10-trui, nadat hy ook in die onoortuigende vertonings teen Argentinië en die vroeëre wegholsege teen Skotland begin het.
Hy was op die bank vir verlede naweek se nederlaag teen die Wallabies, maar is weer ontbied toe Morné Steyn skynbaar die prys betaal het vir sy lynskopblaps in die doodsnikke in Perth.
Die twintigjarige Pollard se vuurdoop gister is vooraf met dié van Du Toit, net mooi 15 jaar gelede, vergelyk.
Du Toit het sy toetsbuiging in 1998 in Bloemfontein onder Nick Mallett se afrigterskap teen Ierland gemaak vóórdat hy in die Curriebeker-reeks verskyn het.
Skaars ’n jaar later het hy as 22-jarige (ook in sy vierde begintoets) ook met die All Blacks ín Nieu-Seeland te doen gekry – in ’n kragmeting waarna ondersteuners steeds as die Nagmerrie in Dunedin verwys.
Die Bokke het met 0-28 slae gekry en Du Toit se Bok-loopbaan kon nooit werklik herstel nie.
“Daai dag was ’n helse leerskool,” sê Du Toit aan Rapport.
“Ek het nie werklik ’n konkrete idee gehad van hoe om die kragmeting te benader nie. Ek het toe net een Superrugby-wedstryd en ’n Curriebeker-reeks op my kerfstok gehad en my ervaring was hopeloos te min.
“Dit het nie saak gemaak hoe ek dáái week geoefen het nie, toe ek op die veld uitdraf, het ek net reaktief opgetree.”
Mallett het ná die nederlaag gal gebraak oor Du Toit se swak vertoning en hom gevolglik gepos.
Du Toit het daarna net nog tien keer vir die Bokke uitgedraf – meestal as veelsydige agterspeler.
“Nick het verkeerd opgetree, maar as afrigter het hy ook ’n les geleer. Dit was ’n oorgangstydperk vir ons land se rugby. Die spel was nog net vir ’n kort rukkie professioneel en dit was maar ’n ontdekkingsreis vir almal,” sê Du Toit.
“Ek dink Nick sou nou die situasie beter hanteer het.”
Hy hoop Heyneke Meyer is geduldiger met die jong Pollard.
“Handré lyk na ’n gebalanseerde speler. Hy het die nodige vaardighede en ek hou van sy skopstyl. Dis ook verblydend dat hy dit geniet om die bal in kontak te neem.
“Dit verskaf aan enige span se aanval ’n ander dimensie – iets wat die Bokke tans benodig. Hy moet ’n ordentlike kans kry.”
Volgens Du Toit is dit deesdae makliker vir groentjies om vroeg by die diepkant ingegooi te word.
“Handré het drie junior wêreldtoernooie en ’n Curriebeker- en Superrugby-veldtog agter die blad,” sê hy.
“Dis baie voordelig en vergemaklik die oorskakeling na internasionale rugby.
“Ek is bly ons jong spelers word getoets, maar dis belangrik dat jy hulle sielkundig goed bestuur.
“Heyneke het gelukkig ’n goeie naam in dié verband.”
Du Toit is ook verheug oor die keuse van Pat Lambie, wat gister as plaasvervanger opgedraf het in Willie le Roux se plek: “Ek hou van die idee van Handré en Pat in die groep.
“Ons moet nie Morné Steyn se waarde ontken nie, maar ek dink sy tyd is verby.”
* Intussen het Pollard ook steun uit ’n onverwagse oord gekry.
Steve Hansen, die All Black-afrigter, meen dié melkbaard kan ’n soortgelyke pad as die Kiwi-talisman Dan Carter stap.
“Ek was in 2003 afrigter van Wallis toe die All Blacks ’n 21-jarige losskakel genaamd Dan Carter vir sy eerste toets teen ons gekies het,” het Hansen aan Christo Buchner gesê.
“Hy het ons stukkend gehardloop én geskop – en hy het ons daai dag met 20 punte verniel.
“Ek het daai dag geleer: dit maak nie saak hoeveel ervaring jy het nie; as jy die talent het, kán jy toetsrugby speel.”