Share

Geen paleisrevolusie op Loftus, maar...

38%.

Dis dié benarde wenpersentasie van die Bulle die afgelope jaar, wat meebring dat daar deesdae onderlangs van vernuwing by Loftus Versfeld gemor word.

Daar word in dié geweste voorspel die komende Curriebeker-reeks is in talle opsigte ’n kruispad vir Frans Ludeke en sy afrigtingspan.

Die Bulle se droewige vertoningslys van drie oorwinnings in tien kragmetings in verlede seisoen se Curriebeker, is vanjaar in die Superrugby-reeks kwalik met vonkelwyn-rugby opgevolg.

Dis nie net die span se negende plek op die Super-punteleer wat pla nie, maar ook die drieë-droogte wat daarmee gepaard gegaan het.

Die Pretorianers het die afgelope jaar saam in dié reekse – 2013 se Curriebeker-veldtog en vanjaar in Superrugby – ’n beskeie 10 uit 26 wedstryde gewen...

Ludeke het aan Rapport gesê hy besef die druk is aan die oplaai.

“Die druk laai op wanneer jy mense in die steek laat. Die Bulle was onlangs baie suksesvol – en dis ons verantwoordelikheid om goed te speel en daardie standaard te handhaaf,” het hy gesê.

“Ons wil ons ondersteuners trots maak met die wyse waarop ons speel en ons skuld hulle en onsself ’n goeie Curriebekerreeks.”

Ludeke meen die span “se prosesse was nie goed genoeg in die Superrugby-reeks nie” en die spelers weet wat reggestel moet word.

Hy verseker die einddoel is – afgesien van wenrugby – om ook aanskoulike rugby te speel.

Jy kan ondersteuners wat dié stelling met ’n knippie sout vat, nie werklik verkwalik nie.

Hoeveel langer kan die Bulle met ’n aanslag, wat grootliks geskoei is op skop-en-hoop-vir-die-beste, volhou wanneer jy voetbôllers soos Handré Pollard en Jan Serfontein in jou agterlyn het?

Hoewel Pollard en Serfontein weens Bok-verpligtinge nie beskikbaar is vir die Curriebeker-reeks nie, is William Small-Smith, Jesse Kriel en Bjorn ­Basson manne wat self nie ’n tweede uitnodiging doellyn toe makeer nie.

Die algemene sentiment in Loftus se wandelgange is dat Ludeke-hulle op die regte pad is met die Bulle.

In teenstelling daarmee hoor jy al meer die argument dat ­Ludeke aan die begin van sy termyn in Pretoria met die vorige breier, Heyneke Meyer, se kalwers geploeg het, maar nou toenemend stoom verloor.   

Barend van Graan, die Blou Bulle-Maatskappy (BBM) se uitvoerende hoof, is dit met Ludeke eens daar is groot druk op die afrigters én bestuur om te presteer.

“Die standaarde wat die Bulle in die verlede daargestel het, sal altyd ons doelwit wees.

“In verlede jaar se Curriebeker-reeks en vanjaar in die Superrugby-reeks het ons nie daaraan voldoen nie,” het Van Graan gesê.

Hoewel daar geen sprake van ’n paleisrevolusie by Loftus is nie, sê Van Graan is “gereelde en doeltreffende kommunikasie” belangrik tussen Ludeke en die raad, asook die onderskeie strukture.

Die Bulle het nie ’n maklike begin nie. Op 9 Augustus is die omgekrapte Leeus op Ellispark aan die beurt, waarna die Westelike Provinsie die volgende naweek op Nuweland in Kaapstad wag.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think corruption-accused National Assembly Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula will survive a motion of no confidence against her?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, her days are numbered
39% - 103 votes
Yes, the ANC caucus will protect her
61% - 162 votes
Vote
Rand - Dollar
19.06
-0.8%
Rand - Pound
24.04
-0.6%
Rand - Euro
20.55
-0.4%
Rand - Aus dollar
12.37
-0.2%
Rand - Yen
0.13
-0.8%
Platinum
901.20
+0.5%
Palladium
997.97
-0.4%
Gold
2,200.01
+0.2%
Silver
24.52
-0.5%
Brent Crude
86.09
-0.2%
Top 40
68,001
+0.5%
All Share
74,204
+0.4%
Resource 10
56,476
+1.5%
Industrial 25
103,644
+0.4%
Financial 15
16,491
-0.2%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE