Hulle het die Highlanders met 31-27 geklop, maar dit was so hittete of Suid-Afrika se Super-kers is finaal uitgedoof.
Die lewe wat in die tuisspan geblaas is deur die plaasvervangers, het hulle aan die gang gehou en die knoop help deurhak.
Die druk wat die Haaie aanvanklik met hul agttal op die manne aan die onderpunt van Nieu-Seeland se Suid-eiland uitgeoefen het, is deur die Kiwi’s soos ’n spons geabsorbeer.
Met die telling 10-0 in die tuisspan se guns binne die eerste kwartier en Jannie du Plessis wat boonop so naby daaraan gekom het om sy eerste drie vir die Haaie in sy 105de wedstryd te druk, wou dit voorkom asof hulle in beheer was.
Hulle het egter toegelaat dat sake algaande uitrafel – en met die wedstryd wat losgetorring het, het dit die Highlanders soos ’n handskoen gepas.
Die Haaie se flou verdediging het sake vir hulself verder bemoeilik, met die Highlanders wat soms toegelaat is om na hartelus deur te wals.
Die stewige Richard Buckman het ’n paar goeie lopies ingekry, maar dit was weer, soos in die sege in die liga-kragmeting hier enkele maande gelede, die senter Malakai Fekitoa, wat die vernaamste doring in die Haaie se vlees was.
Deur bloot reguit te hardloop het hy die tuisspan se verdediging oopgeskeur en hul eerste drie gedruk.
Skielik was hulle op 10-13 terug in die kragmeting en toe die voorryman Kane Hames boonop oorgedraf het – was die Highlanders voor.
Die Highlanders het hul voorsprong net ná rustyd gerek tot 20-13, voordat die Haaie weer toegeslaan het – danksy Bismarck du Plessis.
Nie lank daarna nie het die Haaitenk wéér lewe gekry, toe die plaasvervanger-vleuel Tonderai Chavhanga soos ’n sneltrein langs die kantlyn afgeseil het om in die hoek oor te duik.
Die monster-vleuel Patrick Osborne het ’n groot aandeel gehad in die drie van die senter, Phil Burleigh.
Dít het die Highlanders weer sy neus laat voorkry.
Net nadat Jean Deysel, wat deurgaans ’n yster was, die bal verloor het oor die doellyn – het die Haaie die Highlanders-skrum weer verinneweer.
Dít het toegesien dat Frans Steyn vir die eerste van twee strafdoele kon aanlê.
Die tweede stelskop – ’n minuut voor die eindfluitjie geblaas het – was die uitklophou.