Die kaptein en senter het twee drieë gedruk, waarvan die een in die doodsnikke die Bokke eindelik ’n drie-bonuspunt sien verwerf het ná ’n oënskynlike gesukkel.
“Maar buiten dat ons nie dinge só laat wou los nie, het die wedstryd grotendeels afgespeel soos ons beplan het,” het De Villiers agterna gesê.
“Dit was waarskynlik 10 van die beste minute op ’n rugbyveld waarby ek ooit betrokke was. Ons het nie al ons kanse benut nie en was al in die eerste helfte in staat daartoe om 20 fases aaneen te stapel.”
Volgens die Bok-kaptein het dié vertoning hom moed gegee vir Saterdag se stryd teen die All Blacks. “Die punt is in elk geval dat ons weekliks moet verbeter. Ek is stilweg vol vertroue, maar dit sal harde werk vandeesweek verg. Maar as ons speel soos teen die einde, kan ons wen.”
De Villiers, wat sy 100ste toets twee weke gelede in Wellington gespeel het, het vooraf die veld betree met sy twee dogtertjies in sy arms.
“Ek het nog altyd gedroom ek kon op Nuweland speel met my kinders – en vandag kon ek dit doen met my dogtertjies. En my vrou, wat nog hul boetie dra, was ook hier. Dit was spesiaal en ek voel dieselfde oor die manne se spel.
“Maar die verlede is die verlede. Ons was nie so sleg in die laaste twee toetse in Australasië nie, maar alles is deel van ’n proses en ons moet dié week ons foute uitstryk voor die All Blacks.”
De Villiers het die afrigtingspan lof toegeswaai. “Moenie dink ons afrigters sit net in hotelle rond en eet nie; hulle beplan die hele tyd. Die planne het dié keer goed uitgewerk.
“Al die manne het vandag hul hande opgesteek.”
* Die Bok-breier, Heyneke Meyer, het gisteraand saamgestem dat sy reserwebank die gety kom draai het.
’n Ribbesering aan die agtsteman Duane Vermeulen, gister stellig die beste Bok op die veld, is die grootste kwelling vanoggend. Bryan Habana is van die veld ná ’n stamp teen die kop, maar het nie harsingskudding opgedoen nie.
“Ons het dit deeglik beplan en dinge was heel aan die begin goed, maar frustrasie het ingetree – en ons het eindelik daai bietjie ervaring vanaf die reserwebank nodig gehad om die wa deur die drif te sleep,” aldus Meyer.
“Die skare het ons so mooi gedra teen die einde dat ek trots geword het. Op hulle, op my span, op die reserwebank en my kaptein, wat tien weke buite aksie was voor dié toernooi en steeds só kon eindig.”
De Villiers het twee van die Bokke se drie drieë in die laaste agt minute gedruk om ’n bonuspunt te bewimpel en die Wallabies enige vreugde uit die wedstryd te ontsê.
“Die ou manne het deurgekom. Nadat Duane (Vermeulen) seergekry het, moes Victor (Matfield) as flank gaan uithelp, maar hy was darem ’n losvoorspeler toe hy baie jonger was. Hy het al soms senter ook gespeel, wat sekerlik gehelp het,” het Meyer geskerts.
“Ek was ook tevrede met die spel van Oupa (Mohoje), terwyl Schalk (Burger) uitstekend was.
“Ons is nog nie tevrede nie, maar ons is al amper daar en dinge raak ál beter.
“Dis ’n riem onder die hart dat ons die bal teen die einde so lekker kon rondgooi en dat ons die bal vir 15 tot 20 fases kon behou.
“Jy weet altyd hierdie soort wedstryde kan 50/50 word, maar teen die einde het die manne die knoop deurgehak. Bakkies (Botha), Schalk, Bismarck (du Plessis), JP (Pietersen) en Pat (Lambie) het almal waarde kom toevoeg, soos ons gedink het hulle sou.”