Jaco Kriel se gunstelingfliek is Facing the Giants – ’n al te bekende storielyn oor hoop uit wanhoop op die sportveld.
Tog is dít nie heeltemal waarom die gedugte Leeu-flank daarby aanklank vind nie.
“My loopbaan het tot dusver voorspoedig verloop. Die fliek se boodskap was vir my eerder die belangrikheid daarvan om ’n groot hart te hê as jy ’n sportman is en om te alle tye te probeer uittroon bo die res,” sê Kriel aan Rapport.
Dáái sentiment is verstaanbaar.
Vergeet van Springbok-kleure. Dis deksels moeilik om op die plaaslike rugbytoneel naam as ’n kantman te maak.
“Die mededingendheid van die posisie verstom my steeds. Elke jaar is daar net meer en meer uitstekende spelers wat opduik.
“Ek glo dit spoor ’n speler aan, want jy het geen ander keuse as om uithalerspel te lewer nie, anders verdwyn jy blitsvinnig.”
Selfs in die Johannesburgse span is Kriel se plek nie ’n uitgemaakte saak nie.
“Ons span se groep flanke is uitstekend. As jou spelpeil sak, is jy maklik vervangbaar. Maar coach (Johan Ackermann) hanteer dit uitstekend. Eerder as om druk op ons te plaas, vertel hy vir ons dat ons almal leiers in ons posisie is. Dit skep ’n trots en verantwoordelikheid.”
Ondanks die heersende gevoel van “broederskap” in die groep, verhinder dit nie die 25-jarige baljagter om sy individuele gehalte uit te stal nie.
Hy is een van die voorste driedrukkers in die Curriebeker-reeks, pons meedoënloos gate in ’n teenstander se verdediging, gaps besit by die afbreekpunte én verdedig soos die kenteken op die span se trui.
Maar is hy veelsydig genoeg wanneer dinge taai raak?
“Ek gaan nie ontken dat ek baie hou van ’n wedstryd waar die spel ietwat losser is nie,” sê Kriel.
“Die Superrugby-veldtog het my beslis afgerond. Spel vind baie vinniger plaas en ek dink ek moes nogal as ’n verdediger aanpas.
“Die lesse wat ek geleer het, was waardevol – en ek hoop ek bewys dat ek nie ’n kulkunstenaar met net ’n paar toertjies is nie.”
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.