Langer as drie jaar en vyf toetse laas.
Dís die somber prentjie van die Springbokke se wenrekord teen die All Blacks sedert 20 Augustus 2011, toe Victor Matfield Suid-Afrika in die Baai tot ’n sege van 18-5 gelei het.
Jy kan van Peter de Villiers sê en dink wat jy wil, maar hý was die laaste Bok-breier wat die Swarttruie se ondergang beplan het.
Rapport het by De Villiers kers opgesteek oor dáái dag, asook oor die feit dat hy – naas Nick Mallett (57%) – die beste wenpersentasie (45%) sedert 1997 teen Die Ou Vyand het.
Benewens Mallett en De Villiers, het net een van die ander vier Bok-breiers sedert 1997 – Jake White (33%) – oorwinnings oor die All Blacks behaal.
Carel du Plessis, Harry Viljoen en Rudolph Straeuli was in hul regimes segeloos.
Heyneke Meyer smag na sý eerste oorwinning.
Terwyl Bok-ondersteuners gretig wag dat Meyer Saterdag op Ellispark sjampanje skink, sê De Villiers, deesdae direkteur van rugby aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sy vyf seges was “eintlik eenvoudig”.
Maar: “Dit sal skynheilig wees om die strategieë, wat destyds vir my gewerk het, nou uit te lig.
“As jy vir mense vertel wat vir jou gewerk het, impliseer dit dat jy besig is om vir die Springbok-afrigter voor te skryf wat hy moet doen.
“Ek wil nie as meerderwaardig oorkom nie, want dit is nie ek nie.
“Dit is verkeerd vir enigiemand om Heyneke te kritiseer, want hy het nie self sy aanstelling bekragtig nie.”
De Villiers se benadering was op teenaanvalle geskoei.
In 2009 het die Bokke die eerste keer sedert 1976 die All Blacks drie keer in een seisoen verslaan deur hul teenstanders te wurg, die vaste fasette te oorheers en gevolglik só foute meedoënloos uit te buit.
Kritici het geknor dat die Bokke “anti-rugby” in daai jaar se Drienasies-reeks – die laaste een wat Suid-Afrika gewen het – gespeel het, maar die uitsette kon nie betwis word nie.
Selfs in 2011 in Port Elizabeth het De Villiers se troepe bewys dat hul fisieke hardnekkigheid steeds die Silwervarings kwesbaar kan laat lyk.
Die Bokke het daai dag met 18-5 gewen, danksy vyf strafdoele en ’n skepdoel deur Morné Steyn.
De Villiers bevraagteken egter “waarom mense ewe skielik my vertoningslys teen die All Blacks wil uitlig”.
“Toe ek aan die stuur was, het die meeste mense my altyd afgeskryf, al het ek konkrete planne beraam.
“My land het nie in my vermoë as ’n afrigter geglo nie. Ek het baie tye alleen gestaan.
“Ek is nie seker waarom ek nóú oor my vertoningslys moet praat nie.”
Daar was juis ná verlede jaar se riller van 27-38 op Ellispark bespiegel dat die Bokke in die tweede helfte moes terugkeer na ’n gestruktureerde benadering, eerder as om die hardlooppatroon, waarvoor hulle mettertyd nie fiks genoeg gelyk het nie, vol te hou.
De Villiers wil egter niks sê oor die Bok-patroon nie.
“Dis byna tyd vir die Wêreldbeker – en ek hoop Suid-Afrika kan Heyneke en sy bestuur ondersteun soos hulle my nié ondersteun het nie.”