Whiteley, die besielende kaptein en agsteman van die Leeus, is Saterdag deur die Bok-keurders in die beseerde Springbok-flank Willem Alberts se plek nader getrek vir Saterdag se Rugbykampioenskaptoets in Salta teen Argentinië.
Nadat Whiteley (26) aan Glenwood High in Durban gematrikuleer het, het hy in 2008 sy provinsiale debuut gemaak en 13 keer vir die Haaie gespeel.
Hy het in 2009 ’n draai in die Baai gemaak en nege keer vir die OP-Olifante uitgedraf voordat hy ’n Leeu geword het.
Hy het die Leeus vanjaar tot hul meeste oorwinnings in die Superrugby-reeks aangevoer, is in die Blitsbokke se span ingesluit wat ’n goue medalje op die Statebondspele in Glasgow verower het en nou kan hy dalk sy kans in die Groen-en-Goud kry. – Sportredaksie