In dié katgeveg het een gebrul en die ander gemiaau – en wonder ’n ou hoe lank dit die Cheetahs kan vat om weer enigsins hul stem terug te kry ná die Leeus se verpletterende sege met 60-25.
Was dit nie vir die tower-tweetal van Willie le Roux en Cornal Hendricks nie, was die Cheetahs gisteraand ook sonder aanvallende vonk.
Hulle was immers reeds sonder fors in die skrums, die rolmale, by die afbreekpunte en, o ja, op die verdediging.
En hopeloos sonder dissipline.
Soveel só dat drie spelers in die koelkas moes gaan rus, onderwyl skeidsregter, Marius van der Westhuizen, met selfs nóg meer gedreig het.
En tussendeur het die Leeus partytjie gehou.
Jy het (duidelik) nie hope Springbokke nodig om steeds soos Springbokke te speel nie.
Lionel Mapoe, daardie onderskatte vleuel, se bydrae tot die partytjie was ’n driekuns aan drieë in sy 50ste wedstryd.
Elton Jantjies is ’n Springbok, maar het vir ’n slag ook soos een gelyk.
Vry van druk en dankbaar vir die geleentheid om die wedstryd te begin – was hy planmaker, spelbreker, stelskopper en meer, dae voordat hy op rugbyvakansie na Japan vertrek.
Hy was dít in ’n span wat elkeen sy deel gedoen het.
Anders kon dit vanjaar kwalik, want van sterre had die Leeus mos nie veel nie.
Altans, nie tot nou nie.
Rateltaai Jaco Kriel, Warwick Tecklenburg en kaptein-kanniedood, Warren Whiteley, het ’n ongevestigde Cheetahs-lostrio van die veld gespeel.
En ’n jong maar gevestigde Leeus-voorry het die Cheetahs so pap geskrum dat Coenie Oosthuizen later ook raad-op in ’n geelkaart vasgekyk het.
Sy verwoester was Schalk van der Merwe, wat eens op ’n tyd nie die Cheetahs-span kon haal nie.
En dis hoe dit is vir Leeus-rugby nou.
Heelparty “niemands” het “iemand” geword, tot op ’n punt wat goeie teenstand soos dié skouspelagtig aan flarde gehardloop word.
Ja, wanneer laas kon Leeus-ondersteuners nie wag vir Super-rugby om wéér te begin nie?
Na gister se agt-drieë maaltyd neem almal kennis.
Dit met die wete dat die Leeus se sewe oorwinnings selfs die eens magtige Bulle se Super-poging vanjaar ewenaar.
Dít sê al klaar baie.
En net een minder is as sommige van die spanne wat volgende week uitkloprugby speel!
Op Ellispark vanoggend, tussen die Cheetah-velle deur, lê die vonkelwynproppe van ’n Leeus-span wat van hier af mos net een rigting ken.
Voorwaarts!