Die beseerde yster-flank van die Stormers, Schalk Burger, is een van 25 Springbokke wat die afgelope week nasionale kontrakte van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gekry het.
Burger het vanjaar byna geen rugby gespeel nie weens ’n kniebesering wat hy aan die begin van die Super-reeks opgedoen het, maar is duidelik steeds deel van die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, se toekomsplanne.
Ander beseerde Bokke wat ook kontrakte ontvang het, is Bismarck du Plessis, Coenie Oosthuizen, Chiliboy Ralepelle, Pierre Spies, Bjorn Basson en JP Pietersen. Die Bok-nuweling Duane Vermeulen is ook gekontrakteer, hoewel hy nog nie vir Suid-Afrika uitgedraf het nie.
Die Bok-spelers wat kontrakte ontvang het, is volgens inligting in vyf kategorieë verdeel na gelang van die hoeveelheid toetse wat hulle gespeel het.
Die kontrakte is vir die 2012-seisoen en strek tot 31 Desember. Die spelers sal terugwerkend vir die jaar betaal word al is die kontrakte eers die afgelope week gefinaliseer.
Saru wou geen woord rep oor die Bokke se vergoeding nie, maar na verneem word beloop die verskillende kontrakte tussen R500 000 en R1,1 miljoen per jaar.
Die Bok-spelers ontvang ook wedstrydgeld in die omgewing van R40 000 per toetswedstryd.