Dan Carter en Richie McCaw is ongetwyfeld twee van die wêreld se heel beste rugbyspelers.
Dié twee All Black-sterre het gister in Christchuch weer duidelik gewys waarom hulle so hoog aangeskryf word, deur die Crusaders aan te vuur tot ’n maklike sege van 28-13 oor die Bulls in dié twee spanne se Super-uitspeelwedstryd.
Die Bulls het weliswaar hulself ook in die voet geskiet, maar met Carter en McCaw kookwater en aan die spits van die Nieu-Seelanders se felle aanslag, het die Pretorianers eintlik nooit ’n ware wenkans gehad nie.
Die Bulls het die stryd in die eerste helfte verloor.
Pierre Spies en sy troepe kon nie hond-haaraf maak by die afbreekpunte nie en was in die eerste veertig minute onder geweldige druk in die vaste fasette. Die Suid-Afrikaners se ongedissiplineerde spel in dié tydperk het ook sake vir hulle nóg moeiliker gemaak.
Ná net tien minute se speeltyd het die Crusaders met 6-0 voorgeloop, nadat die Bulls die vlymskerp Carter twee kanse na die pale gegee het. Hy het albei keer raakgekorrel.
Die Bulls het in die eerste vyftien minute van die kragmeting nie minder nie as vyf keer omkeerbesit afgestaan. Dít het hulle op die agtervoet geplaas en die Nieu-Seelanders kon met vryheid maak wat hulle wou.
Carter se skopvoet is meestal giftig, maar die All Black-losskakel het ook gewys hy het ander talente. Die Crusaders se drie het gevolg nadat Carter twee Bulls-verdedigers getrek het en die bal Zac Guildford toe laat loop
het. Dié het puik genael en gaan af-rond om die Bulls verder te laat agterloop.
Die kontras gister tussen Carter en die Bulls se Springbok-losskakel, Morné Steyn, se vertonings sou die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, laat sidder het.
Waar Carter gedy het, het Steyn van meet af gesukkel en swak gespeel. Tot sy skopwerk uit die hand, wat normaalweg nie sleg is nie, was bitter swak – en sy balverspreiding was ook glad nie te waffers nie.
Maar die blaam vir die Bulls se nederlaag kan nie net aan één man gegee word nie.
Die Bulls het gebuk gegaan onder ontydige beserings, met Chiliboy Ralepelle en Bjorn Basson wat albei in die eerste helfte vervang moes word. Akona Ndungane moes vroeg in die tweede helfte óók die veld verlaat, met Jano Vermaak wat toe as skrumskakel diens moes doen en Francois Hougaard wat na vleuel geskuif het.
Die Bulls het darem ná rustyd ingeklim en karakter getoon.
Selfs nadat hul aanvanklike aanvalle op niks uitgeloop het en Carter ’n skepdoel en nóg ’n strafdoel by die Crusaders se telling gevoeg het, het die Bulls steeds manmoedig geveg – en teen die einde drieë deur Dewald Potgieter en Wynand Olivier bewerkstellig. Dit was egter te laat en die stryd was toe reeds gewonne.
McCaw het van voor af gelei en sy hoë werkverrigting en inklimspel was iets besonders om te aanskou.
Daar wás ligpunte vir die Bulls. Hulle het byvoorbeeld ooglopend die tempo van die spel gelig nadat Vermaak agter die skrum ingeskuif het. Hy kan ’n sterk aanspraakmaker op Bok-kleure word as hy meer speelkans kry.