Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Blou tornado

Deur: Marco Botha Port Elizabeth 2012-07-15 00:01
Om teen die Blou Bulle se Cravenweek-span van vanjaar rugby te speel, is soos om kleilat te gooi teen ’n man wat net nooit mis nie. Selfs al slinger hy net elke dan en wan, weet jy dat tot jou beste voorbereiding jou nie van erge pyn gaan vrywaar nie.

Die spelers wat vandag ná ’n moedige verset van menige kweper-en-klei-kolle kan getuig, is dié van die Goue Leeus, wat die hoofwedstryd van die 49ste Cravenweek vir hoërskole gister hier in die Nelson Mandelabaai-stadion met 47-0 aan die Bulle afgestaan het.

Daar het vanaf 08:00 tot met die afskop om 13:40 reeds 17,2 mm reën geval, en dít is vooraf as ’n moontlike gelykmaker vir die wedstryd beskou.

Die Bulle was in hul eerste twee wedstryde monsteragtig verwoestend. Hulle het omtrent elke denkbare bal uit enige denkbare posisie geslinger. Die Leeus was effens meer beredeneerd, maar ook baie goed.

Die wedstryd was egter net agt minute oud toe die Bulle se binnesenter, Rohan Janse van Rensburg, sy eerste van twee drieë vanaf avontuurlustige spel gedruk het. Dié kêrel weeg 100 kg en hy laat dink ’n mens skrikwekkend baie aan Dries Scholtz – daardie destydse bielie van ’n Bul-senter.

Janse van Rensburg sal sake volgende jaar by die Bulle teen onder andere Jan Serfontein, Dries Swanepoel, William Small-Smith en JJ Engelbrecht moet uitspook. Maar heng, dis dán se bekommernis, want dit was hier duidelik waarom hy vanjaar met 19 drieë so ver die land se topdriedrukker in o.19 A-rugby is.

Hy trek ’n reguit lyn doellyn toe en bars deur verdedigers soos die vuis van ’n man wat deur ’n betonblok slaan.

Die Bulle was met rustyd net 10-0 voor. Die Leeus was plek-plek baas in die skrums en het die Bulle tydelik só van goeie aanvalskanse weerhou.

Maar die Baaise son het ná rustyd kop uitgesteek en toe die hemelsluise toetrek, het die Bulle die drieësluis wawyd oop geruk. Hulle het in die tweede helfte ses van hul sewe drieë gedruk. Dit het hul losskakel, Ryno Eksteen, kans gegee om op 40 punte die voorste puntemaker van die week te word. In die geheel is dié ’n skitterende span waarin vyf skole in ’n baie kort tyd tot ’n indrukwekkende eenheid saamgesnoer is.

Dit was wel swaar om te sien hoe een van die beste spanne hier so ’n afranseling van die Bulle kry. Maar net soos in Dinsdag se wedstryd tussen die WP en Bulle was daar geen keer aan hierdie oorweldigende mag nie.

Suid-Afrika gaan volgende jaar ’n bitter sterk o.18-groep hê. Die Bulle en die OP, die ander onoorwonne span, was immers hierdie week van die min uiteindelike ligpunte – ligpunte wat wel vanaf die maan sigbaar moes wees.

* Punte


Blou Bulle 47 (10): Drieë: Rohan Janse van Rensburg (2), Jurie Linde, Thabo Mabuza, Jaco Hayward, Marquit September, Steven Meiring. Doelskoppe: Ryno Eksteen (3). Strafdoele: Eksteen (2).
Goue Leeus 0 (0).

Die groep van 50 spelers, wat op 28 Junie in Kempton Park aan die proewe vir die SA Skole-span sal meeding, is:

Bongile Nonkontwana (BB), Aidon Davis (OP), Akhona Sihunu (Grens), Caswell Khoza (BB), Chad Solomon (WP), Christiaan Massyn (GL), Christiaan Meyer (Valke), Courtne Cupido (Bol), Daniël du Preez (KZN), Dayan van der Westhuizen (BB), Duhan van der Merwe (SWD), Dylon Smith (GL), Edward Schmidt (VSt), Francois Esterhuizen (Bol), Ganfried May (SWD), Gideon Koegelenberg (Bol), Handré Pollard (WP), Heinrich Viljoen (BB), Hyron Andrews (BB), Jakó van der Walt (GL), Jano Venter (Pumas), Jason Worrall (WP), JD Schickerling (WP), Jean-Luc du Preez (KZN), Jesse Kriel (KZN), Johan Bannink (BB), Johan Labuschagne (Valke), Jurie Linde (BB), Justin Phillips (BB), Koch Marx (GL), Leigton van Wyk (WP), Liam Hendricks (WP), Malcolm Marx (GL), Marcus Kleinbooi (BB), Matjikinyane Molapo (BB), Nicholas Janse van Rensburg (BB), Ox Nche (VSt), Pierre Schoeman (BB), Ramone Samuels (WP), Rohan Janse van Rensburg (BB), Rynard Snyman (Griffons), Ryno Eksteen (BB), Sandile Kubeka (KZN), Selvyn Davids (OP), Sergeal Petersen (OP), Stephan Vermeulen (GL), Thabo Mabuza (BB), Warrick Galant (SWD), Wesley Adonis (WP), Wilco Louw (Bol).


«Terug