Rapport

Bok-blitzkrieg

Deur: Stephen Nell Johannesburg 2012-06-16 19:52
Die Springbokke het ’n man gister hier op Coca-Colapark aanvanklik naarstigtelik na ’n mediagids laat soek om te sien wat hul grootste sege in die geskiedenis oor Engeland was.

Hulle was egter in die tweede helfte vir ’n goeie halfuur byna só treurig as wat hulle in die eerste helfte goed was, maar steeds goed genoeg om die toetsreeks teen die Rose met ’n sege van 36-27 te beklink.

Daar sal wel hard gepraat word in môre se videosessie, wanneer die voorbereiding vir die derde toets in Port Elizabeth begin.

Tog was daar gister vroeg reeds geen twyfel oor wie sou wen nie, met die Bokke se blitzkrieg wat twee drieë binne die eerste 10 minute opgelewer het.

Hulle baldraers het die kontak van meet af oorheers en die stryd om die voordeellyn gerieflik gewen terwyl die bal deur fases gedra is.

Die eerste aanslag het geëindig met ’n aanslaan, maar daar was genoeg druk op die Engelse skrum vir die bal om aan die steelkant uit te spat en Willem Alberts het die geskenk dankbaar aanvaar.

Daarna het die Bokke se lugaanval dividende gelewer. Francois Hougaard se hoë skop is terug gewen en nóg puik fasespel het geëindig met Bismarck du Plessis met die bal onder die Rose se pale.

Agt minute gespeel, 12 punte op die bord.

Die Bokke het daardie oorheersing voortgesit, met puik kontinuïteit en skrumwerk wat die Engelse oorhoops gehad het. Die eerste helfte was net-net halfpad verby en die telling 22-3.

Daardie eerste 20 of wat minute was getrou aan die tradisie van puik Bok-vertonings op dié veld. Dis dus hartseer dat die Bokke nie daarop voortgebou het nie.

’n Stukkie flink dinkwerk deur die Engelse skrumskakel Ben Youngs met ’n tikskoppie het vir hulle ’n belangrike drie voor rustyd deur hul losskakel, Toby Flood, opgelewer.

Maar steeds was daar geen rede tot kommer nie. Die Bokke was met 25-10 voor en die Engelse sou drie keer punte moes aanteken om te wen.

Hul sterkpunte het egter in swakpunte verander, met die Engelse wat die bordjies in die skrum verhang het.

Dalk was die eerste helfte ook net só maklik dat die Bokke die Engelse in die tweede helfte onderskat het.

In elk geval was die Rose veel meer doelgerig en het hulle vir die Bokke van hul eie medisyne uitgedis.

Daar was paniek onder die skare van 60 000 toe Youngs twee keer gedruk het – een van die drieë was ’n geskenk met ’n swak ingooi in ’n lynstaan naby die Bokke se doellyn.

Maar die Bokke se temperament het hulle deurgedra, en die wedstryd is uiteindelik met ’n stukkie sjampanje-rugby beklink. JP Pietersen het die dolk deur Engelse harte gedruk.

Hy self was een van die Bokke se uitblinkers, maar daar moet veral van die jong flank Marcell Coetzee melding gemaak word.

Hy is ’n baldraer van uiterste formaat en die Bok-breier, Heyneke Meyer, se besluit om sy deugde bo Heinrich Brüssow s’n te verkies, was duidelik nie ondeurdag nie.

* Punte: Suid-Afrika 36 (25): Drieë: Willem Alberts, Bismarck du Plessis, Francois Hougaard, JP Pietersen. Doelskoppe: Morné Steyn (2). Strafdoele: Steyn (3). Skepdoel: Steyn.
Engeland 27 (10): Drieë: Toby Flood, Ben Youngs (2). Doelskoppe: Flood (3). Strafdoele: Flood (2).

Meer Berigte in Sport

«Terug