Rapport

Konings van Kiwi's

Deur: Louis de Villiers Kaapstad 2012-06-30 23:43
Die Chiefs is gister in Christchurch feitlik verseker van die eerste plek in die Nieu-Seelandse Superrugby-konferensie sonder dat hulle ’n spier hoef te verroer het, toe die Hurricanes die Crusaders op hul tuisveld met 23-22 geskok het.

Min sou dié uitslag voorsien het – en selfs minder indien hulle die grootste gedeelte van die wedstryd kon sien.

Want die Crusaders het die skrums en die lynstane in so ’n mate oorheers dat daar, volgens die meeste rugbywyshede, g’n kans was dat hulle moes verloor nie. Hoewel die tuisspan sonder sterre soos Dan Carter, Kieran Read en Israel Dagg moes klaarkom, was hul plaasvervangers goed genoeg.

By die breekpunt het die Hurricanes, met Jack Lam aan die spits, egter die sewemalige kampioen oneindig frustreer. Al was die Cru­saders lus om die bal te laat loop, kon hulle net ’n enkele drie druk – ’n pragpoging deur Zac Guildford, wat uit sy eie halfgebied op loop gesit het.

Hierteenoor het die Hurricanes-kaptein, die All Black-senter Conrad Smith, twee maal gaan druk; die eerste in Amerikaanse voetbal-styl, met die vleuel Julian Savea wat obstruksie gehardloop het sonder dat ons ou pel Bryce Lawrence daarvoor geblaas het.

Ná die draaislag was daar g’n verdere drieë nie, hoewel die Hurricanes-skrum in ’n stadium heeltemal in duie gestort het.

Maar die tuisspan het min baat hierby gevind – hulle kon nie deurkomplek kry nie en moes op die stewel van die losskakel Tom Taylor staatmaak om hul oorheersing in punte te omskep.

Met ’n skrale 20 minute speeltyd oor, was die Crusaders-voorsprong net vyf punte – en Beauden Barrett se taktiese voet het daarvoor gesorg dat die wedstryd grotendeels in die tuisspan se gebied uitgewoed is.

Soos só dikwels gebeur as ’n span nie sy oorheersing in punte omskep nie, het Barrett in die proses twee strafdoele behaal om die wedstryd vir sy span te beklink.

Dit beteken dat die Sharks Saterdag in Durban met die Bulls sal moet afreken as hulle in die boonste ses wil pronk. Maar as die Bulls op Kingspark koning kraai, beteken dit ’n moontlike tuis-kwarteindstryd vir die Pretorianers.

* Punte: Hurricanes 23 (17): Drieë: Conrad Smith (2). Doelskoppe: Beauden Barrett (2). Strafdoele: Barrett (3).
Crusaders 22 (16): Drie: Zac Guildford. Doelskop: Tom Taylor. Strafdoele: Taylor (5).

«Terug