Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Liefling bêre toks vir eers

Deur: J.J. Harmse Pretoria 2012-05-19 23:54
Bêre maar eers die Liefling-CD... maar moet hom nie heeltemal wegpak nie.

Derick Hougaard is vir eers (weens sy Achilles-besering) klaar met rugby, maar vir uittree sien hy nog nie heeltemal kans nie, het dié 29-jarige losskakel en puntemasjien vandeesweek in ’n eksklusiewe onderhoud aan Rapport gesê.

“Ek gaan eers halt roep en my liggaam kans gee om te herstel van die straf waardeur ek hom die afgelope jaar of wat gesit het,” het die Bulls, Blou Bulle en Saracens se voormalige puntemasjien gesê.

Hougaard was die afgelope maande besig met rehabilitasie om van drie haksening-operasies te herstel – en erken die vordering is nie waarop hy en sy mediese span gehoop het nie.

Hy het nog nie weer sedert daardie rampspoedige dag in Oktober 2010 gespeel nie, toe hy sy haksening in ’n Heinekenbeker-wedstryd tussen Saracens en Leinster geskeur het.

“Ek het net op die oomblik te veel pyn ná ’n strawwe oefensessie – en ná mediese advies het ek besluit om eers op te hou. Ek gaan nou my liggaam en hak kans gee om op sy eie tyd te herstel. Tyd sal leer of ek weer gaan speel, maar ek hoop beslis so,” het Hougaard gesê.

“Ek is beslis jonk genoeg om weer te speel sou ek herstel en daar is genoeg voorbeelde van ander ouens wat ná ’n jaar of wat uit die spel suksesvol was met ’n terugkeer.”

Daar is steeds aanbiedinge vir ’n fikse Hougaard se dienste, met veral die Kings, die Bulls en ’n paar Engelse Premierligaspanne wat op dié wedstrydwenner se knoppie wil druk.

“Ek word gereeld voorgekeer deur ondersteuners wat wil weet wanneer ek weer gaan begin speel. Ek kan net dankie sê vir almal se ondersteuning, gebede en belangstelling, maar vir nou is ek eers op ’n rugby-vakansie.”

Sy kontrak met Saracens verstryk hierdie maand, maar Hougaard is nie nou gepla oor wie sy volgende rugby-afrigter gaan wees nie.

“Ek het intussen by I-Truck begin werk en hulle help my om die sakewêreld beter te verstaan.”

Hougaard trou ook op 24 November met die sangeres Karlien van Jaarsveld en help intussen skoolseuns met skopwerk.

“Ek moes ’n besluit neem hoe lank ek nog gaan aanhou probeer om fiks te kom en weer vanjaar te speel. Met al dié verwikkelinge vir die res van die jaar, gaan ek dus nou rustig wees en my aandag daaraan wy en terselfdertyd my hak kans gee om op sy eie te genees. Rus en gebed en ’n wittebrood is dalk net die antwoord.

“Minstens het die besering gemaak dat ek my trouvrou ontmoet het,” het hy geskerts.

* Een van Hougaard se gewese Springbok-spanmaats, Juan Smith, het weens ’n soortgelyke besering besluit om nie vanjaar enige rugby te speel nie.

Smith het verlede jaar probeer om fiks te wees vir die Wêreldbekertoernooi, maar ook hý moes tou opgooi en ’n verdere operasie ondergaan. Sý laaste wedstryd was in Februarie 2011.
«Terug