Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Pumitas staan vandag breed in Bokkies se pad

Deur: Marco Botha Kaapstad 2012-06-17 00:28
Daar is waarskynlik net een gewaarborgde manier om Nuweland leeg te hou (die jare het gewys dat bekerloosheid Kapenaars nie afskrik nie). En dít is om ’n Ju­nior Wêreldtoernooi-eindstryd tussen Wallis en Argentinië aan te bied.

Daardie aardige vooruitsig kan vanaand slap voor 21:00 werklikheid word indien Nieu-Seeland en Suid-Afrika vóór hul onderskeie halfeindstryde teen die jong Drake en Pumitas dink aanstaande Vrydag se eindstryd in dié o.20-toernooi is hulle reeds beskore.

Op die oog af moet wedstryde teen Argentinië en Wallis mos niks meer as ’n drafstappie neffens die Liesbeekrivier verg nie? Nie noodwendig nie.

Die laaste keer toe Wallis en Nieu-Seeland slaags was, het eersgenoemde met 9-6 gewen. Die uwe het tot die diepe ontsteltenis van sommige lesers geskryf dat die modderige veld in die Danie Craven-stadion die Kiwi’s gepootjie het. Maar Willie Lose, die Nieu-Seelandse rugbykommentator, laat val vandeesweek dat hierdie as die swakste Kiwi-rugbyspan in baie, baie jare beskou word, en hy voorsien niks goeds wanneer sy jong landgenote om 17:00 teen Wallis uitdraf nie.

Indien die Kiwi’s hul eerste eindstryd sedert die eerste o.20-toernooi van 2008 verpas, klink dit mos vanoggend so in die verte in na Suid-Afrika se eerste groot bekerkans, of hoe?

Maar dís ook nie ’n noodwendigheid nie. Argentinië het vlak voor die Junior Wêreldtoernooi in Suid-Afrika kom toer. Die Bokkies het die eerste en derde wedstryd gewen, en die tweede gedeel. Die laaste wedstryd in die Craven-stadion was egter ’n gemors. Die Bokkies het met 13-5 gewen, maar was ongetwyfeld die swakkere van die twee spanne.

Argentinië het hulle voorlangs geroer, en powere skakelwerk onder die Suid-Afrikaners het skitterende agterspelers soos Jan Serfontein en Paul Jordaan uit die wedstryd gehou.

Serfontein is ’n binnesenter duisend, en dit sal hoogs verdag wees indien hy ná sy fenomenale toernooi nie ’n benoeming van die Internasionale Rugbyraad ontvang vir junior speler van die jaar nie.

Die Bok-span wat vanaand speel, lyk wel effens anders as toe. Die 18-jarige losskakel Handré Pollard kry die agterlyn weg en sool die span vorentoe.

Onderskat Suid-Afrika dié span, verloor hy straks sy vierde halfeindstryd in soveel pogings.

Maar, hei, daardie tweede helfte van Dinsdag teen Engeland wil ’n man so hittete laat glo dat dié Bok-span die manpitte het om al die pad te gaan.

* Afskop: 19:15 (SS1 op DStv)
«Terug