Tokyo Sexwale se maatskappy Mvelaphanda kan byna R1 miljard uit die verkoop van aandele in Absa verdien – ’n nuttige bedraggie aan die vooraand van die ANC se leiersverkiesing in Desember in Mangaung.
Sexwale, minister van behuising, word allerweë as ’n voornemende aanspraakmaker op die partyleierspos en ook presidentskap beskou.
Deur Mvelaphanda sal hy een van die grootste begunstigdes wees van ’n besluit die afgelope week van swart aandeelhouers om hul aandeel in Absa te verkoop, verneem Rapport se susterkoerant, City Press.
Die aandeelhouers, wat almal deel is van die Batho Bonke-skema wat deur Sexwale en ander gestig is, sluit in Mathews Phosa, die ANC-tesourier, die politieke ontleder Xolela Mangcu en Sophie Mokoena, ’n SAUK-verslaggewer.
Oudpres. Nelson Mandela se dogters Makaziwe, Zenani en Zindzi Mandela is ook aandeelhouers in die skema.
Die transaksie kan een van die grootste kontant-inruilings in die geskiedenis van swart bemagtiging wees.
Mvelaphanda het ’n 2,28%-aandeel in Absa deur sy 47%-aandeel in Batho Bonke.
Die maatskappy en 1,2?miljoen ander swart beleggers wil nou hul aandele, wat R2,2 miljard werd is, verkoop.
Dit kan Sexwale se bankbalans aansienlik versterk in die ANC se sleutel-verkiesingsjaar.
’n Spesiale resolusie om die bykans 30 miljoen Absa-aandele in te ruil, is die afgelope week op Batho Bonke se algemene jaarvergadering in Sandton bespreek.
’n Batho Bonke-aandeelhouer en senior sakeleier het aan City Pressgesê al die aandeelhouers het briewe ontvang.
’n Woordvoerder van Absa het bevestig Batho Bonke het teen einde Junie ’n 3,9%-aandeel (27,9 miljoen aandele) in Absa gehad.
Sexwale sal deur Mvelaphanda die grootste voordeel uit die voorgenome transaksie trek. Hoewel hy al sy direkteurskappe bedank het nadat hy in 2009 as minister van behuising aangestel is, het Sexwale steeds aandele in Mvelaphanda.
As hy sou besluit om hom in Mangaung verkiesbaar te stel om pres. Jacob Zuma uit te daag, sal geld noodsaaklik wees, maar straks nie genoeg nie.
Prof. Steven Friedman, ’n politieke ontleder, sê geld is “uiters belangrik” in ’n presidensiële veldtog.
Maar volgens prof. Tinyiko Maluleke, ’n politieke wetenskaplike aan Unisa, kon Sexwale in die verlede nie daarin slaag om sy finansiële spierkrag om te skakel in politieke steun nie.
“Wat hy nodig het vir Mangaung is politieke steun – iets wat hy nié het nie,” sê Maluleke.