Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

‘Afrika-lande gaan SA mense lok’

Deur: Llewellyn Prince 2012-08-18 23:49
Suid-Afrikaners gaan voortaan nie meer Europa toe verkas nie, maar na ander lande in Afrika.

Frans Cronje, uitvoerende adjunkhoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), voorspel Suid-Afrika gaan sy vaardighede aan lande soos Nigerië en Ghana begin afstaan. Dié lande tel onder sewe van die tien ekonomies vooruitstrewendste lande in die wêreld.

Die SAIRV se bevinding in 2006 dat meer as ’n halfmiljoen wit mense die land sedert 1996 verlaat het, is die afgelope week deur onafhanklike ondersoeke deur die politieke webwerf politicsweb.co.za gestaaf. Die instituut se navorsing is destyds uit verskeie oorde bevraagteken.

Cronje het die afgelope week gesê nog baie meer mense gaan emigreer.

Emigrasie van veral wit mense het net tydelik afgeneem weens die wêreldwye resessie en ’n kleiner behoefte aan vaardighede in Amerika en Europa.

“Dit gaan weer toeneem sodra die ekonomie verbeter. Maar dan gaan dit nie na die tradisionele emigrasie-bestemmings soos Amerika, Europa of Australië wees nie, maar na Afrika-state.”

Cronje meen Suid-Afrikaners met vaardighede gaan na ander Afrika-state soos Nigerië en Ghana uitwyk.

“Sulke state se stedelike bevolkings neem toe, hulle word meer demokraties en ekonomiese beleggings neem toe. Suid-Afrika gaan sukkel om sy vaardighede te behou.”

Volgens Cronje is in hul navorsing in 2006 ook bevind dat daar weens emigrasie aansienlik meer ouer wit Suid-Afrikaners as jong wit Suid-Afrikaners (tussen 30 en 35 jaar) is.

Daar was ook ’n skerp afname in die getal geboortes van wit kinders in Suid-Afrika.

Dit kan onder meer toegeskryf word aan ’n afname in die getal mense wat kan kinders kry.

Die SAIRV raam nie minder as ’n halfmiljoen (maar ook nie meer as ’n miljoen nie) wit Suid-Afrikaners het die land sedert 1994 verlaat.

Luidens statistieke op politicsweb.­co.za is data ontleed van 19 lande wat Brittanje, Amerika, Australië en Kanada insluit. Dié lande hou data van mense wat in hul lande woon, maar in Suid-Afrika gebore is – die groottotaal is 588?388.

Brigitte Britten-Kelly van die organisasie Homecoming Revolution sê baie emigrante wil terugkom.

“Ons kry sowat 100 navrae per maand van Suid-Afrikaners wat wil terugkeer.”
«Terug