“Pionier, innoveerder, energie-bal, leier, kollega, vriend.”
Dít was gister die beskrywende woorde onder ’n foto van ’n laggende Antonie Roux (54) voor in die ouditorium van die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks).
Sowat 350 kollegas, familielede en vriende het die lewe van dié ontslape hoof van MIH en Naspers se internet-bedrywighede met ’n tikkie Franse flair gevier.
Roux, wat tien jaar lank moedig ’n stryd teen pankreaskanker gevoer het, is in Junie in Heidelberg, Duitsland, ná ’n operasie oorlede.
Sy laaste Facebook-inskrywing voor die operasie lui: “Ek voel die liefde van God, my vrou, kinders, familie en vriende dra my deur.”
Roux se gunstelingmusiek, Michael Bublé wat Frank Sinatra-liedjies sing, is tydens die informele seremonie gehoor.
Daar was deernisvolle toesprake en ’n kort video oor Roux se lewe met verwysings na sy Franse Hugenote-stamlyn.
En uit die impromptu insette van vriende kon mens ’n aansteeklike energie in die gehoor ervaar.
Hierdie “energie” het Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, later in ’n gesprek met Rapport vasgepen in die konsepte van “oop gemoed, jonkheid en ’n varsheid van gees”.
“Dit was Antonie in sy werk – uitdagend, met ’n oop gemoed, die onbekende wêreld in.”
Bekker sê Roux was ’n energie-bal tussen ’n groot span mense.
Hy het as junior tegnikus begin en uitgestyg, gevorm deur tegnologie.
Ton Vosloo, nie-uitvoerende voorsitter van Naspers se direksie, het Roux as “’n warrelwind, ’n tsoenami en ’n getemperde spiraal-spring” beskryf.
Hy het van ’n junior tegnikus in die 1980’s groot hoogtes by M-Net en MWeb in die digitale veld bereik.
“Nou is hy tussen die sterre, soek hy nuwe geleenthede ... Ons salueer jou, Antonie. Dankie.”
Roux se vrou, Sonja, of Sonnetjie soos Roux haar genoem het, het namens haar en die kinders, André, Petronel en Marté, ’n kort bedanking gelewer en gesê dit was ’n “ongelooflike ondervinding”.
“Ja, ons het gedink Antonie is van die hemel. Hy het ’n baie besige werklewe gehad, maar dit was tussen sy vriende.”