Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

‘Beheer by hawe het nie opgelet’

Deur: Leandi Claasen in Kaapstad 2012-05-19 23:43
Die Japanse vistreiler Eihatsu Maru is uiteindelik weer ter see, maar vrae word nou gevra oor hoe dit gebeur het dat so ’n tamaai vissersboot op een van Suid-Afrika se spogstrande beland het.

Vraagtekens hang ook oor die doeltreffendheid van die beheerkamer in die Kaapstad-hawe, wat toegerus is met ’n radarstelsel, maar nie die boot opgemerk het nie.

Die vissersboot het ’n week gelede met 90 ton diesel en 50 ton tuna aan boord gestrand. Die Eihatsu Maru word tans in Kaapstad se hawe gehou.

Terwyl ’n ondersoek aan die gang is na die gebeure sê Pieter van Dalen, DA-skaduminister van land­bou, bosbou en visserye, hy het ’n goeie idee:

“Ons vloot is veronderstel om die kuslyn op te pas, maar dit is duidelik nie die geval nie. Daar is ’n beheerkamer by die Kaapse hawe wat toegerus is met ’n radarstelsel wat die boot se teenwoordigheid moes opgetel het. Dit sou op hul skerms aangedui het dat die boot nie in die regte rigting vaar nie.

“Selfs die mense van Clifton (waar die skip gestrand het) het die beheerkamer gebel om te sê van die groot boot wat op die strand lê. Toe sê die beheerkamerpersoneel hulle weet nie waar Clifton is nie en die mense moet maar die polisie bel.”

Van Dalen sê toe hy Saterdag op die strand aankom, het die vaartuig nog rondgedobber. As die beheerpersoneel vinnig gereageer het, sou die situasie nie handuit geruk het nie: “Ons het hulle gebel om te sê hulle moet kom kyk, toe laat weet hulle hulle het niks opgemerk nie.

“Toe ons die opnames van die radarstelsel gaan trek, kon ons duidelik sien hoe die boot vinnig strand toe beweeg. Dit beteken óf iemand het gesit en slaap in daai beheerkamer óf hulle is geheel en al onkapabel om die monitor te lees.

“Ek hoop eerder hulle het geslaap en is nie onbevoeg nie, want daai boot het oor drie internasionale seestrate gevaar. Dis onwettig en niemand het dit eens agtergekom nie.”

Coen Birkenstock, bestuurder: korporatiewe kommunikasie van die Transnet Nasionale Haweowerheid in die Kaapse hawe, sê: “Internasionale seestrate is afgebakende gebiede waarbinne skepe vaar. Die skip het vermoedelik oor die seestraat suid van die hawe gevaar.”

Birkenstock sê dis nie onwettig nie en die beheerkamer se personeel het korrek opgetree. “Die beheerkamer se radarstelsel is gestel om net skepe binne die hawegrense te monitor. Die personeel in die hawebeheer-geriewe is veronderstel om die skip se bewegings binne die hawe se gebiedsgrense te monitor. Die vissersboot het buite die hawe se gebiedsgrens gestrand.”

Dave Colly, streekbestuurder van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samvo), sê hy weet nie hoekom mense so te kere gaan nie.

“Vliegtuie verongeluk, motors ook, hoekom is daar so ’n groot bohaai elke keer as daar ’n skeepsongeluk plaasvind? Dit gebeur.”

Oor die beheerkamer sê hy: “’n Mens kan tog nie verwag iemand moet die monitor heeltyd sit en dophou nie, veral as hy nie rede het om onraad te vermoed nie.”

Colly sê die skip word as ’n klein kol op die skerm vertoon en enigiemand kon dit misgekyk het.

Maar Van Dalen hou vol: “Ons sit met ’n groot probleem.

“Op die oomblik is daar nie eens gebeurlikheidsplanne agtermekaar vir dié soort rampe nie. Ons sal nou ’n rampfonds moet stig.”

Hy sê die goeie nuus is dat die eienaar van die Eihatsu Maru intussen in Japan opgespoor is.

«Terug