Rapport WEBWERWE/DIENSTE >

Boekgebrek hou nie dié skool terug

Deur: Sipho Masondo 2012-08-04 23:41
Limpopo se leerlinge was ses maande lank sonder handboeke, maar die gr. 10-leerlinge aan Mbilwi Secondary School glo hulle sal die jaar met vlieënde vaandels slaag.

Burgerregte-organisasies en politici looi die nasionale en provinsiale onderwysdepartemente oor die handboekskandaal, maar Cedric Lidzhade, Mbilwi se hoof, sê mense moet ophou verskonings soek.

Lidzhade, wie se skool in Thohoyandou danksy voortdurende goeie uitslae meer as 120 trofeë en verskeie sertifikate gewen het, sê ’n gebrek aan boeke beteken nie daar hoef ’n gebrek aan onderrig te wees nie.

“Ons kan nie sê ons het nie biblioteke, laboratoriums en boeke nie. Geriewe leer nie kinders nie.

“As opvoeders nie toegewyd is nie, sal laboratoriums, biblioteke en boeke wit olifante bly en kinders steeds druip.”

Volgens hom is die hoofrede vir swak uitslae ’n gebrek aan toewyding van hoofde en onderwysers.

“Daar is ’n Chinese gesegde wat lui: ‘’n Vis vrot van die kop ondertoe’, wat beteken wanneer ’n instelling, maatskappy of land misluk, is die leiers die oorsaak.

“Ons kan nie verskonings maak nie. Boeke is belangrik, maar om te sê alles sal ineenstort sonder boeke ... Ek sou jok as ek dit sê.”

Lidzhade sê toe hy besef het handboeke vir die nuwe kurrikulum gaan nie betyds vir sy gr. 10-leerlinge afgelewer word nie, het hy onderwysers gevra om afskrifte te maak van hoofstukke en om ou handboeke uit te deel wat gebruik is voordat die kurrikulum vir uitkomsgebaseerde onderrig (UGO) in 1997 ingefaseer is.

“In wiskunde is faktorisering faktorisering, of jy nou die ou kurrikulum, UGO, of die nuwe nasionale kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklarings (Caps) gebruik.”

Die skool het al in Januarie met wiskunde- en wetenskapklasse vir alle grade op Saterdae begin.

“Ek het nog nooit enige van my onderwysers hoor kla oor die gebrek aan boeke nie, nie een keer nie.”

Die skool, wat in 1979 gebou is en baie op wiskunde en wetenskap fokus, het ’n slagoffer van sy eie sukses geword.

Alle ouers in die omgewing wil hul kinders daar inskryf, wat tot oorvol klasse gelei het.

“Ek het 602 gr. 10’s en die gemiddelde matriekklas het sowat 70 leerlinge. Ons het meer as 2 300 leerlinge, wat sowat 1 000 meer is as wat ons behoort toe te laat.”

Woensdag ná 17:00 was daar leerlinge by Mbilwi wat in groepe gestudeer het.

Rudrani Netshidoni, ’n gr. 10-leerling, sê die laat handboeke het nie ’n invloed op hom gehad nie.

“Een ding waarvan ek seker is, is dat ek sal deurkom, met of sonder boeke,” sê hy.
«Terug