Rapport

Bruin groepe maan staat oor werkwet

Deur: Julian Jansen 2012-07-21 23:52
’n Burgerlike veldtog kom om nuwe wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming te keer.

Minstens drie vakbonde met lede in die Wes-Kaap – Solidariteit, die Bouwerkersunie (BWU), asook die National Certificated ­Fi­shing and Allied Workers’ ­Union (Ncfawu) – sê hulle gaan probeer keer dat die land se rasse-samestelling as ’n maatstaf vir die staatsdiens in alle provinsies gebruik word. Die klem is op die departement van korrektiewe dienste (DKD) in die Wes-Kaap.

Peter Marais, woordvoerder van ’n nuwe Wes-Kaapse drukgroep, die Bruin Bemagtiging Beweging (BBB), het die afgelope week gewaarsku 2 277 bruin en 1 999 wit mense in die DKD se werk is in gevaar. “Die DKD moet weer besin. Hier kom pêre. Die BBB gaan eersdaags ’n leiersberaad van alle groeperings wat hulle in ’n mindere of meerdere mate as afstammelinge van die Khoi-San, bruin bevolking en Griekwas beskou, byeenroep om uit een mond hieroor te praat.”

Die beoogde aksie kom nadat onderhandelinge oor voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming verlede week in die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) afgehandel is.

Solidariteit is tans in ’n hofsaak teen die DKD gewikkel omdat dié staatsdepartement die nasionale demografie in die Wes-Kaap toepas.

Die vakbond tree namens vyf werknemers op en nog vyf gaan binnekort tot die saak gevoeg word.

Solidariteit vra dat die DKD se indiensnemingplan in die geheel onwettig verklaar word.

As die DKD se beleid in die Wes-Kaap toegepas word, sal bruin mense net 8,8% van die DKD-werknemers in die provinsie uitmaak, al verteenwoordig hulle sowat 53% van die ekonomies aktiewe bevolking.

Weerstand teen die maatreëls bou vinnig op.

Envor Barros van Ncfawu het gesê die maatreëls kan “ernstige gevolge inhou vir die bruin werkersklas” en sal nie geduld word nie.

John Jansen, stigterslid en ook oud-Popcru-president, het gesê dit is ’n “tragedie dat die nuwe regering waarvoor bruin mense so hard geveg het, nou sê bruines kan nie bevordering kry nie”.

Dr. Danny Titus van die Bruin Belange Inisiatief (BBI) sê dis ’n brandende kwessie en hoewel gesprekke reeds met Luthuli-huis begin is, moet dit op alle fronte gepak word.

Meer Berigte in Suid-Afrika

«Terug